De Wet: Strafreg (4de uitgawe), Butterworths, 1985
Voetnotas verwyder behalwe vir nota 16
p226
...
Hier by ons kan moord omskryf word as die wederregtelike, opsetlike ver-
oorsaking van die dood van ’n medemens. Anders as in die Vastelandse
regstelsels hierbo genoem, onderskei ons nie by name tussen verskillende ka-
tegorieë van opsetlike doodslag nie, maar daar word wel by die straftoeme-
ting met besondere omstandighede rekening gehou. Aan die ander kant
bestaan daar ook onder invloed van die Engelse reg ’n neiging om opsetlike
doodslag wat eintlik moord is, na manslag te “verminder” ten einde die ver-
pligting om die doodstraf op te lê te vermy, Dit was veral die posisie by
sogenaamde provokasie. Hierdie houding was verstaanbaar, so nie gereg-
verdig nie, toe die doodstraf noodwendig gevolg het op ’n skuldigbevinding
weens moord, maar sedert 1935 is dit nie meer nodig om van hierdie kuns-
greep gebruik te maak om ’n ligter vonnis op te lê waar daar versagtende
omstandighede bestaan nie.
Dit is nie nodig om hier nog ’n keer op die begrippe veroorsaking, weder-
regtelikheid en opset in besonderhede in te gaan nie. Hierdie dinge is hierbo
onder die algemene leerstukke behandel. In die verbygaan kan net herhaal
p227
word dat toestemming van die slagoffer nie sy doodslag regverdig nie. Die
slagoffer moet ’n medemens wees - selfmoord is nie moord nie, en bygevolg is
poging tot selfmoord ook nie strafbaar nie. Dit beteken egter nie dat self-
moord of poging daartoe ’n strafregtelik irrelevante gebeure is nie. Die om-
skrywing van moord is so wyd dat iemand wat aandadig is daaraan dat ’n
ander selfmoord pleeg beslis skuldig kan wees aan moord, en selfs aan poging
tot moord as die selfmoordpoging misluk, ook al sou die ander wat sy hand
aan sy eie lewe probeer slaan het nie strafbaar wees nie.16
...
16 Sien Ex parte die Min van Justisie: In re S v Grotjohn 1970 (2) SA 355 (A) en S v Hibbert 1979
(4) SA 717 (D) teenoor R v Nbakwa 1956 (2) SA 557 (SR) en S v Gordon 1962 (4) SA 727 (N). Dit
gaan hier nie oor deelneming aan die “misdaad” van die selfmoordenaar nie, maar oor die
bevordering van die dood van ’n medemens. Die doelbewuste medewerking van die selfmoorde-
naar onderbreek hier net so min die kousale verloop as wat die doelbewuste medewerking van ’n
derde dit sou doen. Die enigste wesenlike verskil tussen medewerking aan selfmoord van die
slagoffer en medewerking aan die veroorsaking van die dood van ’n derde is dat die slagoffer tot
selfvernietiging doelbewus meewerk. Volgens art 115 van die Switserse StGB is dit ’n misdaad om
iemand uit selfsugtige beweegredes tot selfmoord te verlei of aan hom hulp te verleen daarby. Ook
in Nederland is dit ’n misdaad om ’n ander tot selfmoord aan te hits, hom daarby behulpsaam te
wees of hom van die middels daarvoor te voorsien - art 294. Nederlandse Sr (anders as die
Switserse voorskrif vereis die Nederlandse nie selfsugtige of ander beweegredes nie). Volgens
Noyon-Langemeijer ad art 294 Sr is die persoon slegs strafbaar as die ander wel selfmoord pleeg,
maar die Switserse reëling bedreig die verleier en hulpverlener met straf ook al voer die ander dit
nie verder as poging nie. Art 78 van die Oostenrykse StGB praat ook nie van motiewe by die
verleier en hulpverlener nie en skyn ook voltooide selfmoord te vereis. Anders as die Switserse,
Nederlandse en Oostenrykse strafwetboeke, bevat die Duitse StGB nie ’n besondere voorskrif oor
uitlokking tot of hulpverlening by selfmoord nie. Volgens Schönke-Schröder Vorb 33 e v ad art 211
StGB kan iemand hom egter skuldig maak aan opsetlike doodslag indien hy die slagoffer self as
werktuig gebruik om homself te dood, bv hy beweeg ’n kind of kranksinnige tot “selfmoord”, of
hy dwing hom om sy lewe te neem of hy_ beweeg hom deur misleiding om die hand aan sy lewe te
slaan. Die slagoffer is dan die werktuig in die hande van ’n middellike dader. Alhoewel selfmoord
en poging tot selfmoord in Engeland nie meer strafbaar is nie, is dit nogtans kragtens die Suicide
Act ’n ernstige misdaad om iemand aan te hits tot of behulpsaam te wees by selfmoord of poging
daartoe. Waar iemand ter uitvoering van ’n suicide pact die ander dood of laat dood is hy kragtens
die Homicide Act van 1957 skuldig aan manslaughter - sien Smith and Hogan op cit bl 335 e v.
Soos Smith and Hogan tereg aantoon, is dit nie altyd maklk om die een situasie van die ander te
onderskei nie.