Post by cjm on Apr 7, 2024 9:30:08 GMT
DIE ONTSTAAN VAN SOLIDARITEIT SE HELPENDE HAND – ‘N SUKSESVOLLE VOORBEELD VAN SELFVOORSIENENDE WELSYNSORG
The establishment of Solidarity’s Helping Hand – A successful example of self-providing welfare care
Wessel Visser
Departement Geskiedenis, Universiteit van Stellenbosch
wpv@sun.ac.za
Wessel Visser het die grade BA, BA Hons, MA en ‘n Hoër Onderwysdiploma aan die Universiteit van Stellenbosch behaal. In 2001 het hy ‘n DPhil-graad in Geskiedenis aan dieselfde inrigting behaal. Sy doktorale studie het die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse arbeider-, sosialistiese, kommunistiese en vakbondpers in die vroeë 20ste eeu ondersoek. Van 1985 tot 1987 was hy onderwyser in Geskiedenis en Afrikaans aan die Hoërskool Punt in Mosselbaai. In 1988 is hy as lektor in die Departement Geskiedenis van die Universiteit van Stellenbosch aangestel en in 2003 bevorder tot senior lektor in dieselfde departement.
Sy navorsingspesialisasie is die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse arbeider -en sosialistiese pers en die geskiedenis van die vakbondwese. Hy tree as artikelkeurder op vir verskeie plaaslike en internasionale akademiese vaktydskrifte en is ook lid van die Geskiedeniskommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Hy het verskeie referate op nasionale en internasionale vakkongresse gelewer, hoofstukbydraes vir agt boeke geskryf en verskeie artikels in geakkrediteerde tydskrifte gepubliseer. In 2009 was hy ‘n gasdosent aan die Universiteit van Innsbruck in Oostenryk. Sy boek oor vakbondgeskiedenis, Van MWU tot Solidariteit. Geskiedenis van die Mynwerkersunie, 1902-2002, het in 2008 verskyn.
Wessel Visser obtained the degrees BA, BA Hons, MA and a Higher Education Diploma from the University of Stellenbosch. In 2001 he obtained a PhD degree from the same institution. His doctoral thesis investigated the history of the South African labour, socialist, communist and trade union press of the early 20th century. From 1985 to 1987 he was a teacher of History and Afrikaans at Point High School in Mossel Bay. In 1988 he was appointed lecturer in the History Department of the University of Stellenbosch and in 2003 was promoted to senior lecturer in the same department.
His research specialisation is the history of the South African labour and socialist press, as well as trade union history. He serves as a peer reviewer for various local and international academic journals and is also a member of the History Commission of the South African Academy for Science and Art. He presented several papers at local and international conferences, contributed chapters to eight books and published various articles in accredited journals. In 2009 he was a guest lecturer at the University of Innsbruck in Austria. His book on trade union history, Van MWU tot Solidariteit. Geskiedenis van die Mynwerkersunie, 1902-2002, appeared in 2008.
ABSTRACT

The trade union Solidarity, formerly known as the South African Mine Workers’ Union, is apparently the first union in the country to create its own, private welfare department. Established in 1949, the original aim of the Helping Hand fund was to financially assist Afrikaner mineworkers who became unfit for work due to work-related disabilities. Between 1949 and 1997, the department’s welfare assistance schemes had varied successes although its welfare fund grew steadily, and at times, even spectacularly. One of these early enterprises, which had limited success, was the founding of the Transvaal Doll and Ornament Company in Alberton. The proceeds of this doll-making factory was utilised as a supplementary income for widows whose husbands became victims of miners’ phthisis. Due to a lack of entrepreneurial experience and capital, however, the company was liquidated in 1951.
Since 1997, under the management of Flip Buys, the union was restructured and became known as Solidarity. The restructuring of the welfare department in particular was based on the Israeli Histadrut. The Histadrut is a labour service delivery organisation with interests in education, job creation, general services, sports, trade and industry, insurance and health and pension schemes. Although there were many differences between the Israeli labour situation and that of South Africa, Buys was convinced that Solidarity could learn from the experience of the Histadrut and base its own plans for the future on that model. In 2001 Solidarity’s welfare department was relaunched as Solidarity Helping Hand. Various factors contributed to this initiative. State welfare spending became racially biased. In Gauteng Province, for instance, welfare subsidies to organisations which catered for poor whites were phased out. Affirmative action policies contributed to a renewed poor white problem. This in turn aggravated the housing and food needs of such persons.
In its new structure the Helping Hand initiated various innovative projects and also extended its scope of welfare assistance to the wider Afrikaans-speaking community. In 2005 Solidarity Helping Hand was registered with the Department of Welfare as a non-profit Article 21 company. Among other things, its projects included food relief schemes for white squatter camps and school feeding schemes for Afrikaner poor white children, as well as material assistance to old age and children’s homes. For instance, in 2005, with the liquidation of the DRD goldmine at Stilfontein, Solidarity Helping Hand became involved, in conjunction with the Stilfontein community, in a food relief scheme that supported approximately 3000 persons for five months. A Solidarity Helping Hand Bursary Fund was established in 2003. By 2007 already, bursaries to the value of R1.2 million had been paid out to 377 students whose parents were members of Solidarity. In 2009 the bursary scheme was extended. A Solidarity Helping Hand Afrikaans Bursary and Professional Training Institute was launched in order to give prospective Afrikaans students access to a larger variety of bursaries.
By 2009, 60 years after its humble beginnings in 1949, Solidarity Helping Hand had grown into an organisation with 21 staff members in its head office in Pretoria and a regional office in the Western Cape. Twenty five branches have also been established all over South Africa. In an era of inadequate service delivery by the state, also in terms of welfare services, the Helping Hand has achieved a proud track record of comprehensive and praiseworthy welfare projects. Its stated objective is to be a future-driven organisation which functions within a Christian value system and strives to break the circle of poverty. Afrikaans communities should be equipped to find solutions for the welfare needs in their environment. According to Buys, people should be empowered rather than become part of a welfare state and dependant on state welfare. For Solidarity’s Helping Hand the solution, therefore, is self-help.
KEY CONCEPTS: Mine Workers’ Union, doll factory, Solidarity, Helping Hand, Histadrut, welfare department, Afrikaner mine workers, Flip Buys, welfare aid, emergency relief, feeding schemes, bursary scheme, Danie Langner, fund raising, self-help
TREFWOORDE: Mynwerkersunie, poppefabriek, Solidariteit, Helpende Hand, Histadrut, welsynsdepartement, Afrikaner-mynwerkers, Flip Buys, welsynsbystand, noodleniging, voedingsprojekte, beursskema, Danie Langner, fondsinsameling, selfdoen
OPSOMMING
Die vakbond Solidariteit, voorheen bekend as die Suid-Afrikaanse Mynwerkersunie, was waarskynlik die eerste vakbond in Suid-Afrika om sy eie, private welsynsdepartement tot stand te bring. Die oorspronklike doelwit van hierdie welsynsdepartement wat in 1949 gestig is, bekend as die Helpende Hand, was om Afrikaner-mynwerkers wat as gevolg van werksverwante ongelukke of omstandighede ongeskik vir werk geword het, finansieel te ondersteun. In 2001 is die welsynsdepartement opnuut bekendgestel om voortaan as Solidariteit Helpende Hand bekend te staan. Die Helpende Hand se bestek van welsynsbystand is ook uitgebrei na die groter Afrikaansprekende gemeenskap selfs buite die vakbond. Die organisasie se projekte behels onder andere noodlenigingskemas ten opsigte van voedselvoorsiening, ‘n nasionale akademiese beursfonds en materiële bystand aan ouetehuise en kinderhuise.
1. INLEIDING
Suid-Afrika was nog nooit ‘n welsynstaat in soverre vir al sy mense sosiale beleid daargestel was wat ‘n minimum lewenstandaard in alle opsigte gewaarborg het nie (Makino 2004: 6). Tog het armoedeverligting vir blankes veral onder die Pakt-regering in die 1920’s ‘n belangrike komponent van die staat se bestaansorgprogram gevorm. So is statutêre aftredeversekering, as ‘n vorm van bestaansbeveiliging, in hierdie tydperk geïnstitusionaliseer. Daarvolgens het werkgewers en werknemers gesamentlik tot pensioenfondse bygedra (Van der Berg 2002: 15-17,23). Die Pakt-regering se industriële wetgewing het beoog om werkloosheidsversekering en welsynsbystand te voorsien, sodat blanke werkers se voorregte op die lange duur beskerm en verskans kon word (Davenport 1987: 534; Yudelman 1983: 237-239; McKendrick 1988: 11). Blanke mynwerkers, van wie Afrikaner-werkers mettertyd die meerderheid sou wees, het weens die besondere aard van die Suid-Afrikaanse goudmynbedryf en die monopolistiese beheer van die Kamer van Mynwese egter nie oor voldoende bestaansekerheid beskik nie. Knellende welsynsnood gedurende die 1930’s en 1940’s sou uiteindelik daartoe lei dat Afrikaner-mynwerkers uit eie inisiatief ‘n aanvullende private welsynstruktuur tot stand sou bring om hierdie nood te help verlig.
2. DIE AANLOOP TOT EN STIGTING VAN DIE HELPENDE HAND
Weens ‘n gebrek aan statutêre beskerming vir werkers teen uitbuiting deur werkgewers het vakbondontwikkeling spoedig ná die ontdekking van minerale in die tweede helfte van die 19de eeu in Suid-Afrika gevolg. In 1902 is ‘n vakbond vir blanke mynwerkers op die Witwatersrand, die Transvaal Miners’ Association (TMA), gestig. Teen die einde van 1913 is die TMA herdoop tot die Suid-Afrikaanse Mynwerkersunie, kortweg die Mynwerkersunie (MWU) genoem. Tydens die Eerste Wêreldoorlog het die blanke komponent van die arbeidsmag op die Witwatersrandse goudmyne toenemend ver-Afrikaans. Met die uitbreek van die oorlog in 1914 het duisende Engelssprekende mynwerkers as vrywilligers by die Britse magte aangesluit en sodoende is ‘n tekort aan blanke mynwerkers geskep. Baie Afrikaners wat nie hierdie oorlogsoortuigings gedeel het nie, het gevolglik hulle plekke ingeneem. Teen 1916 was die persentasieverhouding tussen Afrikaners en immigrantewerkers op die myne alreeds 75% tot 25% (Visser 2008: 1,3,6,9,14).
Daar is verskeie redes waarom Afrikaners hulle tot die mynbedryf gewend het. Afrikaner-arbeiders, as ‘n komponent van die blanke arbeidsmag, het reeds vroeg ná die ontstaan van die goudmynindustrie die getalle van die oorsese mynwerkers begin aanvul. Op die platteland het landboutoestande ongunstig en landbougrond skaarser geword. Gevolglik het ‘n klas Afrikaner-armblankes of bywoners ontstaan. Die transformasie van die Suid-Afrikaanse ekonomie van bestaansboerdery tot ‘n moderne kapitalistiese geldekonomie as gevolg van die minerale rewolusie, het tot die toenemende kommersialisering en herstrukturering van die landbou gelei.
Op sý beurt het hierdie prosesse weer tot die uitstoting van bywoners uit die landelike gebiede gelei. Bydraende faktore tot hierdie tendens was natuurlike rampe, soos die runderpesepidemie van 1896-97 en ander veesiektes wat baie boere hulle trekdiere en bestaansvee laat verloor het, droogtes, sprinkaanplae, asook die geweldige verwoesting van die Anglo-Boereoorlog wat baie Afrikaner-boere geruïneer het. Veral in die voormalige Wes-Transvaal is baie Afrikaners as gevolg van die Rebellie van 1914-15 feitlik geruïneer. Hierdie terugslae is opgevolg deur die ekonomiese depressies van 1904-09 en 1921, asook die Groot Depressie van 1929-33. Daarby het ‘n bevolkingsontploffing in Afrikaner-geledere ná die Anglo-Boereoorlog plaasgevind, wat ‘n groot vermeerdering van jong werksoekers in die arbeidsmark teweeg gebring het.
Die netto effek van bogenoemde ongunstige toestande was die toenemende materiële verarming van plattelandse Afrikaners. Armoede was dus die dryfkrag agter die verhuising van groot getalle Afrikaners na die Witwatersrand op soek na ekonomiese oorlewing, en waar hulle die geledere van stedelike verarmde blankes aangevul het. As een van die grootste werkverskaffers in Suid-Afrika het veral die goudmyne as aantrekkingskrag gedien vir menige werklose, pas verstedelikte Afrikaners wat op soek was na ongeskoolde en halfgeskoolde werkgeleenthede (Albertyn 1947: 16-17,73,93; Keegan 1987: 20-40; Macmillan 1930: 70,81; Morrell 1992: 1-2; Pauw 1946: 58-266; Stals 1978: 1-86; Van Jaarsveld 1982: 136-149,167,170). Afrikaner-mynwerkers het dus onder die eerste generasie van die Afrikaner-werkersklas getel wat sou verstedelik (Giliomee 2002: 605-619).
Daar was verskeie redes waarom blanke armoede ‘n oorheersend Afrikaner-probleem was. Enersyds moes hulle sedert die 1890’s by hul aankoms op die Witwatersrand vind dat halfgeskoolde en geskoolde poste in die myne alreeds deur plaaslike of immigrante Engelssprekende wit werkers gevul was. Hierdie persone het die voordeel bó die Afrikaner-werkers gehad van beter opvoeding en vaardighede en beheersing van die Engelse taal as die kommunikasiemedium van handel en nywerheid. Die Afrikaner-werker het ontredderd gestaan teenoor die Engelstalige stadsmilieu, wat hy as volksvreemd ervaar het, en ’n houding van minderwaardigheid en onderdanigheid teenoor die hoofsaaklik Engelstalige werkgewers ontwikkel.
Die eerste generasie stedelike Afrikaner-werkers het nie oor die gepaste opvoedkundige kwalifikasies beskik wat op die myne nodig was of enige kennis van vakbondorganisasie gehad nie, maar hulle het ook nooit geleer om handearbeid as ‘n aanvaarbare nering te beskou nie. Die ongeskooldheid van die deursnee Afrikaner-mynwerker van die eerste generasie was dus sy grootste arbeidsbelemmering. In die proses van die proletarisering van die Afrikaner-werkersklas het dié werkers as’t ware vasgevang geraak tussen Engelstalige mynkapitalisme en goedkoop ongeskoolde swart arbeid. Teen die 1920’s was daar alreeds ‘n gevestigde klas ongeskoolde Afrikaner-werkers in Johannesburg, en dit was hoofsaaklik op hierdie vlak dat hulle hul toetrede tot die mynbedryf gemaak het Ongeskoolde of laaggeskoolde werkgeleenthede het Afrikaner-werkers nie van hulle armoede verlos nie, maar hulle hoogstens van ‘n bestaan voorsien. “Ordentlike” werkgeleenthede waar ‘n “leefbare” loon (volgens blanke standaarde) verdien kon word, was skaars en in die myne moes ongeskoolde Afrikaners die werkgeleenthede neem wat hulle kon kry. Hulle het dus moeilik toegang tot die geledere van geskoolde arbeid gekry (Albertyn 1948: 11-47; Giliomee 2002: 605-619; Katz 1976: 14-63; Oberholster 1982: 36-37; Pauw 1946: 83-284; Stals 1978: 59,82; Van Jaarsveld 1982: 138-186; Van Onselen 1982: 113-114).
Die gevaarlike (blanke) ongeskoolde ondergrondse arbeid is feitlik sonder uitsondering deur Afrikaner-mynwerkers verrig en in hierdie laagbesoldigde beroepskategorie het baie van hulle in uiterste armoede geleef. In daardie werksomstandighede het hulle maklik slagoffers van myntering geword, waardeur hulle lewensverwagting aansienlik verkort is (De Kock 1983: 35-36).
Sosio-ekonomies gesproke, het mynwerkers nie gedeel in die voordeel wat die goudmynbedryf getrek het uit die regering se aanvanklike behoud van die goudstandaard nie, en ook nie in die voorspoed wat die bedryf ná 1932 beleef het nie (Patterson 1957: 156-157; Sachs 1952: 169; Yudelman 1983: 257). Daarby was daar ‘n ontoereikende pensioenfonds vir ondergrondse mynwerkers. In 1936 is wetgewing by die parlement ingedien waarvolgens ‘n pensioenskema vir alle ongeskikte mynwerkers en gevorderde mynteringlyers geskep sou word. As gevolg van teenstand van die Kamer van Mynwese is die wetgewing egter laat vaar in ruil vir ‘n ander skema, waarvolgens die myne jaarliks onvoldoende toelaes aan behoeftige mynteringlyers se gesinne uitbetaal het (Naudé 1969: 24-25; De Kock 1983: 36-37).
Teen 1942 het die Nabye Oos-Randse distrikskomitee van die MWU dit oorweeg om die ledegeld te verhoog sodat die vakbond ‘n werkloosheids- en welsynsfonds vir mynwerkers kon skep, maar dit is klaarblyklik nie tot uitvoer gebring nie (MWU UB, 3 Nov 1942: 1). Die Helpende Hand is uiteindelik in 1949 op die been gebring nadat ‘n nuwe uitvoerende bestuur onder leiding van Daan Ellis die vorige jaar in die vakbond oorgeneem het (Die Mynwerker, 28 Jan 1949:5).
Vir die nuwe welsynsafdeling van die MWU, wat hom vir die sosio-ekonomiese opheffing en bystand van sy lede in nood sou beywer, was daar noemenswaardige rolmodelle in die Afrikaner-geskiedenis. In reaksie op die mislukte Rebellie van 1914-15 is die Helpmekaarbeweging deur mede-Afrikaners gestig om die skuld van duisende verarmde rebelle suksesvol te delg en hulle van finansiële ondergang en armblankeskap te red (Ehlers 1986). Die sukses van die Helpmekaarbeweging het ook gedien as onderbou vir ‘n ideaal van die bekende Afrikaner-kerkleier, dr. J.D. Kestell, toe hy sy sogenaamde Redmekaar-gedagte ter opheffing van Afrikaner-armblankes in die 1930’s begin propageer het. Volgens Kestell sou die redding en rehabilitasie van die agtergeblewenes onder die Afrikaners daarin geleë wees dat die redding uit die volk self moes kom. Hierdie ideaal sou uiteindelik tydens die Ekonomiese Volkskongres van Oktober 1939 aan die Reddingsdaadfonds beslag gee. Die opbou van die fonds is deur die nuut-gestigte Ekonomiese Instituut geadministreer. Terselfdertyd is die Reddingsdaadbond in die lewe geroep wat met Afrikaners se ekonomiese opheffing gemoeid was en hulle ten opsigte van hierdie aksies te organiseer (Ekonomiese Volkskongres 1939: 210-215; Nienaber 1946: 111-116; Du Plessis 1964: 92-135,141-142; Jordaan 1979: 211,232-255).
Ten tyde van die Ellis-oorname van die vakbondbestuur het die MWU nog oor geen statutêre pensioenfonds beskik nie en was die bestaande Pneumokoniosewet (mynteringswetgewing) totaal ontoereikend. Gevolglik het die nuwe bestuur ‘n spesiale welsynskomitee en welsynsdepartement op die been gebring. Die nuwe afdeling het ‘n afbeelding van helpende hande as simbool gebruik, wat spoedig as die MWU se Helpende Hand bekend sou staan. Servaas de Wet (wat in 1955 ‘n senator vir die Nasionale Party geword het) is as die eerste welsynsbeampte aangestel. Volgens De Wet was die MWU in daardie stadium die enigste vakbond in die land wat oor ‘n welsynsafdeling beskik het. Sy leuse vir die Helpende Hand was: “Elkeen van ons gaan maar net een keer deur hierdie lewe! As ek dus enige weldaad kan bewys aan ‘n minderbevoorregte medewerker, laat ek dit NOU doen!” Die Helpende Hand is dus gebore as ‘n pragmatiese stap om die welsynsnood van Afrikaner-mynwerkers te help verlig.
Die Helpende Hand-fonds het ten doel gehad om byvoorbeeld voortsettingslede (afgetrede MWU-lede) en vakbondlede wat beroepsiektes opgedoen of beroepsongeskik geraak het, asook hulle afhanklikes of die afhanklikes van gestorwe lede weens beroepsiektes wat “geen ander uitkoms gehad het nie, uit dringende nood te help”. Alhoewel dit nooit so gespesifiseer is nie, toon die beskikbare data duidelik dat die meeste ontvangers van geldelike steun uit die fonds Afrikaner-mynwerkers of hulle afhanklikes was. Ten einde geld vir welsynsprojekte te genereer, het die uitvoerende bestuur van die MWU aanvanklik £10 000 teen 5% rente ten gunste van die welsynsdepartement belê. Dit het ‘n jaarlikse vaste inkomste van £500 vir die Helpende Hand-fonds bedra. Van die eerste welsynsprojekte wat sodoende aangepak is, was die aankoop van ‘n rolstoel en ‘n naaimasjien vir twee mynwerkers wat as gevolg van beroepsongelukke ongeskik vir mynwerk geraak het. ‘n Strandfonds is ook in die lewe geroep waardeur beoog is om ‘n kusvakansieoord te bekom waar die kinders van MWU-lede hulle vakansies kon deurbring (Die Mynwerker, 28 Jan 1949: 5; Die Mynwerker, 30 Jan 1950: 3).
In Augustus 1949 het die welsynsprojek ‘n interessante entrepreneuriese wending geneem toe die Helpende Hand dit vir die weduwee van ‘n mynteringlyer moontlik gemaak het om ‘n kursus in die poppemaakkuns te loop om haar in staat te stel om haar inkomste daardeur aan te vul. Dit wil voorkom of die spesifieke poppemaakkuns aanvanklik deur mev. P.M. Schnetler van Florida begin is, wat dit as ‘n tuisnywerheid wou uitbrei. Ten einde sy fondsinsameling te bevorder, het die Helpende Hand-welsynsdepartement gevolglik loterykaartjies teen ‘n halfkroon per kaartjie verkoop. Die wenprys was £300 en ‘n “Dollypop”, ook genoem ‘n “Dolly Schnetler”. Hierdie poppemaaktuisnywerheid het uiteindelik tot die Transvaal Doll and Ornament Company in Alberton gegroei. Klaarblyklik is daar toe ‘n geleentheid aan die MWU-welsynskomitee gebied om dit oor te neem, sodat aan weduwees van mynteringslagoffers ‘n aanvulling van inkomste gebied kon word om welsynsgevalle sodoende te rehabiliteer (MWU UB, 30 Aug 1950: 4; Die Mynwerker, 24 Aug 1949: 1-2; Die Mynwerker, 11 Nov 1949: 2; Die Mynwerker, 30 Jan 1950: 3; Die Mynwerker, 17 Feb 1950: 1,7).
Die MWU se uitvoerende bestuur het £1 000 bewillig om die poppefabriek uit te brei en dit het onder die beheer van die welsynsdepartement gestaan. Die fabriek, wat ‘n groot verskeidenheid van popsoorte vervaardig het, is later na Boksburg verskuif. Aangesien die beskikbare terrein beknop was, is die fabriek met die tuisnywerheid gekombineer. Op sy hoogtepunt het die Transvaal Doll and Ornament Company veertien vroue (weduwees of afhanklikes van ongeskikte mynwerkers) en drie mans (mynteringlyers) in diens gehad. Die fabriek se produkte was klaarblyklik gesog en is selfs by die Boksburgse tentoonstelling uitgestal (Die.Mynwerker, 16 Jun 1950: 6; Die Mynwerker, 18 Aug 1950: 4; Die Mynwerker, 27 Okt 1950: 2).
Maar alhoewel die MWU uiteindelik in totaal £5 000 in die Transvaal Doll and Ornament Company belê het, was dit op die lange duur nie lewensvatbaar nie. Daar was ‘n gebrek aan bestuursvaardigheid en ‘n kapitaaltekort, wat meegebring het dat die onderneming later teen ‘n verlies bedryf is. Boonop het die gebou nie aan fabrieksregulasies voldoen nie. Daar was ‘n groot aanvraag vir poppe en dit het mettertyd geblyk dat die fabriek uitgebrei moes word, maar die nodige fondse het ontbreek. Die MWU se uitvoerende bestuur was van mening dat tensy ‘n bedrag van £50 000 bestee kon word, daar nie voldoende werk aan hulpbehoewendes verskaf kon word om lopende kompetisie te regverdig nie. Die Kamer van Mynwese is ook sonder sukses genader om ‘n bydrae in hierdie verband te maak. Daarby het nie een van die direksielede oor voldoende tyd beskik om effektief aandag te gee aan die bedryf van die fabrieke nie. Gevolglik is die maatskappy teen die einde van 1951 gelikwideer en die poppefabriek gesluit. Alle oorblywende bates wat te gelde gemaak kon word, is oorgedra aan die MWU-welsynsdepartement. Een positiewe nalatenskap van die maatskappy was wel dat daar binne ‘n kort bestek 26 weduwees opgelei is wat uiteindelik as gekwalifiseerde masjiniste in ander fabrieke geplaas is (MWU UB, 5 Sept 1950: 1; MWU UB, 28 Nov 1950: 6; MWU UB, 25 Mei 1951: 8; MWU UB, 5 Jun 1951: 1; MWU UB, 29 Nov 1951: 6; MWU UB, 13 Des 1951: 1; MWU UB, 28 Mei 1953: 4; MWU UB, 24 Aug 1953: 4; Die Mynwerker, 11 Maart 1955: 5).
Die mislukking van die poppefabriekinisiatief het egter nie die welsynsroeping van diegene betrokke by die Helpende Hand laat verflou nie. Helpende Handfonds-komitees is in verskeie myndistrikte soos die Oos-Rand, die Sentraal-Rand en die Vrystaat gestig, aangesien die nood hoog en die behoefte aan welsynshulp groot was. Aan die Nabye Oos-Rand op Boksburg, byvoorbeeld, het die Helpende Hand-tak aldaar alreeds so vroeg as 1952 fondse ingesamel vir Kersgeskenkmandjies met lewensnoodsaaklikhede vir behoeftige gesinne. In daardie stadium was die MWU die enigste vakbond in die land wat ‘n welsynsafdeling (teen £2000 per jaar) bedryf het (Die Mynwerker, 1 Feb 1952: 5,12). In hierdie opsig het Daan Ellis, die MWU-hoofsekretaris, ‘n onbaatsugtige voorbeeld gestel. Vir sy waardevolle en onontbeerlike bydrae om die 1956-mynteringswet te help vergestalt, het die MWU se algemene raad uit blyke van waardering £2000 aan Ellis bewillig. Ellis het egter die volle bedrag aan die Helpende Handfonds geskenk (Die Mynwerker, 10 Jun 1981: 6). ‘n Ander interessante fondsinsamelingsinisiatief vir die Helpende Hand het gespruit uit die verkope van die destyds bekende handelsmerke, Braganza-tee en Senator-koffie, vanuit hulle mobiele kafeterias (Die Mynwerker, 26 Jul 1957: 3). Op sý beurt was die oprigting van hierdie tee- en koffiehandelsmerke weer die inisiatief van die bekende Afrikaner-filantroop en -entrepreneur, dr. Anton Rupert, wat vir daardie doel die Eerste Nasionale Tee- en Koffiefabrieke Beperk op die been gebring het as bemagtigingsprojek vir Afrikaner-vroue (Dommisse 2005: 152-154).
Tydens die bewind van Arrie Paulus as MWU-hoofsekretaris is ‘n verdere innoverende fondsinsamelingsmetode vir die Helpende Hand van stapel gestuur. Teen die 1970’s het mynregulasies bepaal dat indien ‘n mynwerker ‘n mindere mynoortreding begaan het, ‘n mynbestuurder hom tot ‘n maksimum van R10 kon beboet indien hy skuldig bevind sou word. ‘n Voorstel van Harry Marx, ‘n MWU-skagverteenwoordiger op die Hartebeesfontein-goudmyn, is toe aanvaar dat die Helpende Handfonds voortaan ingesluit sou word by die lys van welsynsorganisasies waaraan boetes, deur mynbestuurders opgelê, kragtens sub-mynregulasie 2.9.4 betaal kon word. Dit het ‘n nuttige inkomste vir die Helpende Handfonds meegebring (MWU UB, 23 Des 1970: 1-2; MWU AR, 28 Jan 1971: 5,11; Die Mynwerker, 13 Jan 1971: 1; Die Mynwerker, 27 Jan 1971: 3; Die Mynwerker, 10 Feb 1971: 5). In die 1980’s het verskillende mynskagte se Helpende Handfonds-takke selfs onder mekaar gekompeteer om insamelingsteikens na te jaag, sodat die fonds stelselmatig bly groei het. Van 1982 tot 1983 het dit byvoorbeeld met 87% tot R25 307 gegroei en teen die einde van 1986 is die insamelingsteiken op R60 000 gestel (MWU AR, 30 Jan 1984: 15,72; Die Mynwerker, 19 Jan 1983: 1; Die Mynwerker, 2 Maart 1983: 1-2; Die Mynwerker, 16 Maart 1983: 1-2; Die Mynwerker, 31 Aug 1983: 4; Die Mynwerker, 18 April 1984: 1; Die Mynwerker, 16 Mei 1984: 1; Die Mynwerker, 22 Aug 1984: 1; Die Mynwerker, 6 Aug 1986: 3).
Teen die 1990’s was dit duidelik dat die Helpende Hand se behoeftebepaling aangepas is by die oorspronklike doelstellings. Volgens MWU-Nuus, wat Die Mynwerker as mondstuk van die MWU opgevolg het, was bydraes tot die Helpende Hand om die volgende redes noodsaaklik: As gevolg van regstellende aksie het werkgeleenthede vir blanke werkers algaande verminder, sodat selfs hoogs gekwalifiseerde en ervare werkers werkloos geraak het. In sommige gevalle kon kinders nie meer skool toe gestuur word nie, omdat daar nie kos en klere in sodanige huishoudings beskikbaar was nie (Cronje 1997: 10). In aansluiting by die vakbond se kritiek teen die gevolge van regstellende aksie het die MWU ook deur daadwerklike stappe en aksies gepoog om werkloosheid en blanke armoede weens te bekamp. Geldelike ondersteuning en voedselhulpprogramme is byvoorbeeld deur welsynsorganisasies soos Volkshulp 2000 en die Volksbystandsfonds, asook deur die Helpende Hand, gekanaliseer (Visser 2008: 305).
3. DIE HERBEKENDSTELLING VAN SOLIDARITEIT HELPENDE HAND
Die MWU kon uiteraard nie aan die smeltkroes van ingrypende verandering en transformasie van die Suid-Afrikaanse politieke, sosiale en ekonomiese landskap teen die einde van die 20ste eeu ontsnap nie. Die radikaal veranderde sosio-ekonomiese en politieke realiteite wat ná 1994 begin intree het, het die vakbond gedwing om sy visie, strategieë en strukture deurtastend te herbedink en te herontwerp. Sedert die bewindsaanvaarding van Flip Buys as hoofsekretaris (later hoof uitvoerende beampte) in 1997 is die MWU dan ook stelselmatig en fundamenteel van ‘n gewone bedryfsvakbond omgeskakel in ‘n moderne, toekomsgerigte arbeidsdiensleweringsorganisasie op die patroon van die Israeliese Histadrut-vakbond. Die Histadrut het byvoorbeeld betrokke geraak op die gebied van onderwys, werkskepping en algemene dienste en was eintlik ‘n staat binne ‘n staat. Fabrieke wat landbouprodukte vanaf die kibboetse verder verwerk het, is met pensioenfondse deur die Histadrut opgerig. Kibboetsplase, hospitale, skole, banke, sporttereine, sakeondernemings, versekeringskemas, groothandelaars, kettingwinkels en mediese en pensioenfondse is deur filiale en divisies van die vakbond bestuur en byna een miljoen mense is só van werk voorsien. Alhoewel daar uiteraard baie verskille tussen die arbeidsituasies van Israel en Suid-Afrika bestaan het, was Buys van mening dat die MWU baie lesse uit die voorbeeld van die Histadrut kon leer en sy toekomsplan volgens daardie model kon bou.
In 2001 het die vakbond as MWU-Solidariteit bekend gestaan. ‘n Verdere naamsverandering tot Solidariteit het in 2002 gevolg, waarmee aangedui is dat die organisasie voortaan oop was vir die lede van alle nywerheidsbedrywe en beroepe wat sy doelstellings ondersteun het (Visser 2008: 289,310-323).
Ten einde aan die uitgesproke doelwit van dienslewering aan sy lede te voldoen, is die vakbond se Helpende Hand in 2001 ook opnuut bekendgestel en sou dit voortaan as Solidariteit Helpende Hand bekend staan. Dit sou as ‘n onafhanklike entiteit afsonderlik van die vakbond funksioneer, hoewel dit finansiële ondersteuning van Solidariteit se lede sou ontvang. Met die herbekendstelling is daar beoog om R1 miljoen in te samel vir die Solidariteit Helpende Hand Fonds, wat in 2002 alreeds op R539 000 gestaan het. Sedert sy herbekendstelling het die Helpende Hand dan ook met rasse skrede vooruit gegaan en verskeie innoverende projekte geïnisieer. Sodoende is die edele welsynsroeping en doelwitte van die oorspronklike stigters van die Helpende Hand met onderskeiding voortgesit en verder uitgebrei.
Verskeie faktore het daartoe bygedra. Eerstens het maatskaplike staatsbesteding ‘n raskleur begin kry. Die Gautengse departement van maatskaplike ontwikkeling het byvoorbeeld aangekondig dat subsidies aan welsynsorganisasies wat hulp aan wit armes verleen het, uitgefaseer sou word. Dit, tesame met die reeds genoemde regstellende aksie ten koste van blanke werkers, was ‘n duidelike aanduiding dat ‘n hernude armblanke probleem ontstaan het. Daarby het die huisvestingsnood en voedingsnood onder hulpbehoewende blankes geweldig toegeneem. Gevolglik het die Solidariteit Helpende Hand by laerskool- en kinderhuisvoedingsprojekte betrokke begin raak (MWU UB, 27 Feb 2001: 11; MWU AR, 26 Feb 2002: 25-26; Potgieter 2008: 11).
Die Solidariteit Helpende Hand Beursfonds is in 2003 gestig om die behoefte van Solidariteit-lede en hul kinders aan finansiële hulp vir tersiêre opleiding te help bevredig. Teen 2007 sou die Helpende Hand R1.2 miljoen aan beurse uitbetaal aan 377 studente, van wie die ouers Solidariteit-lede was. Altesaam 40% van hierdie fondse was vir akademiese studie en die res vir beroepsopleiding. Die behoefte onder Suid-Afrikaners het egter só groot geword dat die Solidariteit Helpende Hand-Beursfonds hom daarop begin toespits het om uit te brei sodat nie slegs Solidariteit-lede nie, maar alle voornemende studente in Suid-Afrika daarby kon baat vind. Derhalwe kon honderde verdienstelike studente jaarliks gehelp word wat andersins nie sou kon studeer nie. Verder is daar saam met gemeenskapsrolspelers ‘n tuisversorgingskursus ontwikkel vir mense wat ‘n passie het om bejaardes te help. Die kursus het die betrokke studente ook in staat gestel om vir hulleself ‘n beter toekoms te skep (Solidariteit Helpende Hand: 2009; Hermann 2007: 10,26; Buys 2007: 8,29). Teen 2009 het die beursfondsstruktuur sodanig uitgebrei dat Solidariteit Helpende Hand Afrikaanse Beurs- en- Beroepsleidinginstituut van ‘n multimiljoen rand gestig het met die doel dat ‘n voornemende student op een plek om ‘n beurs kan aansoek doen, maar toegang het tot ‘n groot verskeidenheid beursfondse. Die doel van die instituut is om leerders te help met beroepskeuses en veral te fokus op beroepe wat skaars en kritieke vaardighede vereis (Langner 2009b: 1-2).
In 2005 is die Solidariteit Helpende Hand by die Registrasiekantoor vir Maatskappye en Intellektuele Eiendom as ‘n volwaardige Artikel 21-maatskappy en by die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling as ‘n organisasie sonder winsbejag geregistreer. Vanweë dinamiese bestuurspersoneel het die organisasie van krag tot krag gegaan. Dawie Theron is as uitvoerende sekretaris aangestel om na die korporatiewe bestuur van die Helpende Hand om te sien (Solidariteit Helpende Hand: 2009). In dieselfde jaar het die Helpende Hand weereens sy naam gestand gedoen. Met die likwidasie van die DRD-goudmyn op Stilfontein is 6 513 werkers meteens sonder heenkome gelaat. Solidariteit het gehelp om, in samewerking met die Stilfonteinse gemeenskap, meer as R3 miljoen en sowat R1 miljoen se kosvoorraad in te samel, waarvoor geld ook uit die Helpende Hand-fonds gekanaliseer is. Dit het dit moontlik gemaak om ’n noodvoedingskema, onder andere skoolvoedingsprojekte, aan sowat 3 000 gesinne en indiwidue, ongeag kleur, vir vyf maande te kon volhou (Visser 2008: 324).
Teen 2006 het die Helpende Hand hom toegespits op voedings- (38 voedingsprojekte by skole ten bedrae van R200 000), kleding- en behuisingsprojekte (veral noodleniging in plakkerskampe en skuilings waar hoofsaaklik Afrikaanssprekendes gewoon het); studiehulp aan kinders van Solidariteit-lede; noodhulp aan behoeftige pensioenarislede; bystand aan kinderhuise, ouetehuise, tehuise vir gestremdes en ander diensorganisasies, asook gemeenskapsontwikkeling en bemagtiging. Die Helpende Hand het ook as depot begin dien waar maandeliks duisende rande se skenkings afgelewer is. Die skenkings het onder andere klere, kos en huishoudelike goedere ingesluit. Verskeie bekende akteurs, ander vermaaklikheidskunstenaars en selfs provinsiale rugbyspanne is ook as rolmodelle by die organisasie se fondsinsamelingspogings betrek ten einde ‘n openbare bewusmaking van en betrokkenheid by hierdie welsynsprojekte aan te wakker. So is komberse en voedsel byvoorbeeld met die organisasie se Projek Winterhoop aan hulpbehoewendes uitgedeel (Solidariteit Helpende Hand: 2009; Solidariteit Helpende Hand Nuusbrief 2008: 7; Anon. 2006a: 32-33; Anon. 2006b: 31-32).
In 2007 het die fonds se kinderprojekte ‘n sentrale punt van sy werksaamhede gevorm. Voedselprojekte by skole is tot R300 000 verhoog en klere is onder behoeftiges versprei. Ander bewusmakingsprojekte het gepoog om kinders toe te rus om die werkmark eendag suksesvol te betree, aangesien daar geglo is dat as jongmense die regte beroepskeuses maak, die siklus van armoede verbreek sal kan word. Probleme soos kinderontvoering (spesifiek na aanleiding van die opspraakwekkende Sheldean Human-moordsaak), die beskerming van straatkinders, die opgradering van kinderondervragingskantore by polisiestasies, asook inisiatiewe om prostitute en dwelmverslaafdes te rehabiliteer, het deel gevorm van hierdie projekte (Solidariteit Helpende Hand: 2009; Anon. 2007: 26; Buys 2007: 8,28-29). Teen 2009 sou Solidariteit Helpende Hand die Jeugontwikkelinginstituut tot stand bring om jongmense op nasionale vlak te ondersteun deur middel van opleiding, hulpverlening, bewusmaking, gemeenskapsbetrokkenheid en ontwikkeling in samewerking met kerke, skole en jeugleiers (Solidariteit Helpende Hand Nuusbrief, Jul 2009: 9).
In 2008 is dr. Danie Langner deur die direksie aangestel as uitvoerende direkteur van die Helpende Hand (Langner 2009a: 3). Sy inspirerende leiding sou verdere impetus aan die organisasie se welsynsprojekte verleen. Hernude klem is ook op blanke armoede geplaas. Net in die Pretoria-omgewing alleen het die Helpende Hand-fonds by 38 behoeftige Afrikaanse nedersettings betrokke geraak deur lewensmiddele aan die inwoners te voorsien. ‘n Lofwaardige inisiatief was die Helpende Hand se skooltassieprojek, wat alreeds in 2007 van stapel gestuur en in 2008 na 4 000 skole uitgebrei is, om behoeftige kinders (hoofsaaklik Graad 1-leerders) in skole in die Wes-Kaap en Gauteng van skooltassies met skryfbehoeftes te voorsien. Die openbare bewusmakingsveldtog van hierdie projek was so geslaagd dat dit instansies uit die privaatsektor soos banke en winkels, asook die Voortrekker-organisasie, genoop het om ruim geldelike skenkings daartoe by te dra (Solidariteit Helpende Hand Nuusbrief, Jan 2008: 9-11; Nieuwoudt 2008a: 18; Nieuwoudt 2008b: 24; Kruger 2008a: vi; Kruger 2008b: iv; Kruger 2009: 8).
Soos tydens die 2005 Stilfontein-likwidasiekrisis het die Helpende Hand ook in 2009 by welsynsnoodprojekte betrokke geraak. Die finansiële verknorsing van die goudmynmaatskappy Pamodzi Gold het meer as 4000 werknemers op Welkom, Orkney en Klerksdorp sonder salaris gelaat. Die Helpende Hand het gevolglik ‘n noodfonds gestig om die mees basiese lewensmiddele, soos kospakkies, aan werknemers van die maatskappy te voorsien. Ongeveer 3000 gesinne het daarby gebaat. ‘n Geldinsamelingspoging, deur middel van ‘n telethon, het R1,084 miljoen vir die projek opgelewer (Nieuwoudt 2009a: 52; Kleynhans 2009). Solidariteit Helpende Hand het in April 2009 eweneens ‘n noodprojek vir bruin werknemers van ‘n maatskappy wat motoronderdele vervaardig in Atlantis in die Wes-Kaap van stapel gestuur toe dié maatskappy onder voorlopige likwidasie geplaas is. Kospakkies ter waarde van R15 000 is onder 190 werknemers van die maatskappy versprei (Nieuwoudt 2009b; Solidariteit Helpende Hand Nuusbrief, April 2009: 7).
4. GEVOLGTREKKING
Teen 2009, 60 jaar ná sy nederige ontstaan in 1949, het Solidariteit Helpende Hand gegroei tot ‘n organisasie met 21 personeellede en ‘n streekkantoor in die Wes-Kaap. Vyf-en-twintig Helpende Hand-takke is regoor die land geopen om maatskaplike probleme op groter skaal aan te pak (Langner 2008: 20; Langner 2009a: 3). In ‘n era van gebrekkige dienslewering vanaf die kant van die staat, ook wat welsynsdienste betref, kan die Helpende Hand spog met omvangryke en prysenswaardige privaat-geïnisieerde welsynsprojekte. Solidariteit Helpende Hand se verklaarde doelstellings behels onder andere dat dit ‘n toekomsgerigte organisasie is wat vanuit ‘n Christelike waardesisteem werk aan kort- en langtermyn oplossings om die armoedesirkel te verbreek. Daarby wil dit Afrikaanse gemeenskappe in staat stel om oplossings te vind vir die maatskaplike nood in hulle omgewings (Solidariteit Helpende Hand Nuusbrief, Feb 2008: 3).
Solidariteit se filosofie en pragmatiese benadering tot welsynsorg word miskien die beste verwoord deur die vakbond se hoof uitvoerende beampte, Flip Buys, wat van mening is dat dit nie help om net te kla of bekommerd te wees oor die brandende sosiale en welsynskwessies van gemeenskappe nie. In plaas daarvan om ‘n welsynstaat te word en van staatswelsyn afhanklik te wees, moet mense eerder bemagtig word. Die oplossing lê in selfdoen (Buys 2006: 9; Ferreira 2009: 17). In hierdie opsig het die Helpende Hand dus getrou gebly aan sy oorspronklike selfverheffende welsynsroeping.
Bibliografie
Albertyn, J. (et al) 1947. Die Stadwaartse Trek van die Afrikanernasie. Referate en Besluite van die Volkskongres. Jonannesburg: NG Kerk.
Albertyn, J. (red.) 1948. Kerk en Stad. Verslag van Kommissie van Ondersoek oor Stadstoestande. Stellenbosch: Pro Ecclesia.
Anon. 1939. Referate, Besluite en Presensielys. Ekonomiese Volkskongres. 3, 4 en 5 Oktober 1939. Bloemfontein: FAK.
Anon. 2006a. Wiele vir Helpende Hand. Solidariteit Tydskrif, (2): 32-33.
Anon. 2006b. Helpende Hand betrek bekendes by Winterhoop. Solidariteit Tydskrif, (3): 31-32.
Anon. 2007. Kerse teen Dwelms en Prostitusie. Solidariteit Tydskrif, (1): 26.
Buys, F. 2006. Solidariteit se Antwoord. Solidariteit Tydskrif, (3): 9.
Buys, F. 2007. ‘n Jaar van Gee. Solidariteit Tydskrif, (6): 8,29.
Cronje, K.P. 1997. Help die Helpende Hand om ons mense te help. MWU Nuus, November 1997, 10.
Davenport, T.R.H. 1987. South Africa. A Modern History. Johannesburg: MacMillan.
De Kock, L. 1983. Die Stryd van die Afrikaner in die Suid-Afrikaanse Mynwerkersunie aan die Witwatersrand, 1936-1948. Johannesburg: Randse Afrikaanse Universiteit (M tesis).
Die Mynwerker, 1949-1950, 1952, 1955, 1957, 1971, 1981, 1983-1984, 1986. Pretoria: Solidariteit.
Dommisse, E. 2005. Anton Rupert. ‘n Lewensverhaal. Kaapstad: Tafelberg-Uitgewers.
Du Plessis, E.P. 1964. ‘n Volk Staan Op. Die Ekonomiese Volkskongres en Daarna. Kaapstad: Human & Rousseau.
Ehlers, A. 1986. Die Helpmekaarbeweging in Suid-Afrika: Die Storm- en Drangjare, 1915-1920. Stellenbosch: Universiteit van Stellenbosch (M tesis).
Ferreira, A. 2009. Change of style, but not of heart. Sunday Times, 8 March, 17.
Giliomee, H. 2002. ‘Wretched folk, ready for any mischief’. The South African state’s battle to incorporate poor whites and militant workers, 1890-1939. Historia, 47 (2): 605-619.
Hermann, D. 2007. Ons sal kan doen met R2 miljoen. Solidariteit Tydskrif, (1): 10,26.
Jordaan, S.P. 1979. J.D. Kestell – Sy Lewe en Werk 1912-1941. Bloemfontein: Universiteit van die Oranje-Vrystaat (D. Phil studie).
Katz, E.N. 1976. A Trade Union Aristocracy. A History of White Workers in the Transvaal and the General Strike of 1913. Johannesburg: African Studies Institute.
Keegan, T. 1987. Rural Transformation in Industrializing South Africa. The Southern Highveld to 1914. London: Macmillan Press.
Kleynhans, J. 2009. Solidariteit stig Welkom-noodfonds om verligting vir Pamodzi-werknerms te bring, www.solidaritysa.co.za/Tuis-Mediaverklarings [27 Maart 2009].
Kruger, C. 2008a. Helpende Hand gee tassies by sinkhuisies. Rapport, 30 Nov, vi.
Kruger, C. 2008b. Vories steek ook helpende hand uit. Rapport 7 Des, iv.
Kruger, C. 2009. Bankgroep skenk groot bedrag vir skooltassies. Rapport, 8 Feb, 8.
Langner, D. 2008. Helpende Hand gee vir oud en jonk in 2008. Solidariteit Tydskrif, (5): 20.
Langner, D. 2009a. Memorandum.
Langner, D. 2009b. Helpende Hand stel multimiljoen beursplatform bekend. Solidariteit Helpende Hand Nuusbrief, Sept 2009, www.helpendehand.co.za [31 Augustus 2009].
Macmillan, W. 1930. Complex South Africa. An Economic Foot-note to History. London: Faber and Faber Limited.
Makino, K. 2004. Social Security Policy Reform in Post-Apartheid South Africa. A Focus on the Basic Income Grant. Durban: Centre for Civil Society Reseach Report No.11.
McKendrick, B.W. 1988. The development of social welfare and social work in South Africa. In: McKendrick, B.W. (ed) Introduction to Social Work in South Africa. Pinetown:Owen Burgess Publishers.
Morrell, R. (ed) 1992. White but Poor. Essays on the History of Poor Whites in Southern Africa 1880-1940. Pretoria: Unisa.
Mynwerkersunie. Notules van die Uitvoerende Bestuur, 1942, 1950-1951, 1953, 1970, 2001. Pretoria: Solidariteit.
Mynwerkersunie. Notules van die Algemene Raad, 1971, 1984, 2002. Pretoria: Solidariteit.
Naudé, L. 1969. Dr. A. Hertzog, die Nasionale Party en die Mynwerkers. Pretoria: NRT.
Nienaber, P.J. 1946. Dr. J.D. Kestell. Vader van die Reddingsdaad. Bloemfontein: Nasionale Pers Beperk.
Nieuwoudt, I. 2008a. Wit armoede erger as in 1930’s. Solidariteit Tydskrif, (2):18.
Nieuwoudt, I. 2008b. Klein tassies bewaarheid groot drome. Solidariteit Tydskrif, (5): 24.
Nieuwoudt, I. 2009a. Duisende vind baat by Pamodzi-projek. Solidariteit Tydskrif, (4): 52.
Nieuwoudt, I. 2009b. Solidarteit Helpende Hand begin met noodprojek vir werknemers van Atlantis Forge, www.solidartysa.co.za/tuis-Artikels [17 April 2009].
Oberholster, A.G. 1982. Die Mynwerkerstaking Witwatersrand 1922. Pretoria: RGN.
Patterson, S. 1957. The Last Trek. A Study of the Boer People and the Afrikaner Nation. London: Routledge & Kegan Paul Ltd.
Pauw, S. 1946. Die Beroepsarbeid van die Afrikaner in die Stad. Stellenboch: Pro Ecclesia.
Potgieter, D. W. 2008. Wittes se stil stryd teen armoede. Solidariteit Tydskrif, (2): 11.
Sachs, S. 1952. The Choice Before South Africa. London: Turnstile Press.
Solidariteit Helpende Hand. 2009. Wie is ons?, www.helpendehand.co.za/?page_id=5 [12 Februarie 2009].
Solidariteit Helpende Hand Nuusbrief Jan 2008. Skooltassieprojek, www.helpendehand.co.za [12 Februarie 2009].
Solidariteit Helpende Hand Nuusbrief Feb 2008. Hoekom ‘n Helpende Hand?, www.helpendehand.co.za [25 Maart 2009].
Solidariteit Helpende Hand Nuusbrief April 2009. Solidariteit Helpende Hand begin noodprojek vir werknemers van Atlantis Forge, www.helpendehand.co.za [13 Mei 2009].
Solidariteit Helpende Hand Nuusbrief Jul 2009. Solidariteit Helpende Hand stig Helderberg-tak, www.helpendehand.co.za [23 Julie 2009].
Stals, E. 1978. Afrikaners in die Goudstad. Deel I 1886-1924. Kaapstad: HAUM.
Van der Berg, S. 2002. Issues in South African Social Security. Stellenbosch Economic Working Papers, 1. Stellenboch: Department of Economics & Bureau for Economic Research, University of Stellenbosch.
Van Jaarsveld, F.A. 1982. Die Afrikaners se Groot Trek na die Stede. Johannesburg: Perskor.
Van Onselen, C. 1982. Studies in the Social and Economic History of the Witwatersrand 1886-1914, II, New Nineveh. Johannesburg: Ravan Press.
Visser, W.P. 2008. Van MWU tot Solidariteit. Geskiedenis van die Mynwerkersunie, 1902-2002. Pretoria: Solidariteit.
Yudelman, D. 1983. The Emergence of Modern South Africa. State, Capital and the incorporation of Organized Labor on the South African Gold Fields, 1902-1939. Westport: Greenwood Press.
oOo