Post by cjm on Jun 10, 2016 16:58:02 GMT
Die land se ekonomie is in 'n doodloopstraat, sê mnr. Fanie Brink.
‘SA ekonomie in ’n doodloopstraat’
Deur Fanie Brink
10 Junie 2016
Die inkrimping in die land se BBP is nog ’n teken dat die ekonomie in ’n doodloopstraat is, meen ’n kenner.
Statistiek Suid-Afrika het hierdie week ’n skerp daling van -1,2% in die ekonomiese groei van die land, soos gemeet word deur die verandering in die bruto binnelandse produk (BBP), vir die eerste kwartaal vanjaar bekend gemaak. Dit is ’n duidelike aanduiding dat Suid-Afrika se ekonomie in ’n doodloopstraat beland het.
Die algemene ekonomiese kommentaar handel op die oomblik hoofsaaklik oor die noodsaaklikheid van ekonomiese groei, ’n vermindering van die Regering se skuldlas en werkskepping. Die graderingsproses van die land se beleggingstatus is in volle swang en ’n afgradering het reeds onvermydelik geraak.
Terselfdertyd het die ANC-regering baie naïef oor die swak toestand van die ekonomie geword en het geen idee wat rondom hulle gebeur nie. Hulle is steeds oortuig dat hulle sosialistiese en kommunistiese ideologie nogtans hul selfverrykingstatus sal kan volhou.
Sosialisme is nie ’n volhoubare politieke en ekonomiese stelsel nie. Die feit is reeds oor die jare duidelik bewys en dit is geen wonder dat die oud-premier van Brittanje, Magaret Thatcher, jare gelede al gesê het dat “The problem with socialism is that it eventually runs out of other people’s money.”
Die stelsel kan geen ekonomiese groei en voortuitgang skep nie en word uiteindelik ’n bodemlose put waardeur regerings glo dat dit hulle vir ewig aan bewind sal hou. Die toepassing van die stelsel het duidelik ook nie perke nie, met die gevolg dat ’n baie groter deel van die bevolking van sosio-maatskaplike en kindertoelaes afhanklik raak, soos wat die ANC-regering sedert 1994 bewys het.
Vandag word hierdie toelaes in Suid-Afrika reeds aan ongeveer 18 miljoen mense, of 30% van die bevolking, betaal wat nie volhoubaar is nie, veral as die land nie ekonomiese groei kan genereer nie. Kommunisme wat die land sedert 1994 stelselmatig beetgepak en ingesypel het, en wat spesifiek daarop ingestel is om kapitalisme, wat in werklikheid die enigste ekonomiese stelsel is wat volhoubare ekonomiese groei en groter welvaart kan skep, te vernietig.
Hierdie stelsel is in die verlede nie verniet al wêreldwyd as ’n volhoubare politieke en ekonomiese stelsel verwerp nie. Die Suid-Afrikaanse samelewing se toleransievlakke om groter onbekostigbare sosialisme en vernietigende kommunisme toe te laat om verder te ontwikkel, het ongelukkig heeltemal te groot geword. Dit sypel ons samelewing op bykans ’n daaglikse basis in en ons weerstandsvlakke is kommerwekkend laag.
Hoe is dit moontlik dat die ANC-regering nie hierdie basiese ekonomiese beginsel hoe wins en welvaart geskep word, verstaan nie? ’n Eenvoudige eeu oue-beginsel wat in hoofsaak daarom neerkom dat ekonomiese groei en welvaart slegs deur produsente, vervaardigers en diensteverskaffers wat in staat is om winste in die ekonomie te genereer, geskep kan word. Daar bestaan nie ’n ander manier nie.
“Kapitalisme” of “kapitaliste” is vir die meeste swart mense vloekwoorde omdat hulle duidelik nog minder verstaan waar die ekonomiese groei en welvaart vandaan gekom het voor 1994 nie, want dit was beslis nie deur sosialisme of kommunisme geskep nie. Hoe onmoontlik kan dit wees om te verstaan dat die staat vir die grootste gedeelte van sy inkomste van ekonomiese groei wat deur wins in ‘n kapitalistiese stelsel genereer word, afhanklik is van die inkomstebelasting wat daarop betaalbaar is?
Daarom verstaan hulle ook nie dat die vier basiese produksiefaktore wat nodig is om ’n onderneming van die grond af te kry om op ’n volhoubare manier wins te genereer naamlik, grond en grondstowwe, kapitaal, arbeid en bestuur, toegelaat moet word om vrylik in die ekonomie rond te beweeg na waar hul alternatiewe verdienste en doeltreffendheid die hoogste is nie. Sonder dat die pryse wat deur markkragte van vraag en aanbod gevorm moet word deur regeringsinmenging beheer en versteur word.
In Suid-Afrika is grond klaarblyklik die Regering se laaste troefkaart wat hy wil speel om aan bewind te probeer bly sonder dat hy omgee wat van die produktiewe waarde daarvan word. En om werk te skep deur mense op klein stukkies landbougrond, volgens die Nasionale Ontwikkelingsplan wat deur baie kundiges ondersteun word, in armoede te dompel, wat selfs vir swart boere nie langer aanvaarbaar is nie. En om wit kommersiële boere te dreig met wetgewing om grond te onteien wat nie toepasbaar of volhoubaar sal wees nie omdat die ANC nooit oor die fondse sal beskik om hulle op ’n regverdige manier daarvoor te vergoed nie. Ongeag ook van die feit dat sy grondhervormingsbeleid onnodige onsekerheid skep en die land in hongersnood en groter armoede sal dompel.
Die prys en beskikbaarheid van kapitaal word ook deur wetgewing verwring omdat die Reserwebank van mening is dat hy die vraag en aanbod van kapitaal beter as markkragte kan bestuur. Die oorsprong van die belangrikheid wat aan rentekoerse gegee word het sy ontstaan in die mandaat van die Reserwebank om pryse in die ekonomie te probeer stabiliseer, wat in werklikheid die enkele grootste dwaling in die totale ekonomiese wetenskap is. Pryse moet styg as die vraag in die ekonomie groter as die aanbod is.
Goeie entrepreneurs sal hierdie geleenthede raaksien en dit sal produksie, vervaardiging en dienste stimuleer wat uiteindelik weer ’n groter aanbod as die vraag tot gevolg sal hê en pryse sal weer daal. Die belangrikheid wat die meeste ekonome aan die rol wat rentekoerse in die ekonomie speel toedig, het lankal reeds alle perke oorskry. Die verband tussen die inflasiekoers en ekonomiese groei is glad nie so sterk as wat die meeste ekonome dit wil he nie, want daar ’n reeks ander belangriker faktore wat ekonomiese groei bepaal.
Daar bestaan in elk geval geen bewyse dat die Reserwebank se rentekoersbeleid inflasie enigsins kan beheer nie omdat dit geen invloed kan uitoefen op die belangrikste redes waarom inflasie styg nie, soos byvoorbeeld die internasionale stygings in voedsel- en ru-oliepryse, ’n verswakkende wisselkoers, die uitwerking van ernstige droogtes, politieke uitsprake, geadministreerde pryse, sosialisme, ens. Ekonomiese groei word deur wins en wins alleen gedryf en geskep wat nie net deur rentekoste bepaal word nie.
Dit word in werklikheid baie meer deur die pryse van die ander belangrike produksie-insette soos grond en grondstowwe, arbeid en bestuur in verhouding tot die pryse van die produksie-uitsette bepaal, asook die doeltreffendheid waarmee insette in uitsette omskep word.
Daarom is die stimulering van die produksiekant van die ekonomie as gevolg van ’n groter vraag na bepaalde produkte die enigste manier om ekonomiese groei te skep en terselfdertyd die inflasiekoers te verlaag. Op voorwaarde dat die verbruikersvraag in die ekonomie nie voortdurend deur die rentekoersbeleid van die Reserwebank doodgesmoor Minimum arbeidslone wat deur wetgewing voorgeskryf word is in werklikheid suiwer kommunisme en gaan nie met verhoogde produktiwiteit gepaard nie.
Lone word in ’n kapitalistiese stelsel deur die vrye werking van die markkragte bepaal sonder dat die winsgewendheid van ondernemings deur wetgewing benadeel word. Die kwaliteit van die algemene bestuursvlakke in die ekonomie word deur wetgewing in die vorm van swart ekonomiese bemagting verswak omdat geen meriete en prestasie tydens personeelaanstellings in ag geneem word. Kyk maar na al die staatsbeheerde ondernemings wat aan ongekende korrupsie en swak bestuur onderworpe is.
Die vernietiging van ekonomiese groei en toekomstige welvaart deur die kombinasie van ’n sosialistiese en kommunistiese regeringstelsel het die ekonomie in ’n doodloopstraat laat beland wat die skepping van ekonomiese groei en werksgeleenthede verder sal laat doodbloei.
Die herstel van kapitalisme sal die belangrikste besprekingpunt in die gesprekke tussen die Regering, arbeid en die besigheidsektor, wat ook die landbou insluit, moet wees om hierdie transformasieproses om te draai. Indien daar nie hiermee daadwerklike sukses behaal kan word nie sal die besigheidsektor uiteindelik geweeg en te lig bevind word en dan sal die eindpunt van die doodloopstraat vir die ekonomie baie duidelik en finaal in sig wees.
Fanie Brink is ’n onafhanklike landbou-ekonoom en het meer as 40 jaar ondervinding in die landboubedryf in Suid-Afrika. Hy was van 1988 tot 2006 ‘n senior ekonoom en adjunk-hoofbestuurder: Navorsing & Ontwikkeling by Graan SA en is steeds baie betrokke in die landbou as ‘n landbou-ekonoom, adviseur en mentor.