|
Post by cjm on Feb 9, 2014 7:51:31 GMT
selfmoord 2
Was dit selfmoord? Wie sou weet? En as dit was, waarom was dit? Maar dis alles alles normaal as mens 'n busbestuurder is. Ek is. In hierdie besondere geval moes ek my vrag toeriste gaan aflaai in 'n gesogte kusdorp. Dit was reeds aand 'n ruime blou aand toe ons die laaste nek in die rits berge oorsteek en afdaal die draaie af na die see. 'n Lang vrou het op die bank net agter my gesit en elke dan en wan leun sy vorentoe en lek aan die bel van my oor. In die agtertoe-kykspieëltjie kon ek sien hoe haar eggenoot se gesig opblaas en verrooi. Maar dis deel van 'n busbestuurder se roetine. Ek het my mense afgelaai voor die hotel waar ons almal die nag sou tuisgaan dit was 'n reuse-plek. Swartjas hotelbeamptes wag ons in ene pikkewyne en miskien omdat hotelkamers identies is val dit toe so dat ons 3 (lang vrou eggenoot en ek) (maar hy wis dit nie) in dieselfde kamer te lande kom. Maar dis deel van 'n busbestuurder se roetine. En teen die tyd dat hy hulle swaar koffers die trappe opgesleep het was die lang vrou en ek reeds die venster uit oor die afdak af laer op 'n ander dak af met die brandtrap deur die hoteltuin en op die strand. Die nag was fantasties mooi en verlig deur 'n onaardse blou maan agter die berge op iedere bergtop hurk 'n wit geheimsinnige stad die koepels glim in die lig en ons kan plesierige dansmusiek hoor uitsypel uit die stede en af na ons toe. Eendag so sê die lang vrou sal ons net twee swart figuurtjies wees in die strate van een van die stede op 'n bergspits. Toe gaan lê ons op die warm sand en vat aan mekaar se lywe dis alles normaal as mens 'n busbestuurder is. En as die nag laat is loop ons terug na die hotel. Swartjas hotelbeamptes ene pikkewyne wag ons in en vertel ons benoud dat 'n sekere eggenoot huilend navraag kom doen het na sy vrou en dat hy dan kwansuis 'n vreemde man se pet in sy kamer sou aangetref het en hy het 'n graaf kom leen want hy sou optrek en die donder se kop gaan afspit en hy het die venster uitgeklim die afdak af laer op 'n ander dak af met die brandtrap en deur die hoteltuin tot op die strand. Ek het die hotelbe- amptes verseker die man is 'n gek en die hoofkelner 'n fooi in die hand gestop en ons het almal daaroor gerunnik. Toe klim die lang vrou en ek op na ons kamer en gaan lê die bed warm en vat aan mekaar se lywe. Dit is alles deel van 'n busbestuurder se roetine. Die eggenoot het nie weer sy opwagting gemaak nie. Die graaf het ons die volgende môre aangetref langs 'n vars omgedolwe hopie sand. Blykbaar het hy daar 'n graf gegrawe met die bedoeling om my afgespitte kop daarin te plant en ons toe voorgelê. En “n seeskilpad wat in die vroeë môre op die sand uitgekruip het het hom verwar met 'n eier en hom die graf afgestoot en toegeskrop. Daar was nog slegs 'n swak skopping onder die hopie. Maar ons moes verder en kon nie vertoef nie. Ek het 'n nuwe vrag mense opgelaai om hulle die nek in die rits berge oor te karwei na ”n gesogte rivierdorp. 'n Kort vrou op die sitplek agter my het elke nou en dan vorentoe geleun en my in die nek gebyt. In die agtertoekykspieëltjie kon ek bemerk hoe haar man se gesig opblaas en verblou. Maar dis alles normaal as mens busbestuurder is.
1964
Breyten Breytenbach
|
|
|
Post by cjm on Feb 10, 2014 5:00:09 GMT
die boenk
Die boenk is 'n nuwe dier: met 3 oë en 5 bene en dus altesaam 31 tone. Dit dra stewels want dit se voete is teer. Die ore is lank en pesig en bedek met hare wat dien as skokbrekers of klankkussings want die geluide van dié wêreld is te brutaal vir sy oordromme. Sy ore is van meer nut, of dien as vlerke. Alhoewel die boenks lomp in die lug rondval is hulle geharde vlieërs. Hulle leef op land of in die water. Eintlik is hulle gek na water en dis glad nie verrassend om soms as jy jou hande wil was 'n boenk uit die kraan te sien peul nie. Hulle is rustige diere en byna heilig omdat hulle so nutteloos is. Soms in die somer kan jy 'n boenk pylreg- op in die lug sien opvlerk (oor) tot bo-op ”n wolk waar dit dan hemels op die rug gaan lê en snork. Soms loer hulle af oor die rande van die wolke en roep. Dié klank ontstel vele aardlinge want dis kompleet asof hulle onbedaarlik skater oor iets wat belaglik is hier onder. Hulle leef van boomvisse maar hulle klim met moeite want met hulle stewels aan is dit moeilik om vas te trap en te klou. Snags hoor mens hulle in die bome vroetel en as hulle versadig is kraai hulle van die lag met doodernstige gesigte. Ki-ki-ki-ki-ki-ki-ki-ki-ki-ki-ki giggel die wyfies (met plat sterte) en die reuns antwoord met 'n skommelende ku-ku-ku-ku-ku-ku-ku-ku-ku- ku-ku. Hulle sou graag groter geluide wou maak maar omdat hulle bril dra vir hulle swak knippende oë is hulle beperk tot die klank wat die mins moontlike wasem op die brilglase sal blaas. Hulle hou daarvan om oor hul mae te streel.
Breyten Breytenbach
1964
|
|
|
Post by Trog on Feb 11, 2014 4:05:02 GMT
die boenk
... Breyten Breytenbach
1964 Volgens my is dit nie juis 'n storie nie. Vir iets om 'n storie te wees moet iets gebeur, en niks gebeur hier nie. So dit is, wat my aanbetref, bloot 'n vertelling. Professor Cloete verskil blykbaar van my: Prof. T.T. Cloete Departement Afrikaans-Nederlands DIE KORT EN HEEL VORM VAN BREYTENBACH SE DIE BOENK Uittreksel uit Standpunte 146, April 1980, uitgegee deur Nasionale Boekhandel, Posbus 122, Parow, 7500. Dat hierdie skynbaar stukkende verhaal ’n heel struktuur het, is nie te betwyfel nie, al sou dit nog meer geraffineerd en anders wees as wat ek hierbo aangedui het. Daar is ratio in die irrasionele. Die vasstelling van ’n logiese struktuur maak die illogiese gedrag van die boenks frappant. Dit is literêr gewoon dat ’n saak ook deur sy teendeel in plaas van deur bevestiging, uitgewys word. Die verhaal demonstreer die verwarde van die boenkgedrag aan sy eie vorm. Hy projekteer die planloosheid teen sy eie plan. Hy manifesteer die wanorde teen sy eie orde, die bonkige wese deur die geraffineerde vorm. Dit is in 'n geval soos Multatuli se Max Havclaar: ,,Hij was een, vat vol tegenstrijdigheid’ ” binne ’n meervoudig streng ingeraamde vertelling. Bekend is die uitspraak van D.H. Lawrence oor Max Havelaar: ,,it is the greatest mess possible”, waarop die kommentaar van R.P. Meyer in Literature o f the Low Countries is; ,,in spite of its chaotic appearance Max Havelaar is an extraordinarily well controlled and coherent novel.” ,,Die boenk” is ’n dergelike vat vol samehangende teenstrydighede. Die boenks is bv. ,,byna heilig” in 8 maar epikuries in 16. Dié teenstrydigheid is komposisioneel ver uit mekaar geplaas in 8 en 16 maar tog op intiem korrelatiewe punte; die einde van I en II. Die uitmekaarplasing in die fokuspunte stel juis die verband in ’n helder lig. Op ander teenstrydighede kom ek hieronder weer terug. Wat die lengte, in hierdie geval die kortheid van ,,Die boenk” betref, om weer daarna terug te keer: Daar is 'n oormaat aan heelwat dinge in die verhaal: aan oë, bene, tone, ’n oormatige formaat van die ore, Boschagtig, oormatige gelag.* Hierdie oormaat is teenstrydiglik verbind aan 'n tekort in verskillende opsigte. 'n Boenk het bv. 3 oë maar ’n bril is nodig. Dit het vyf bene en een en dertig tone maar stewels is nodig. Die oormaat releveer die tekort en omgekeerd. ’n Belangrike vorm van oormaat is die ekssesiewe en deurmekaar gestaltegewing of gedaantewisseling: baie dierlikheid maar ook baie menslikheid. Die rare is dat die distinktiewe menslikheid eintlik identifiseerbaar is aan toegevoegde dinge wat nie oorspronklik tot die menslikheid éintlik identifiseerbaar is aan toegevoegde dinge wat nie oorspronklik tot die mens behoort nie: stewels en bril, wat ook simptomaties is van hoe die mens deurgaans in die verhaal sy wese geweld aandoen. Sekere attribute kan tot die mens én dier behoort, ore, stert en snork bv., en veral die metaforisering maak dit moontlik dat sekere attribute menslik én dierlik is: gesigte, mae, voete, selfs heilig, wyfie, stert ens. Ons kan in die oorvloedige metamorfose en metaforisering die volgende gedaantes onderskei: voel (hoender? vlermuis? engel?) insek, wurm, gogga, amfibie, hond (vark? bobbejaan? ). Die boenk is nog die een, nog die ander maar eerder almal saam, ongedefinieer in die fyn gedefinieerde struktuur. Daarom onder andere is die boenks ditte, daarom onder andere dra hulle maskers en is hulle gesigloos. Hierdie oormatigheid en uitbundigheid, die teenstrydighede en beweeglikheid nou, vind plaas nie alleen binne ’n gekontroleerde en koherente sisteem nie maar bowendien binne ’n korte. Oorvloed in ’n kompakte vorm. Groot beweeglikheid, groot ore, geluide, ens. in 'n beperkte vorm. Oormatige gedaantewisseling in ’n matige vorm. Baie vertelde in ’n kort vertelling - 'n soort ekwivalent van Müller se verhouding vertelde tyd en verteltyd. Dit alles maak die kort vorm manifest en gee daaraan ’n plus. Daardeur word die boenk ’n oorspanne wese. Die oormatige se oormatigheid word binne die matige vorm frappant. Ten derde: Behalwe die oormatige boenkigheid in ’n kompakte vorm en behalwe die irrasionele gedragswyse in ’n rasionele vorm, is daar ’n ander belangrike saak: die taalkundige abnormaliteite, die illogiese taalgebruik en absurde taalgebruik selfs. Wat die oormatigheid en die irrasionele gedragswyse van hierbo betref, staan dit in omgekeerde verhouding tot die bondige en rasionele vorm. Wat die taalmanifestasie betref, is daar egter ’n ooreenstemmende verhouding: Die baie bene, tone en stewels dui op wat ons geriefshalwe kan noem die verskynsel van die onbestendige in die boenklewe. Hulle val rond (sin 5), is onbestendig sowel op aarde as in die lug, in die water en in die borne, en hulle is eintlik nêrens tuis nie. Vergelyk beskrywings van onbestendigheid in woorde soos vroetel, skommelend, peul, ook opvlerk, (oor), klim met moeite, klou, trap moeilik vas. Dat daar staan hulle is rustig, is deliberaat onwaar, verwant aan die teenspraak dat hulle kraai van die lag maar met doodernstige gesigte. In die vierde plek is daar in ,,Die boenk” ook die manifeste van die ontbrekende. Ons kan alleen van die ontbrekende in ’n literêre teks praat as daar inderdaad iets ontbreek wat verwag is, soos die is in Opperman se kwatryn ,,Skuiling”. Of ons kan van die ontbrekende praat, sonder om lukraak te eis dat dit of dat daar moes gestaan het, as iets so gemanifesteer is, só dáár is, dat mens gedwing word om te vra waar is die ander, waarom is iets onvolledig gestel? Daar is volop gehoors- of oor-matigheid, origheid, volop geluid in „Die boenk”, tot in die vreemde titel en benoeming boenk self. Maar daar is soos in Raka 'n opvallende afwesigheid van die taal - ,,the awareness of the sign itself”, deur anormalisering, in die teks sélf, maak mens daarvan bewus dat die taalgebruik by die boenks ontbreek. Die boenks snork, roep, giggel, kraai, skater, en daar is baie menslikheid in die verhaal, maar die mees menslike geluid, die taal, kom nie voor nie. Dit is die mees ontmenslikende ding in die verhaal. Daar is nog baie meer in hierdie verhaal, bv. die perspektief. As ons ’n toepassing wil maak en sê: die mens is ’n boenk wat nie op aarde leef soos dit vir hom bestem is nie maar romantiese vlugte na die wolke onderneem, ontdekkingsreisiger is in die waters onder die aarde en in die hemele, sy ore uitleen vir ideologieë wat hom in die wolke vervoer, sy taal verloën, ens. ens., dit wil sê as ons sê die mens maak dit bont en hy maak die wêreld nié sy woning nie, dan moet ons daarby voeg dat álle mense nie boenks is nie, want daar is 'n menslike perspektief in die verhaal wat die boenkigheid dophou, en ironiseer en satiriseer. Verder ook nog is daar iets van Raka én Openbaring se „nuwe” mens in ,,Die boenk”. Al wat ek wil sê, is dat ek daarvan bewus is dat daar nog baie meer in hierdie stuk kortkuns is, wat reeds so vol en gevoeg is. Dit is egte kortkuns. * Elf maal ki en elf maal ku Vergelyk hierdie telbare gedrag met die absurde getalle in 1. Die feit dat die wyfies en reuns ewe lank of ewe veel lag, is ook ’n heenwysing na die planmatigheid in die planloosheid.
|
|
|
Post by cjm on Feb 11, 2014 5:12:27 GMT
die boenk
... Breyten Breytenbach
1964 Volgens my is dit nie juis 'n storie nie. Vir iets om 'n storie te wees moet iets gebeur, en niks gebeur hier nie. So dit is, wat my aanbetref, bloot 'n vertelling. Professor Cloete verskil blykbaar van my: Dit hang ook af wie dit skryf. Ek twyfel as so iets uit my pen vloei iemand daarvan notisie sal neem. Dit het Cloete 20 jaar geneem om tot daardie insigte te kom. Ek het dit gesien as ´n stukkie surrealisme, die skepping van ´n mitiese figuur - soos husse met ore of eenhoring perde - wat met ´n bietjie geluk in die volksliteratuur opgeneem kan word.
|
|
|
Post by cjm on Feb 11, 2014 5:14:09 GMT
Anatomieles
Die lig val gloeiend wit oor die ronde kruine van hul koppe, reg in die oopge- saagde, oopgesperde borsholte van die liggaam. Dit is so warm dat die groepie mans kort-kort die sweet van hul voorkoppe en uit hul oë moet vee en dan hul hande teen hul sye vryf, maar sonder om regtig van die gevoel van taai klamheid ontslae te raak.
Hulle weet dat dit die swartpers klonte bloed in die kom van die oopgebreekte ribbes is wat hulle so laat voel, maar Beske se stem bly egalig, afgemete en selfs koel.
,,Dit is die longkwabbe,” sê hy, ,,linkerlong, regterlong.” Hy tel die twee slap, wigvormige lobbe, perserigblou, effens kollerig en slymerig glad, een-een op en laat dit tussen die ribbes terugval. ,,Agter die bruingrys vlies sit die hart,” sê hy, ,,na díe ding sal ons nou-nou kyk !” Hy druk ”n seningrige laag opsy en 'n reus- agtige rooibruin slak lê rustig ingepas bo die sagte ligroos bult van die maag en die kronkelende derms. ,,Dis die lewer,” sê hy onverskillig en druk met sy voor- vinger ”n duik in die meegewende knol.
Sy hande gryp skielik en ”n kronkelderm span soos 'n dik, elastiese gomlastiek- tou in sy hand. Hy grawe dieper en ruk in die bloederigheid. Sy voorarm is rooi- nat en swart drade bloed klou aan die fyn, goue hare vas. Hy beur sy regterhand met die lem ook in onder die skommelende maagsak, saag met sy elmboog en ruk 'n ronderige, bruinpers niertjie in die helder lig in. Hy string die derms uit tussen die swart dye.
,,Ek het dié klein skelm vergeet, dis die galblaas !” Hy draai 'n sakkie wat soos 'n kondoom vol diepgroen water lyk, in die rondte, wen die string op en sny dit met een vinnige haal van die blink lem deur. Hy hou die oop kant versigtig met duim en voorvinger toe en druk die groen sakkie tussen die oop grynsende tande in, ,,Die lewe is maar bitter, nè '' sê hy. Die dun vloeistof spoel oor die ken waarop die bloed reeds bruin opskilfer. Dit druppel soos rondgeslypte toer- malyne waarin die son blits in die lang, kroeserige baardhare.
Sy hande begin al vinniger beweeg in die helder lig. Sy stem dikteer die name soos hy die organe losruk uit hul rustige lêplekke; die pers milt, die vurk van die lugpype, die strot en die hart met sy wit wolke vet en vingerende are. Uiteindelik kom hy regop, vee die nat rooi lem van die bajonet in die gras skoon en kyk na sy lang, mooi hande in die skroeiende son. Hy kyk baie aandagtig na sy hande asof dit iets heeltemal nuut vir hom is, asof dit iemand anders se hande is.
Die rivier is glad en blinkwit (tussen die bome) soos die skerp staal van die bajonetlem. Hulle hang die geslagte aan 'n dik tak op. Sy ingewande hang voor sy stowwerige knieë af oor sy stewels tot op die lang, malse gras.
,,Wat het van sy ballas geword?” vra een van die soldate. ,,Hou jy hulle vir ”n soewenier, Beske ?”
,,Ek weet nie,” sê hy ingedagte. ,,Hy het so te kere gegaan.”
,,God ! Die lewe is maar bitter,” sê die soldaat en grinnik. Hy tel die galblaas op wat tussen die tande uitgeval het. Hy prop dit terug.
,,Of stem jy nou skielik nie saam nie, bliksem!” sê hy en hy spoeg, maar sy mond word nie leeg nie.
PJ Haasbroek
1975
|
|
|
Post by Trog on Feb 11, 2014 8:40:26 GMT
AnatomielesPJ Haasbroek
1975 Nogal heelwat persoonlike assosiasies vir my, hier. Een van my maats se pa was 'n ortopediese chirurg. Hy het ook 'n roman of drie probeer skryf (waarvan een selfs op universiteit voorgeskryf was) en hy was goeie vriende met Piet Haasbroek. Hy (die chirurg) was ook een van die stigterslede van die Afrikaanse Skrywersgilde, wat soms by sy huis vergader het. Ek sal nie verbaas wees as Piet Haasbroek sy feitlike inligting vir hierdie verhaal by hom gekry het tydens 'n werklike lykskouing nie. Die seun, my maat, het later half die kluts kwytgeraak en by die polisie aangesluit nadat hy 2 keer op universiteit uitgeval het. Later van tyd het ek tot die gevolgtrekking gekom dat hy waarskynlik bipolêr was. In ieder geval, hy het uiteindelik opgeëindig in die Koevoete. (Ek het soms so terloops gewonder of hulle verbintenis met Haasbroek iets te doen gehad het daarmee.) Hy het in 1986 dood aan 'n oordosis pille.
|
|
|
Post by cjm on Feb 11, 2014 18:10:04 GMT
AnatomielesPJ Haasbroek
1975 Ek sal nie verbaas wees as Piet Haasbroek sy feitlike inligting vir hierdie verhaal by hom gekry het tydens 'n werklike lykskouing nie. Dit is baie realisties gedoen (weet natuurlik nie hoe akkuraat dit is nie) en dit maak sin dat hy op hierdie manier die inligting versamel het. Ek het op ´n stadium marteling in die 1500´s op die internet nagelees en ´n mens kan op daardie manier ook heelwat inligting kry (natuurlik in ´75 was dit nie moontlik nie). Veral die galblaas in die mond sluit aan by teregstelling want somtyds is die persoon se privaatdele afgesny en in sy mond gedruk terwyl hy nog gelewe het.
|
|
|
Post by cjm on Feb 12, 2014 4:59:24 GMT
...en wat is die betekenis hiervan ? - dit het tog seker ´n betekenis? Breyten se verjaarsdag is op 16 September, so miskien iets outobiografies daarin?
fascistiese pampoen
'n Man het 'n pampoen gekoop vir sy verjaardag die sestiende september. Hy het die pampoen in 'n ou koerant gevou en dit sorgvuldig onder sy arm gehou. Op pad huis toe het die reisigers in die bus hom agterdogtig aangekyk en die kondukteur het ontevrede vlak agter hom sy snor kom stryk. Hy weet nie of dit sy verbeelding was nie maar dit was kompleet asof daar 'n grommende geluid van die pampoen kom. Tuis het die man die eentonige trappe na sy vyfde-verdieping-woonstel blasend opgeklim en hy had moeite om die deur oop te sluit want hy moes die pampoen al stywer onder sy blad vasklem. Sy swartoogdogtertjie het hom kom soen en gesê naand pappa wat het jy onder jou arm. Sy vrou het stuurs iets gebrom en gevra wat nou so danig in die vuil ou koerant mag wees en gekla dat sy moeg is. Die man het gesê dis 'n pampoen wat ek gekoop het vir my verjaardag die sestiende september en sit dit met sorg in die yskas sodat dit vars kan bly. Sy vrou het gesê dat daar vis sal wees vir aandete en die kind het nuwe skoene nodig vir die skool. Skielik was daar 'n kabaal vanuit die yskas en sy vrou het gaan kyk en gegil die verdomde pampoen het die vis opgeëet. Die man het haar probeer gerusstel dis maar net 'n ou pampoen kom laat ons hom op die vensterbank in die aandlug sit om af te koel dis vir my verjaardag die sestiende september. Maar in die môre was die pampoen weg en van die dogtertjie het slegs haar ou skoene onder die bed oorgebly. Die man se vrou het vir dae aaneen geween. Die maan het kleiner geword soms het brokkies daarvan op die aarde geval en opeens een aand was daar 'n groot rooi rollende grommende bal soos 'n pampoen in die naglug. Nou het die man geweet sy dogtertjie is die prinses in die maan. Maar hy was diep ongelukkig. Hy het sy kop vasgehou en gekreun my pampoen my pampoen wat sal ek nou hê om aan te smul vir my verjaardag die sestiende september.
Breyten Breytenbach
1964
|
|
|
Post by cjm on Feb 13, 2014 7:44:55 GMT
Breyten en die pampoen
Die pampoen is fascisties. Die HAT het ´n oppervlakkige verklaring maar dié een lyk beter:
Full Definition of FASCISM 1 often capitalized : a political philosophy, movement, or regime (as that of the Fascisti) that exalts nation and often race above the individual and that stands for a centralized autocratic government headed by a dictatorial leader, severe economic and social regimentation, and forcible suppression of opposition 2: a tendency toward or actual exercise of strong autocratic or dictatorial control <early instances of army fascism and brutality — J. W. Aldridge> [Merriam-Webster]
Die pampoen se fascisme word nie weerspieël in die storie nie (die pampoen lyk daarin meer na ´n dief of mensrower of miskien -vreter). Dus, alhoewel die pampoen beskryf word as fascisties is daar geen getuienis sover sy regeringsvoorkeure, verdrukkingsbegeertes of outokratiese, nasionalistiese neigings aanbetref nie. Die pampoen word dus miskien verkeerdelik as ´n fascis beskou, terwyl hy eintlik ´n mensvreter dief is (die prinses/dogtertjie wat uiteindelik deel van die maanpampoen is). Is die ware natuur van die pampoen nie dus dalk nog laer as die van ´n fascis nie?
As algemene, normale eienskappe van ´n pampoen kan mens sê dat dit ´n min-geagte, goedkoop, volop kossoort is met min voedingswaarde op die koop toe. Jy koop en eet dit net as jy niks beter kan bekostig nie; die arm man se kos.
Die sotheid van die man wat die lae pampoen koop as ´n verjaarsdagpresent vir homself, word net ewenaar deur sy onvermoë om die veragtelike pampoen te sien vir wat hy werklik is. By wyse van spreke het ons hier twee pampoene bymekaar.
As ´n mens nou allerhande lessies hierin wil sien, kan ´n mens sê dat onheil dikwels in die alledaagse skuil en dat Jan Publiek dikwels te onnosel is om dit te sien – stille waters diepe grond, onder draai die duiwel rond.
By wyse van literêre fiksie is die 'ek' in die verhaal nie noodwendig Breyten nie, maar dit is nogtans interessant om dit op hom van toepassing te maak. ´n Mens kan die pampoen sien as die bagasie wat hy met hom saamsleep as ´n lewenspresent. Sy gebondenheid aan Afrikaans en gepaardgaande kultuur – alles doodgewone dinge. Tot, natuurlik, die pampoen sy prinses steel/verorber. Prinses hier, kan alles wees wat vir hom belangrik is.
Interessant is verder dat die prinses swart oë het. ´n Swart/gemengde ras? Voorsien Breyten hier dat sy nageslag/die inheemse bevolking deur sy taal en kultuur (wat vir hom so alledaags en onskuldig soos pampoen is), vernietig word?
|
|
|
Post by Trog on Feb 13, 2014 9:39:52 GMT
Breyten en die pampoenDie pampoen is fascisties. Die HAT het ´n oppervlakkige verklaring maar dié een lyk beter: Ek het nie eers probeer om 'n interpretasie te soek nie. Ek dink nie hierdie storie kan alleen staan sonder Breyten nie. Dit is nodig om te weet wie hy is en dat hy waarskynlik aan die regering van die dag gedink het as Fascisties. Die storie opsigself, soos jy sê , verskaf geen duidelikheid omtrent wat Fascisme is en hoekom die pampoen dan kwansuis Fascisties sou wees nie. Wat die pampoen wel doen is om sy vis en sy kind op te vreet. Ook raak die pampoen verhef tot 'n hoëre wese in die lug waarna mens opkyk. Al hierdie is waarskynlik beduidend. Wat die vis is en wat sy kind is moet mens seker ook betekenis voor soek - miskien staan hulle in vir generiese objekte wat vir individue belangrik is en wat na regte buite die staat behoort te wees, en was dan deur Fascisme opgevreet word. En uiteindelik dan selfs deel word van die Fascistiese wese in die lug. Ook het hy die pampoen vanself in sy huis ingebring, as a present aan homself.
|
|
|
Post by cjm on Feb 13, 2014 17:25:18 GMT
... Ek dink nie hierdie storie kan alleen staan sonder Breyten nie. ... Baie goeie opmerking!
|
|
|
Post by cjm on Feb 14, 2014 5:09:06 GMT
16 September 2001
'n Man het vir hom 'n pampoen gekoop op die Union Square Market in New York City vir sy verjaardag die sestiende September 'n geboorteglips moet herdenk en gevier word daar is nie meer baie oor nie en die wêreld word koud om ons. Hy het reguit en versigtig huis toe geloop met die pampoen in 'n plastieksak want hy het 'n baard (al was dit nou wit) en sy gesig donker soos dié van 'n nomaad en hy was skrikkerig die mense dink dalk hy”s 'n terroris en die pampoen 'n bom. Dit was maar net 'n organies verboude geneties aangepaste produk die ene wang en boude volgestop met die goeie oranje son van groei en verhitting uit die aarde. Hy het die hysbak geneem na die twaalfde verdieping en die woonsteldeur saggies probeer oopsluit. Wat het jy daar het sy vrou gevra. O dis maar net 'n ou watsenaam vir my verjaardag die sestiende September. Al wéér? Het sy vrou uitgeroep. En sy dogter het gesê sy wil niks daarvan hoor nie sy ken haar pa se stories sy wil g'n deel meer wees van sy vrot verbeeldingsvlugte nie. En dis nog nie eens Halloween nie. Maar die man het gesê kyk dis nie my verbeelding nie dis slegs 'n pampoen volgestop met die son van 'n verlede toe ons jonk en vastig was kom ons eet dit môre vir my verjaardag die sestiende September en ons verbeel ons ons is nie hier nie maar in 'n verre land met blou berge en wit strande by die huis ons sal dit uithol en 'n mombakkies maak met 'n kers binne-in ter herdenking van die dooies. Watse huis? Het sy vrou en dogter gemor. Ons het mos nie 'n huis by die huis nie ons is dan daar weggejaag omdat jy jou soos 'n pampoen gedra het. Maar die man het sy ore toegedruk en die vrug buite op die balkon neergesit want die woonstel was vergiftig deur 'n stroom beeldmateriaal uitgespoeg deur die televisie in die eetkamer se hoek dis alles die gevolg van 'n swak dieet die wêreld kan die kak nie meer verwerk nie. En in die nag kon die man nie slaap nie sy kop het gedraai want hy was nog nooit by wysie om enige pampoenstorie oopgeskryf te kry tot op die pit nie en nou was dit amper sulke tyd. Hy het opgestaan en buite op die balkon op sy hurke by die pampoen gaan sit. Versigtig toe-oog om nie te kyk na waar die nag se soom smeul en rook om die afwesigheid van die torings van Babel wat uit die hemel aangeval ontplof het sonder rym of rede. Jy hoef nie bang te wees nie het die man vir die pampoen gefluister. Alles moet tot 'n einde kom die maan is dood vasgespeld in die onderwêreld sy sal jou nie kan kom toor nie môre vroeg sal ons jou rustig met geel monde deel maak van ons doen en late vir my verjaardag die sestiende September daar is nie baie oor nie jy is by die huis by ons. Maar toe die pampoen skielik begin huil het die man geskrik en opgespring en die pampoen ver onder in die straat gesmyt. En polisie en soldate het gekom met 'n geloei uit die doderyk en met maskers en masjiengewere en skynwerpers en die man soos 'n vlieg vasgespeld teen die muur van die balkon. DON'T MOVE DON'T MOVE het hulle deur megafone gebulder. En die man het sy kop vasgehou en uitgeroep: o broers en susters krygshelde van die helder hede dit was 'n glips dit was 'n glips! Dis maar net 'n storie en kyk hoe stukkend lê die woorde nou! Wat sal ek tog hê om te onthou van my verjaardag die sestiende September in New York City?
Breyten Breytenbach
Notas:
1. Breyten het op ´n stadium Amerika toe getrek en hierdie verjaarsdag was ´n paar dae na 9/11.
2. Daar word verwys na sy vorige pampoen storie in die storie self en hierdie weergawe bevestig ook die siening van die aard van die pampoen geopper in vorige poste.
|
|
|
Post by cjm on Feb 14, 2014 17:21:04 GMT
Uit Kannemeyer Geskiedenis 2
Ná die jeugwerk in Groote Schuur publiseer Breytenbach in die jare 1961 tot 1964 verse en prosasketse in Contrast. Die eerste werk wat hy in Parys in die najaar van 1963 voltooi en daarna in 1965-1966 herskryf,* verskyn in 1971 as Om te vlieg: 'n Opstel in vyf ledemate en 'n ode, terwyl die korter prosasketse uit dié jare in De boom achter de maan (1974), Die miernes swel op (1980) en Katastrofes (1964) versamel word. … De boom achter de maan (waarvan die oorspronklike Afrikaanse tekste blykbaar verlore gegaan het) en Die miernes swel op bevat hoofsaaklik stukke wat reeds vroeër in Sestiger, Contrast en De Vlaamse Gids verskyn het en kom merendeels uit die manuskrip van Katastrofes, al is dit oor die algemeen werk van mindere kwaliteit. Basies is die grondtoon - die gepynigde ek wat met 'n absurde wêreld waarin alles aan die ontbind is, gekonfronteer word - dieselfde as dié van Katastrofes, net soos die tegnieke - assosiatiewe skakels, gebruik van fantasie, simbool en groteske, verbrokkelde sinsbou en groot beeldende vermoë - ooreenkom met dié van Breytenbach se prosadebuut uit 1964. Soos in die geval van Om te vlieg breek Breytenbach in al drie bundels met die gewone vertelpatrone en gee hy ‘momentopnames’ (André P. Brink) van werklike katastrofes wat die mens bedreig of van angste wat sy lewe oorheers. Die gevolg is dat die sonderlingste gebeurtenisse - o.m. deur die meesterskap van die verteller - meestal met 'n sin vir die lagwekkende as die gewoonste werklikheid aangebied word of dat 'n sprokieswêreld algaande 'n reële aanskyn kry. ‘Oopmaak’ is bedoel as inset tot Katastrofes (soos die slotstuk duidelik die bundel tot 'n einde bring) en gee 'n beeld van 'n ek wat waarnemend vanuit sy kamer lewe, ‘'n spioen, elke dag uitgestuur op 'n nuwe verkenningstog, vermom onder hoed en baard en pyp en idees en redes en vel’. ‘Kersverhaal’ is 'n voortreflike evokasie van wreedheid tydens 'n (Oos-Europese?) oorlogsituasie in die sneeu en die ys, vertel deur 'n jong dogtertjie met repeterende patrone en die meespeel van sprokiesgegewens en Bybelse verwysings. In ‘Bergen’ oorheers die dood en vrees vir die dood deur die wêreld wat bedreig word deur seemeeue, terwyl Breytenbach in ‘Die boenk’ (vgl. Buddingh' se ‘De bosbesbozzel’) 'n fiktiewe dier met behulp van logiese afmetings en rekenkundige vermoëns tot surrealistiese proporsies opbou, 'n snaakse dier wat laggend neerkyk op die snaakse gedoentes op die aarde. In ‘Selfmoord l’ is die afspring in 'n skeur in die aarde 'n meer enkelvoudige katastrofe, terwyl die surrealistiese oorheers in ‘Wedren’ met die beskrywing van 'n tog per trekker die golwe in vanaf Stockholm na Duitsland. In ‘Geel gevaar’ is die katastrofe die huis wat deur kakkerlakke ingeneem word, in ‘Die geheim van die besondere soldaat se hoed op (militêre) skouers’ tree feitlik 'n figuur uit Hieronymus Bosch te voorskyn en in ‘Sin vir waardes ho! mannekyne’ neem 'n dier die huishouding in en begin hy geleidelik die ek oorheers deur sy enorme vermoë om urine af te skei. ‘Die heer Kleks se kamer’ is die verhaal van 'n man wat sy kamer as 'n landgoed waan en wie se besittings ná sy dood ondersoek word om sy geheime lewe bloot te lê, terwyl daar in ‘Troebel dobbelsteentjies’ iets van 'n eindoordeel in die trant van Kafka of Vestdijk se De kellner en de levenden meespeel. Hierdie prosasketse toon 'n verwantskap met Rabie se Een-en-twintigen Henri Michaux (van wie Bartho Smit enkele stukke in Afrikaans vertaal), maar in die uitbeelding van die ontluisterde mens teen 'n surrealistiese agtergrond, die opbou van 'n sprokiesfeer waarin onskuld en geweld makaber verbind word, die vermenging van dodelike erns en die lagwekkende, die verbluffende beeldende vermoë en die meeslepende verteltrant is Breytenbach se ‘prosas’ in 'n hoë mate iets unieks in Afrikaans.
….
|
|
|
Post by cjm on Feb 17, 2014 17:25:06 GMT
Vele pampoene word in die musiekwêreld gevind. So is daar die vrot pampoen wat saam met die lappop op die ashoop sit. Dit is ´n ou liedjie wat miskien die oorsprong van al die pampoene is. Dan Anton Goosen se Pampoene op die dak.Steve Hofmeyr se Pampoen....en glo my, daar is meer... Daar is vervolgens vele verwysings in Bretyen se gedigte na pampoen. Veral in gedigte wat verband hou met sy verjaarsdag. Sommige voorbeelde – ek gee nie voor dat dit volledig is nie. Die Kommunis onthou… en wanneer dit helder genoeg is sal jy weer jou hande gewaar (die sonmannetjie krimp kleiner by die dag) nou reeds die kleur van verskimmelde pampoen …. bb/66… om 'n kringloop se keer te wil skryf is soos die bou van 'n toring van verdriet wanneer vlamme die einders brand en pampoenkleur tonge se vertel verskiet … draf in NY, 16 September 2007… met 'n koggelpassie bewimpel jy jou asem tot aan die oewer van die Styx waar laas nag se maan nog dobber soos 'n pampoen vol water, 'n skool meeue vlieg stroomaf verby … berig, 16 September 2008. New York… Op Union Square se plaasmark lê stapels boerpampoene waar son haar versoen met die seisoen van sterwe in geboepte spieëls. So flikker en flikflooi die verganklike naderhand op die tong. … paginamagina… sal ek boordjie en gedas pampoenwense vir jou skryf op papier? nee professor! Jy ken tog die metafoor as stoorkamer van toor en van goël waar die engel soos 'n voël wat wil nes bou die wurms van betekenisvertering opgaar … die najaarsdag… Woordvoël is 'n gelukkige ou hy het sy opgegaarde jare soos pampoene op die dak kon pak vir miere en vir voëls die maan sal weer oopvou en verrot tot sien die kind sal sy asse uitgooi oor die see en 'n klip met sy naam in die pampoenland plant … (ek het ontsnap uit die fuik)… het ek soos 'n geboë swerwer die trappies opgeklim tot in die donker vertrek waar ek met al die bitterheid van paaie en die geritsel van skerpioene en die hol voosheid van vrot pampoene soos son-semen oor die landerye wat ek nooit weer sal sien nie by jou wou weet waarom jy my verraai het... Hier skuil ´n tesis. Ek is al ´n bietjie suf terwyl ek die skryf want ek is al op vanaf drie-uur vanoggend om boord op te pas want hulle steel so die pampoene – ek meen druiwe. Ek wou iets snedigs sê oor Breyten se eindelose herhaling – maar toe dink ek aan Derrida en hoe ons vervloek is tot herhaling en aanhaling. In elk geval is daar ´n horde ander temas wat Breyten herhaaldelik opkots. Ek het ´n lys gemaak in een van sy bundels en dit is goed soos dood, maan, wind, vlieg, wond, boom, spikkel, klip, beminde, ruite en so aan. Asof hy bang is ´n mens mis die gedagte. Goeie nag.
|
|
|
Post by cjm on Feb 18, 2014 5:00:29 GMT
Aardrykskundeles
Hulle kom sluip-sluip deur die kreupelhout op die sang van die kinders af sonder om presies te kyk waar hulle trap, want baie oefening het hulle voete bekend gemaak met die bos. Hulle dra hulle wapens soos klere en beduie vir mekaar met handgebare terwyl hulle af en toe glimlag en met troebel oë na die hoek van die son en die wegval van die vlak vallei na die spruit aan die noordekant kyk.
Uit die gras en struike tree hulle in 'n sirkel vorentoe om die harde, warm oopte waarin die skooltjie en 'n groot maroelaboom staan. Die generaal skreeu en die kinders hou op met die melodie of hulle skielik deur meneer Enias Mukunga stilgemaak is. Die generaal wag hom in met sy bene wyd geplant terwyl die son sy skaduwee swart ets op die hardgespeelde grond.
Meneer Enias Mukunga se oë is amper rustig, maar hy hou sy hande plegtig styf voor sy withemp-bors. Hy praat sonder om te pleit oor die kinders wat altyd in die son speel waar hulle nou staan, oor die groot, oop land en die kartelinge van riviere. Dit klink soos 'n aardrykskundeles vir die kinders wat saamhok in die hoek van die klaskamer en aan mekaar vasklou.
Die generaal wys na die kinders en twee manne draf met hulle bosuniforms (hulle lyk soos tiers met bruin en groen kolle) en met hulle karabyne in die swetende koelte van die geboutjie in en dryf die kinders by die deur uit. Die wyse waarop die kinders by die deur uitstroom laat dit soos speeltyd lyk vir meneer Enias Mukunga wat nog steeds praat oor die land of hy 'n aardryks- kundeles gee.
Die generaal lig sy wapen en vuur 'n kort, blaffende sarsie sodat meneer Enias Mukunga op die hardgespeelde grond val en met sy voete lustig skop in die grond van sy aardrykskundelesse.
1975
PJ Haasbroek
|
|