'n Hofsaak wat ’n fundamentele deel van ons grondwetlike demokrasie beslaan, is die uitspraak van regter Sandile Ngcobo in Doctors for Life International v Speaker of the National Assembly and Others 2006 (6) SA 416 (CC). In hierdie saak het die applikant kapsie gemaak teen die parlement se versuim om grondwetlik-verpligte openbare beraadslaging behoorlik deur te voer. Daar is aangevoer - en die hof het hul betoog aanvaar - dat die burgery ingevolge ons deelnemende demokratiese bestel behoorlike toegang moet hê tot geleenthede om ingrypende beleid en wetgewing te debatteer en na te gaan. Die saak vestig dus die beginsel van effektiewe en toeganklike deelnemende demokrasie in ons grondwetlike bestel. Die parlement kan nie kortpaaie neem wanneer nuwe wetgewing deurgevoer word nie. Elke stap moet behoorlik gevolg word en openbare deelname moet so wyd as moontlik gesoek en aangemoedig word.
Gegewe hoe stil-stil en midde-in die feesseisoen hierdie ANC-geleide-wetsontwerpe uitgereik word, en gegewe dat Suid-Afrikaners net tot omtrent 15 Januarie het om terugvoer te gee op hierdie ingewikkelde stelle wetgewing, is dit regtens hoogs betwyfelbaar of hierdie wetsontwerpe aan deelnemende demokrasie gehoor gee.