Adriaan Basson, redakteur van News24, beskryf hierdie verskynsel as die sogenaamde korrupsie B-span. Die geharde plunderaars soos die Gupta’s, Zuma en Magashule is die toonbeeld van staatskaping en korrupsie. Net omdat hierdie die geharde kriminele is, beteken egter nie dat korrupsie by hulle begin en eindig nie.
Hoewel Basson korrek is, is dit myle weg van sy en soortgelyke Ramaforia-lyers se aanvanklike siening. Hierdie groepie gelowiges het by die aanvang van Ramaphosa se presidensie verduidelik hoe hy regtig ʼn nuwe dagbreek gaan wees, ʼn etiese staat gaan vestig en die nodige “Churchillian” leierskap gaan toon om die party en die land reg te ruk. Ramaphosa en sy faksie is bestempel as die regte ANC wat steeds vasgehou het aan die Mandela-ideaal en die morele kern van die party. Sodoende was Ramaforia-lyers ook oortuig dat hierdie helfte van die faksie net moet seëvier vir die land om weer reggeruk te word.