Post by cjm on Apr 14, 2016 8:54:35 GMT
Nederlandse toleransie
Posted By: Joseph Secrève 28 March 2016
“Een koekje van eigen deeg” seg die Kaaskoppe mos wanneer iemand se vuil streek aan ander na hom terugkom, anders bekend as “boontjie kry sy loontjie”.
En dit is wat verlede week hier gebeur het. Ek verwys nou na die gebeure in Oss, ‘n middelgroot stad in die suid-ooste van Nederland met sowat negentig duisend inwoners. Met hul Brabantse dialek, gekenmerk deur die sagte “g” en brei “r”, het hulle die wêreld ore aangesit: “Daar kom geen asielsoekers in ons wyk nie!”
Ja-nee, die Ossenare is onrustig. Vergeet maar van spandoeke, protesborde en petisies. Klippe gooi deur vensters en massademonstrasies voor die deur is “echt ons ding”. Met sy negentig duisend inwoners voel hulle massaal bedreig deur die koms van ‘n hele, asemrowende vier(!) asielsoekers. Hulle is mos almal diewe en verkragters wat die netjiese wyk gaan ontsier, en vroue en kinders sal nie meer veilig oor straat kan loop nie want daar woon nou “gemors” en “ongedierte” tussen ons.
Vir diegene wat dalk kopkrap oor my iewat sardoniese skrywe, wil ek daarop wys dat dit nie ek is wat ewe skielik in ‘n ekstreem linkse getransformeer het nie, maar die Ossenare wat annerkant toe geswaai het.
Oss, Nijmegen en ‘s Hertogenbosch vorm die Rooi Driehoek. Vroeër het dit bekend gestaan as die Katolieke Driehoek, maar sedert die opkoms van sosialisme en die ondergang van die kerk het hierdie Roomse oosterlinge besluit om hul Katolieke geloof te verruil vir Karl Marx se snert. Immers, Marx se moederlief was gebore gewees in Nijmegen, net so teen die wal van die Waalkade, vandaar meen hulle seker dat hulle historiese aanspraak het op sy ideale. Laat staan nog dat marxisme die perfekte nuwe geloof was waarmee die Katolieke hul heksejagte van oudsher kon voortsit teen die “ongediertes”
Ek het daar naby gewoon toe ek in Nederland aangekom het, en die Nijmegenare het ook hierdie neiging om te praat van “’n kameraad van my” in plaas van “’n vriend van my”. Op koue winterdae sien ‘n mens af en toe ‘n Nijmegenaar verbyloop met ‘n warm Russiese sjapka op die kop met die hamer en sekel wat op die voorgewel pronk.
Vandaar dat my nuuskierigheid nogal geprikkel word as ek na hierdie nuutste tirade vanuit Oss kyk. Die ironie steek uit soos ‘n seer duim dat al Holland se groot Kommunistiese voorbokke vanuit daardie wêreld kom. Die leiers van die Socialistische Partij praat almal met daardie verdagte sagte “g” en brei “r” dat ‘n mens byna sou dink dat dit ‘n vereiste is om ‘n partylid te word.
Vir die nuuskieriges wat presies wil sien hoe die Ossenare dink oor hul moontlike nuwe bure, kan ek hulle met hierdie fragment vermaak.
Dit is nou die mense van die universele gelykheid, die mense wat glo dat geen mens onwettig is nie. Ek het tot dusver nog niks gehoor van al daardie groot linkse beterweters soos Klaas de Jonge, Hélène Passtoors, Conny Braam of ander nie. Selfs die Iraans-Nederlandse regsgeleerde professor Afshin Ellian, wat sy doktorsgraad in Boerehaat en Afro-Fascisme (“Die Waarheidskommissie was ‘n juridies-aanvaarbare verhoor gewees”) verwerf het, waarsku nou dat Salafisme “’n giftige sekte is” na aanleiding van die aanslae in Brussel van verlede week.
Dis mos lekker om bomme in iemand anders se agtertuin te gooi, solank jy maar nie aan die ontvangkant daarvan is nie, en dis wat hulle nou ten volle begin ervaar. In die politiek gewaar ek ‘n soortgelyke tendens. Niemand wil dit hardop sê nie, maar hulle het geen idee hoe hulle moet omgaan met hierdie nuwe bedreiging nie. Hulle sal ook nie Verwoerd se toesprake begin lees nie, want hierdie arme drommels is so gebreinspoel met politieke ideale dat hulle kwalik die bome van die bos kan onderskei, vandaar gryp hulle na die enigste wapen wat hulle ken, naamlik protes en massahisterie.
Hoe dit ook sy, sien ons die duidelike tendens van hierdie tyd, naamlik dat begrippe soos universalisme en gelykheid onwerkbare begrippe is. Uiteindelik beteken dit niks anders as opgehemelde kleinburgerlikheid nie, bloot omdat mense nie verby hul eie vooroordele kan kyk nie.
Ek wonder hoeveel Ossenare hierdie ook besef?