Alana Bailey, hoof van AfriForum se kultuursake, sê in ʼn verklaring die organisasie het in 2019 ’n peiling onder sy lede onderneem om vas te stel wat hul taalbehoeftes is wanneer hulle gesondheidsorgpraktisyns raadpleeg. Dít in die lig van hospitaalgroepe, die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens en mediese skemas wat aanvoer dat gesondheidsorgkommunikasie in slegs Engels heeltemal voldoende is.
“Dié stelling is kommerwekkend, aangesien Engels die huistaal van minder as 10% van die land se inwoners is,” sê Bailey. Bailey wys op internasionale studies wat bewys dat mense wat trauma beleef of onder emosionele druk verkeer, minder vlot in ’n tweede taal funksioneer. “Ons wou graag vasstel wat ons lede se ervaring in dié verband is,” sê Bailey. .