TALIS, ’n opname waaraan 48 lande deelgeneem het, het bevind dat geweld en verwante probleme in Suid-Afrikaanse skole drasties toegeneem het.
Dit blyk uit die verslag dat skole in Suid-Afrika meer sukkel met probleme soos afknoeiery, dwelm- en alkoholmisbruik, diefstal en vandalisme as enige van die ander 47 lande.
Dit is alombekend dat daar in slegs 20% van Suid-Afrikaanse skole sinvolle onderrig kan plaasvind. Gewelddadige voorvalle het ’n uiters nadelige effek op die onderwyssisteem as geheel en dra grootliks tot die onderprestasie van vele skole by.
Dit wil voorkom asof die onderwysowerhede die gewelddadige omstandighede in skole ignoreer. Die gebrek aan dissipline onder leerders is ’n kwessie wat besonderse aandag behoort te geniet. Daar is ’n behoefte aan ’n geïntegreerde plan waarin ouers, onderwysers, gemeenskappe én die onderwysowerhede ’n rol speel. Skoolgemeenskappe sal eienaarskap van hul skole en die uitdagings wat daarmee gepaard gaan moet aanvaar. Aandag aan maatskaplike probleme sal uiteindelik ’n positiewe effek op gemeenskappe se waardesisteme hê.
Religieuse instellings moet deel vorm van die plan, want hierdie stryd vereis dat soveel moontlik rolspelers in gemeenskappe op die idee inkoop.
Ons moet waardes soos respek, verantwoordelikheid, dissipline, etiese optrede, en so meer beklemtoon.