Post by cjm on Mar 21, 2016 16:00:15 GMT
Hoofsaaklik het ek dit hier oor die klaagliedere in sy bundel Heimdall , Tafelberg, 1974.
Heimdall is ‘n mitologiese Noorse God met skerp sintuie (hy kan honderde myle selfs in die nag sien), wat wag hou oor die gode se vesting (Asgard). Sy woning is aan die top van die reënboogbrug wat na Asgard lei. Hy kan die gras hoor groei, en die wol op skape. As hy gevaar sien blaas hy op sy horing (Gjallar). Daar is ‘n sinspeling dat hy miskien die vader van die mensdom is. Sy eie vader is Odin (Wodan) en hy het nege moeders. Hy het ‘n wit vel en goue tande en het minder slaap as ‘n voëltjie nodig.
Die bundel begin met die volgende inleiding in deel 1:
Heimdall jy wat ver sien fyn kyk luister
met jou oor styf teen die reënboogbrug -
wat dink jy van die durende gedreun
die winter se grys toetrek in die lug -
hoe staan dit met die gode?
Gode van die Noorse mitologie (deels oorspronklik Indo- Europees) is ingeweef in baie van die gedigte in die bundel wat in sy geheel ‘n onheilspellende ondertoon van ‘n ramp oppad oordra. Daar is verwysings na die Afrikaner heerskappy met die waarskuwing dat dit niks goeds vir die toekoms inhou nie. Nêrens word voorgegee dat die digterlike voorspellings iets met ‘n bo-natuurlike vermoë te doen het om die toekoms te voorspel nie: Dit is logiese afleidings gebaseer op waarnemings. Selfs Heimdall as god neem net waar met baie skerp sintuie.
Die volgende gedig is amper-amper wyd genoeg om die ANC te dek, maar die verwysings na die NP in die ou bestel is onmiskenbaar en anker dit ferm in die verlede.
Partykongres
Ek het self met baard en breërandhoed
soos 'n besoeker uit die Noorde
gaan aanklop by die groot gesag onrustig
oor die heerskap van die gode ...
Die voorsitter het sy vlag gewaai gepronk
met sy medaljes: LP-UK-LV-Senator
stilgestaan vir ruikers gelag vir fotograwe
gelag vir ministeriële grappies lag-lag
mosies voorgestel vir eenparige aanvaarding
luid gelag toe ek staan en vra
of dit dan só goed gaan met die gode
ek hoor dan lank reeds hoe ... Maar toe
het die grootbaas ingekom met die klatering
van skilde en almal moes eerbiedig staan
en stilbly. Toe't ek die spulletjie uitgekyk
die gestook van die grootkanonne
die adjudante wat eers loop skoonmaak
en spog met trefkrag en vertoning
hul kàn nonnier en ken die kuns
van kruitstamp tot die lading plofbaar
smeul en net visier en vuur vra
dàn eers sal hul lont aansteek en t'rugstaan
hoogstevrede met hul kanonisasie.
Die bombárie het beantwoord aan verwagting
en toe die eerste rook gaan lê
is daar nie veel gepraat nie
net applous vir die ontploffing ...
Maar ek wou weet meneer die seremoniemeester
hoe staan dit met die gode?
Maar toe was dit weer tyd
vir ons dank aan die minister en nog ander
pluime en presente wie sou kon dink
dat Afrikaans soveel adjektiewe het!
En my boerkop sê vir my pasop
as die jong mannetjies begin vlooi knip
op die ou bôjaan se skouer binnekort
gaan daar gebyt word . . .
Toe staan ek pront en stel my vraag
oor die skud en bewing wat ek reeds gewaar
gerommel is tog voorspelling van erupsie
weet die gode van die komende gevaar?
Van die dwerge wat verafsku word
maar nogtans goud weef uit die strooi
die gode ryk maak met hul kunste
en daarmee angels voor hul voete strooi?
En ek vertel hul van die blinde-sterk-in-die-geloof
wat altyd sê Gods wil geskied
maar met oog wat nie kan sien nie boog span
om ver in die toekoms in te skiet.
Van mense wat tevrede feesvier en lag
vir 'n snaakse vinger aan die wand
en 'n koning wat viool speel en dit
terwyl die stad se mure brand . . .
Maar verder het ek nie gekom nie
want toe skree al die lojales: sit
sit man sit jy's buite orde
en dis nie nou praktiese politiek nie.
Eensydig beskuldigend is die bundel ook nie, want die vryheidsvegters word beveel om op te hou (Dis alles tevergeefs sê die prediker), daar is ‘n erkening van die problematiek van die situasie, en daar is ‘n baie besliste eiening van Afrika deur die digter/Afrikaner, in die volgende gedig:
Trekboer
Ons het geleer: as die gety verloop
versit 'n mens die bakens.
En ek is hartseer as ek terugkyk
na die klipstapels van weleer
die pilare van die ou verbond
berei vir my 'n plek . . .
My tent het oopgestaan my krip
was vol vir 'n ieder en 'n elk
se hongerte en dors my dogters het gelag
en gul geskink kwistig
met die salf aan die skurwerige voete
want so staan daar geskrywe
aan die geringste . . .
Maar nou raak my pot vol knorvleis
my veld kaal uitgetrap my veetrop
skaars 'n skaduwee van die wit wolk
wat met sononder afgesak het teen die hange.
Want die vang is vry nie vra nie
edereen wat aanloop eis
staanplek goeie buurskap eis
die grond wat ek self uitgemeet het
beskuldig as ek huiwer trots en selfsug
word die sondes van besit
preek hoog en heilig van die liefde
en van gee totdat dit seer maak
want die seer maak kwansuis salig.
Miskien het dit alles begin
dié ellende met die liefde
toe die langhaar Jood sy stil oë
beskuldigend kom steek het
in die sagte kwesplek van die mens
se al te menslike gewete . ..
Maar die les staan tog duidelik opgeteken
vir die wat wil wakis oopmaak
en wil leer: sy kruis
en daarmee saam die oes van spykers
en die pyn.
Ook hy het hom misreken
met saamboer en met soene.
Om lief te hê
is nie kaal uittrek en sê: dè!
vat vir jou ek het genoeg nie.
Dié vergissing het laat bloed sweet
toe dit te laat was.
Nogtans wil hul dié liefde wet maak
indryf teen die grein
van weerbarstig boer wees
en ek moet my verlustig in die warm modderbad
van martelare.
Tot nou toe was dit geloofsbrief
die oop hand krom rug en die stukkend knieë
toegang tot die beloofde land van uiteindelik
vergelding maar dit was nog altyd
altyd anderkant die grense.
Moet ek nou voortgaan met bôjaan speel
abba met 'n lekker rug
van 'n opgesaalde kwellende gewete?
Of moet ek padgee weer versit
omdat die kwelling knyp word
die osse aankeer
omdat my erfpag nie meer geld nie ?
My waghond knor sy maanhaar rys
as hy mens hoor en gepraat van:
wees gegroet in die naam van Jesus.
Of moet ek sê: nee verdomp nie
die wet het nou verander en die profete
moet besin die mensdom het nou iets geleer
van standpunt en vertolking en daarmee
is alle dinge geldig niks
is meer absoluut nie.
Die smouse wat kom raad gee
trek in elk geval nooit saam nie
trek in ja annekseer
wat kant en klaar gelyk en mak gemaak is.
Dis waar die mens se takkraal is maar tydelik
en sy tentseil dun
maar hierdie boer se moer raak dik
van gestoot word as dit hom nie pas nie.
As die gety dan verloop het versit
ek ook die bakens word dit tyd
vir sê: opsystaan
dié fontein is myne.
Die Noorse element hou vermoedelik verband met die digter se onthulling dat hy van Noorse afkoms is (Waarom is ek tog ‘n gewone man). Hy is trots daarop soos ook sy trots op sy dogter se fyn wit vel. Daar is egter ‘n verdere betekenislaag hier: ‘n Mens kan die digter sien as speels Heimdall, en die ander gode, as die wittes in Suid-Afrika (almal uiteindelik immigrante uit die Noorde). Met al hul bevoorregting destyds het hul hul gedra soos westerse gode in Afrika. Alles natuurlik mitologies (digter Heimdall inkluis)!
Alhoewel baie van die gedigte verwys na die destydse NP-regeringsbestel, is sommige algemeen genoeg om steeds ‘n skrywende vinger vandag te wees – goeie digkuns op sy beste. Beskou bv die volgende:
Aan die god van my vadere
Jy het alles voor die tyd geweet
want jy het tussen ons geloop
met jou grys mantel bedroef
van ver vooruit sien duur prys
vir die oog van wysheid en herinnering.
En tog het jy ons aangespoor
tot heldedade vir ons trou laat sweer
toe die arms moeg was van verset
onwillig van die beur toe
het jy 'n nuwe lig laat glinster
in ons oë die hart laat juig
by die klank van jou trompette
die lokstem van jou engele wit
te perd en stormend deur die wolke.
Vir ons sou daar plek wees
in jou sale uiteindelike rus
in jou tuin vol rooi en goue blare.
En tog
die rawe wat snags nes maak
om jou ore die wolwe
wat onrustig snuif en rifrug opkrul
aan jou voet jy
met die skadu oor jou grys gesig
het al die tyd geweet
dat alles tydelik en vergeefs was.
En nou O Wodan
noudat die laaste droom verbygaan
die wêreld oud word
en in die newels
ook die laaste skuilplek koud word
en verdwyn
sal daar nog walkure wees
om ons weg te dra
as hierdie geveg verby is?
Wanneer die spiespunt ruk en skeur
die stof dof opslaan en gaan lê
sal daar nog groetnis wees
en een wat hek oopmaak?
Die strydbyl se swaai
kruk diep in die hart
en die arm vra versekering.
Die oog wil nie spied
as die oor nie trompette hoor nie.
lets moet daar oorbly van belofte
al is dit ook net
die varkvleis en vlerke van Walhalla.
Die gode mag nie swyg nie.
Ai Wodan hoor my
dis koud en naar
hierdie rug-teen-die-klip
hierdie skerm en keer
hierdie alleen wees
en nie weet waarheen nie.
Soos dit later in die gedig blyk, spreek die digter hier tot Wodan (of dan Odin) - een van die Noorse gode. Wodan het net een oog – die ander het hy verruil vir wysheid. Hy dra ‘n grys mantel, spies in die hand, rawe fladder om sy kop en wolwe vergesel hom. Hy word geassosieer met dood, wysheid en digkuns en is heerser van Walhalla waar hy die helfte van die gesneuweldes van slagvelde, wat die walkure daarheen bring, huisves. Die walkure is vroulike wesens wat met die noodlot geassosieer word.
Dit is nie duidelik of die “ons” van die gedig deel van die gode is nie, maar om die logika van die beeldspraak in die bundel (waar wittes gode is) nie te ondermyn nie, aanvaar ‘n mens dat “ons” mindere gode is.
In geheel is die gedig ‘n uiting van ontsteltenis oor die “ons” wat mislei is terwyl Wodan heeltyd die waarheid geweet het en nou “ons” in eensaamheid en miserabelheid in die koue los.
Ook onstnap die volgende gedig die boeie van die geskiedenis alhoewel dit nie wyd genoeg is om die ANC-leierskap van vandag te toonset nie.
Ons leiers dra nie meer . . .
Ons leiers dra nie meer die koperhelm
met die pluim en horings nie
swaai nie self die strydbyl staan
nie vóór en wink en sê kom nie
vee nie met die een hand die bloed
uit die oë die sterk arm
tel nie agterna die dooies ep nie
buk en buig en weeklaag nie luid
oor die dood van 'n blonde seun nie.
Nee die betonbunker tuis in die berge
is te veilig
oorlog vat nie meer aan die bas nie.
Hul sal nog soms gebaar maak
met uniforms en versierde swaarde
kamstig generaal of keiser op 'n perd
maar ook dié dra springteuels mag nie
durf nie spring nie word poleer en afgerig
vir stoftrap sekelstert en kopspeel
ken nie die wilde snork en steier
die wit salpeterskuim nie.
Die tiervel bly maar net medalje.
Of as hul siviel is
die streepbroek-swarthoed manne
dan word hul opgebou foto-en-verhaalheroute
tot vader van die volk kwansuis
slim leier met die kop inderdaad inderdaad l
Grootmeesters van gebare wat geoefende lopies neem
met massas swaar emosies in dig gerookte sale
op ou en vreedsame slagvelde
pof vuisies swaai en dreig oor mikrofone
wind orasies wind selfs die stem
dra nie moet gedra word!
Siegfried! O waar is Siegfried! Maar hierdie
spesimens se bloed is skielik kosbaar
dáárom daarom sal ons kinders sterwe.
By die lees hiervan, kom by my die vraag op wie ons Afrikanerleiers vandag is. Diegene in die VF+, Max du Preez, Antjie Krog, Dan Roodt, Steve Hofmeyr, Breyten, Sunet Bridges, Henry Jeffries, Jan-Jan Joubert, Croucamp, Jonathan Jansen, Roelf Meyer? Miskien is daar nog dwergies/wyfies in die vlei, van wie ek nie weet nie.
En ja, die 80-jarige De Klerk is sekerlik steeds ‘n penkopleier.
Op die ou end maak Walters korte mette, in die gedig Voluspa, met die gode, – die einde van beide gewaande bo-natuurlike goddelike hulp en die wit gode in Afrika.
Voluspa (Noors vir profesie deur ‘n vrou) is ‘n hersaamgestelde Noorse gedig uit die 10de eeu nC wat ook Christelike elemente bevat. Dit vertel van die skepping van die wêreld en toekomstige verwoesting, gevolg deur ‘n beloofde hergeboorte. Op hierdie punt word die profetes (“volva”) ongelukkig wakker uit haar beswyming en is daar ‘n moontlikheid (my siening) dat ook die nuwe geskape wêreld kruppel is.
Voluspa
Dis winter in die hemel en ons gode
sit grys en toegesneeu die mense huil
hoor hoe huil die mense:
Alles wat ons aanraak vries
verstar gaan dood word klip
ons drome bly uiteindelik
onbereikbaar . . .
Maar die denke bly aan windmeul
kop wat koers soek suig en pomp
totdat die are droog is
grawe dan in ander tonnels donker
waar die son nooit kom nie
êrens moet fontein of put wees
oerbron of op na waar die sterre wink
blink verbeelding van 'n moederspeen
wat drup vol vir sluk en kwas swaai
wil gestreel en blink gelek word
loop snuif-snuif rond op wankelbene
word gegaffel weggestoot bly blêr
teen die hoë mure tevergeefs tevergeefs
dis alles lug en wind en waar
is daar 'n plek vir ons op hierdie aarde.
My oë soek die rooipad langs
na stof wat sê dié hunkering sal gaan lê
die hekke van my hande swaai wyd oop
my ore droom geluide iets sal kom
sal kom maar die son gaan onder
sonder dat hy rooi word.
O laat ons mekaar se laste dra
want dis voluspa met die gode
ons is slegs aangewese op mekaar.
“Mense ” verwys waarskynlik na die anderskleuriges in die land. Die digterminologie lyk vir my só:
Gode (die groot kannone uit die Noorse mitologie)
Mindere gode (wittes in die algemeen)
Mense (anderskleuriges).
Ander goeie beelde is die hande wat hekke is wat oopgaan (die seën wat uitgespreek word?) en die rooipad en die son wat nie rooi word nie (die rooi stofpad bly leeg en geen stof styg op om die son te kleur nie?).
Die final digterlike gevolgtrekking hier is moontlik dat slim planne nie die land sal red nie, maar dat ons met mekaar oor die weg sal moet leer kom (“slegs aangewese op mekaar”). ‘n Ietwat naïewe siening, as ek my opinie kan lug. Voluspa is nie die laaste gedig of die einde van die bundel nie nie en daar volg nog twee raaiselagtige afdelings (Kamera en Waarom is ek tog ‘n gewone man). Dit los ek maar daar.
Walters beoefen sy doemelary ook in ander bundels. So vind ‘n mens in Saturae , Tafelberg, 1979, die Skeepsverslag:
Skeepsverslag: Titanic
Hollanders het die skip beplan, maar dit was
Engelse wat gebou en uiteindelik geloods het-
en almal is tog ou kenners van die water.
Nietemin te veel was die geloof en selfversekering
dat niks hom kon laat sink nie:
het die beskermheer van skepe dan nie self
die projek gewil nie, dié invaar in die donker,
dié wit eiland van lig en glansende weerkaatsing . . .
Agterna gesien, was die toerusting onvoldoende.
Die skokkendste erkentenis: geen verkykers of soekligte.
Maar luukses was volop en uitspattig: marmer-
vuurmaakplekke, dubbele toilette, miniatuurgholfbane,
swembaddens, rye kroeë en hemelbeddens
waarin die rykes kon hoereer, selektief, privaat,
terwyl hul voortvaar na die beloofde land,
hulle skatte veilig in die kluise.
Senders van kleiner skepe het gewaarsku:
julle vaar in ’n gevaarlike seisoen, daar’s `n kilte
in die lug, ysberge in die onbekende water
en vol verandering is die warrelende winde.
Maar die Iuuksereus was doof, sy antennes
ingestel op uitstraal, nie interpreteer nie.
Bowenal wou sy Kaptein hom nie laat steur nie,
nie deur kapteintjies wat nie kaarte ken nie.
Die ysrots was nie sigbaar in die nag nie
en die staal móés skeur toe dit nie meer kon buig nie.
Chaos het geheers in offisierskajuite - reddingsbote
is nie eens almal neergelaat nie,
wanhopige passasiers het in die see gespring
en dié wat nie die moed had of bly hoop het,
het op die agterstewe saam met die orkes
bly sing: Nader my God by U - onverstaanbaar
sê enkele oorlewendes, omdat die woorde in Afrikaans was.
Ons sink nog daagliks.
Gepaardgaande met die sien van onheil is daar ook ‘n besef dat die oplossings nie maklik of voor die handliggend is nie.
Moses
Net ’n ou witkop wat met donker bril
wydsbeen oor die woestyn uit staar
en wonder watter koers vannag
met sy weerbarstige volk weer in te vaar.
Tot dusver het dit bars gegaan . . .
niemand wat sy penarie ook verstaan:
die manna’s droog, die water’s min,
môre sal hy weer die klip moet slaan!
Die son bak blink, die laer is stil
net die leier wat na rigting tas -
hy sug en trek die sagte bokriem
stywer om sy boepens vas.
Opperman: Die Groot Verseboek, Tafelberg, 1986
Verwysings en twee gedagtes
Sonder Wikipedia is ek niks!
en.wikipedia.org/wiki/Heimdallr
norse-mythology.org/gods-and-creatures/the-aesir-gods-and-goddesses/heimdall/
en.wikipedia.org/wiki/Norse_mythology
en.wikipedia.org/wiki/Valhalla
en.wikipedia.org/wiki/Odin
en.wikipedia.org/wiki/V%C3%B6lusp%C3%A1
(Voluspa)
Ek dink die gebruik van Heimdall (en die Noorse mitologie) is ‘n bietjie oordadig – veral in ‘n Suid-Afrikaanse konteks waar die obskure doen en late van hierdie gode ‘n emosielose intelektuele oefening is. Heimdall verskyn nie eers in die HAT nie en sonder Google was ek verlore. ‘n Paar paragrawe oor Noorse mitologie sou ‘n welkome toevoeging tot die bundel gewees het.