Post by cjm on Jun 16, 2016 10:59:58 GMT
Arbeid is groot kwessie wat op plase pla
Deur Jan Bezuidenhout
15 Junie 2016
Terwyl kwelvrae rondom grondhervorming, politieke onsekerhede, transformasie en voedselsekerheid voortdurend in menige boer se agterkop maal, toon ‘n opname dat dié kwessie wat boere die meeste op plaasvlak kwel, met arbeid te doen het.
Dié bevinding is gemaak ná opnames onder boere landwyd gedoen is.
Uit die gekombineerde resultate van twee opnames het dit baie duidelik na vore gekom dat arbeidsprobleme by verre die belangrikste kwessie is wat op plaasvlak pla. Altesaam 71% van die respondente het aangedui dat dié aspek hulle die meeste pla.
Die tweede en derde grootste kwessies wat respondente gepla het, was misdaad (waaronder diefstal en veiligheid) met 47% en finansiële vraagstukke met 42% wat ook as redelik belangrik geag is.
Gesprek oor wat boere pla
Dié opnames is gedoen ná gesprekke met mnre. Louis Meintjes, voorsitter van die TLU SA, en Bennie van Zyl, hoofbestuurder, waarin die behoefte teenoor Landbou.com uitgespreek is om op grondvlak te probeer vasstel wat die kwessies is wat boere pla. Só ʼn opname moes egter nie oor organisatoriese kwessies wees nie.
Die gedagte het mettertyd gestalte gekry en dr. Philip Theunissen, ‘n forensiese rekenmeester van Bethlehem, se hulp is ingeroep om die projek uit te voer. Die doel was om regstreeks die boer op plaasvlak se mening te kry om by die kern van daardie kwessies uit te kom wat hom pla.
Theunissen sê: “Ons is almal bewus van die breë en oorhoofse landboukwessies wat in die media en op kongresse hanteer word. Sake, soos grondhervorming, politieke onsekerhede, transformasie en voedselsekerheid is van die oorhoofse en ook noodsaaklike aspekte wat gereeld bespreek word. Hoewel dit ‘n indirekte invloed op boere oor tyd het, is dit nie noodwendig die kwessies wat boere daagliks op die plaas pla nie.
“Die doel van hierdie navorsing was dus nie om beskrywingspunte vir kongresse bymekaar te maak nie. Voorbeelde kon in die opnames aan boere genoem word, maar hulle is juis aanmoedig om hul eie menings te lug. Daar is ook doelbewus gepoog om spesifiek boere se opinie te kry en nie dié van ‘n organisasie of agent wat namens boere praat nie.”
Aanvoorwerk op kongres/boeredae
Laat in 2015 is die aanvoorwerk by die TLU SA-kongres, die Droëbone Produsente-organisasie en die KZN se No-Till-konferensie gedoen. ‘n Verduidelikende kennisgewing is aan boere uitgedeel met ruimte om hierdie kwessies te lys. Hierdie kennisgewing is ook per e-pos en via Landbou.com elektronies onder boere versprei en ‘n aantal plaaskwessies is sodoende geïdentifiseer.
Die aanvanklike reaksies van boere is toe verwerk en in ‘n vraelys saamgevat wat in April 2016 met die hulp van Landbou.com op die webwerf vir voltooiing deur boere beskikbaar gestel is.
Theunissen sê gegewe die verspreiding en ouderdom van die respondente kan die respons as ‘n goeie verteenwoordiging van die algemene profiel van boere in Suid-Afrika beskou word.
Organisatoriese kwessies en bemarkingsprobleme met onderskeidelik 3% en 7% het die minste op plaasvlak gekwel.
Nie een kwessie wat uitstaan
Theunissen sê die opname wys verder dat nie een enkele arbeidskwessie deurslaggewend vir boere is nie. Minimum lone, onbetroubaarheid, verblyfreg en produktiwiteit is vier aspekte wat bykans tot dieselfde mate op plaasvlak kwel, hoewel minimum lone tog dié een is wat boere die meeste pla. Betogings/stakings en die ongeletterdheid van werkers is die minder belangrike arbeidskwessies wat boere kwel. Die stigting van brande is met 2% die misdaadkwessie wat die minste pla.
Volgens Theunissen kan die gevolgtrekking gemaak word dat die kwaliteit van die werkerskorps en die produktiwiteit wat in ruil vir die vergoeding deur werkers aangebied word, ‘n wesentlike kwessie vir boere op plaasvlak is.
Die minste gekwel
By finansiële kwessies is hoë insetkoste die een enkele finansiële kwessie was wat die meeste boere gepla het. Rentekoerse en die beskikbaarheid van insetversekering is met 3% elk die finansiële kwessies wat boere die minste gekwel het.
Theunissen sê dat die persepsie wat die Regering van boere het, ook vir ‘n beduidende aantal boere ‘n kwessie is wat pla. Hierdie kwessie dra egter nie noodwendig dieselfde gewig as arbeid, misdaad en finansiële kwessies nie.
Theunissen het die inligting uit die opnames verwerk en dit met die TLU SA bespreek. “In wese is ons baie tevrede met die resultate wat na vore gekom het, maar ons is eweneens ook baie beïndruk met die platvorm wat Landbou.com vir ons gebied het om dié navorsing mee te kon doen. Ons meen dis nogal bietjie baanbrekerswerk wat hier gedoen is. Ons het eenparig tot die gevolgtrekking gekom dat ons hierdie voertuig met groot doeltreffendheid in die toekoms kan benut.”