Een van die grootste swakhede van die onderhandelingsproses tussen die destydse NP-regering en die ANC was dat die NP oor geen mense beskik het wat grondige kennis oor die tegnieke van onderhandeling gehad het nie.
Só het prof. Hermann Giliomee, gerespekteerde historikus, gister [Dinsdag] by ’n byeenkoms van AfriForum in Pretoria gesê. Giliomee het op uitnodiging gepraat oor die foute wat tydens die vroeë jare negentig tydens die onderhandelingsproses gemaak is.
Hy het op die naïwiteit van leiers gewys wat tydens die onderhandelingsproses toegelaat het dat dit in ’n morele debat ontaard het wat hulle uiteindelik nie kon wen nie. “Die NP het geen gesaghebbendes gehad wat kennis gehad het van hervorming, grondwetlike kwessies of onderhandelings nie.
“Die NP het geen strategie gehad nie. Hulle het gedink hulle is besig om ’n tweedehandse motor te verkoop en het geglo die grondwet sal foute besleg en hulle ’n hefboom in die regering gee. Hulle het nooit besef dat die ANC nooit ’n plan gehad het om hulle as ’n volle vennoot te sien nie.