Post by cjm on Sept 7, 2014 17:38:07 GMT
clap2
:applaude:
maroelamedia.co.za/blog/nuus/suid-afrika/afriforum-gaan-saru-se-transformasie-plan-namens-n-groep-016-rugbyspelers-beveg/
AfriForum gaan SARU se transformasie-plan namens ’n groep 0/16 rugbyspelers beveg
7 September 2014
AfriForum sê die transformasie-plan sal beveg word as deel van ‘n klag teen die rassekwotastelsel in Suid-Afrikaanse rugby, wat AfriForum se regspan tans namens ’n groep van ses 0/16-rugbyspelers en hulle ouers voorberei.
Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sal die klag eersdaags by die Internasionale Rugbyraad (IRR) ingedien word. Kriel sê dit sal ook by die Internasionale Hof vir Sportarbitrasie in Lausanne (Switserland) verder gevoer word, indien die IRR nie bereid sou wees om die rassekwotastelsel in Suid-Afrikaanse rugby te verbied nie.
Kriel sê dit is ʼn skande dat SARU met die nuwe transformasie-plan bereid is om rugby en spelers se belange op te offer ter wille van politieke gedienstigheid aan die ANC se rasse-ideologie. “AfriForum sal daarom geen moeite of geld ontsien om SARU se transformasie-plan hand en tand te beveg nie,” het Kriel bygevoeg.
In die klag wat AfriForum namens die 0/16 rugbyspelers gaan indien, sal aangevoer word dat die kwotastelsel tot gevolg het dat daar onregmatig, op grond van ras, teen wit spelers gediskrimineer word.
Kriel sê die IRR en Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) se regulasies verbied uitdruklik enige vorm van rassediskriminasie. “Die klag sal spesifiek verwys na die bepaling, wat tydens die 0/16 interprovinsiale Grant Khomo-week geld, dat daar ten alle tye agt swart spelers op die veld moet wees, asook die kwotavereistes op ander vlakke in rugby, wat die potensiaal het om die spelers in die toekoms te benadeel.”
Volgens Kriel sal die klag ook daarop geskoei wees dat die regering se politieke inmenging in die kies van rugbyspanne, ’n oortreding is van die IRR se regulasie wat politieke inmenging in rugby verbied. “Die besluit om ’n klag by die IRR in te dien, kom nadat SARU geweier het om gehoor te gee aan AfriForum se amptelike versoeke om van die kwotastelsel afstand te doen.”
AfriForum kan volgens Kriel nie stilsit en toekyk hoe jong mense se drome en sportloopbane vernietig word deur rasbehepte politici en sportadministrateurs nie.
Kriel het daarop gewys dat die klag oor kwotas in rugby bloot die eerste stap is en dat AfriForum na die afhandeling van hierdie saak, soortgelyke sake teen kwotas in onder meer krieket, netbal en hokkie sal voer.
Kriel het gesê dat AfriForum ten gunste van sportontwikkeling is, sodat almal die geleentheid kan kry om aan sport deel te neem. ’n Rassekwota-beleid dra volgens hom egter nie daartoe by om nuwe spelers te ontwikkel nie en benadeel talentvolle sportsterre.
“Talentvolle swart spelers word ook deur kwotas benadeel omdat die geldigheid van hulle opname in die spanne voortdurend onder verdenking is, terwyl kwotas talentvolle jong wit spelers van geleenthede ontneem,” het Kriel bygevoeg.