Die strafregtelike skuldigbevinding en die oplegging van gevangenisstraf van nalatige medici is ’n baie netelige kwessie. Heelwat is al geskryf oor die toename in mediese nalatigheidseise wat gewoonlik in die siviele arena beslis word (SALRC 2017). Hierdie sake het so in omvang toegeneem dat verpligte bemiddeling voorgestel is in ’n onlangse besprekingsdokument van die Suid-Afrikaanse Regshervormingskommissie as ’n alternatief tot litigasie om mediese nalatigheidsgeskille te besleg (SALRC 2021). Hierdie voorstel moet ondersteun word, aangesien die voordele van bemiddeling legio is.