Om Breyten se behendigheid te waardeer, moet 'n mens Ginsberg se America lees - verder ondertoe aangehaal.
Moermikland
(’n ‘vertaling’ van Allen Ginsberg se America)Mzansi ek het jou alles gegee en nou is ek niks
Mzansi hier staan ek oppie stasie en die fluitjie willie blasie
met ’n paar note in die hand die 17de September 2010:
ek kan nie my eie gedagtes bekostig nie
Mzansi wanneer gaan ons mense ophou
om mekaar te bedonder?
Steek jou versoening dwars in jou hol op
Ek voel nie so lekker nie, los my uit
Ek sal nie hierdie gedig kan voorlees
voor ek nie reg in my kop is nie
Mzansi wanneer gaan jou wonderwerk gebeur?
Wanneer gaan die reënboog die aarde bevrug?
Wanneer gaan jy kaalgat en geseënd wees?
Wanneer gaan jy afkyk in die spieël van die graf?
Wanneer gaan jy die droom van jou drie Trotskiste eerbiedig?
Mzansi hoekom drup die trane oor jou boeke in dooie biblioteke?
Mzansi wanneer gaan jy eiers uitvoer Indië toe
Toe toe toe?
Ek is gatvol vir jou polities korrekte gehabbahabbahabba
Wanneer sal ek by die Somaliër op die hoek varkpootjies kan koop?
Mzansi dis after all jy en ek wat in sonde
ontvang en gebore is
en nie die amakwere agter die bult nie
Jou gesteel maak my tiete stomp
Jy het my verbitter tot ’n preutse oujongwyf
Daar moet ’n ander manier wees om ons toekoms gelyk te maak
Lewis Nkosi naai vir Ingrid Jonker in die hemel
goeie genade op ritme van vuvuzelas en penniefluite
en dis nie te sê nie
Skiet jy kak met my of trek jy net my been
om by my beursie uit te kom?
Kyk ek probeer ’n punt maak hier
Ek het jou my identiteit gegee in ruil vir ’n lensiepot woorde
Mzansi moenie my gharra nie ek weet wat ek doen
Mzansi die perskebloeisels val soos trane uit die boeke
Ek lees al lankal nie meer koerante nie, elke dag
se gatbiljet is hoeka besmeer
met moord en doodslag en roof en skinderstories
Mzansi ek is nostalgies oor Radio Lourengo Marques se nagnuus
van verre hawens
Mzansi ek mis vir Pieter Blum
Mzansi ek was ’n kommunis toe ek jonk was
en ek is dit nog steeds
Ek trek my daggaskywe soos voëlsang deur tuitlippe
Ek sit dae lank en kyk na die kakkerlakke in die koskas
en die wonde soos rose oor die gesigte van ons kinders
In die townships word ek dronk en geghapzella
My verstand is helder hier kom maatemmers stront
Jy moes gesien het hoe ek Marx verslind het
My kopdokter dink ek is so reg soos ubuntu
Ek sal nie die Onse Vader opsê nie
Ek sien gesigte en droom drome en die kosmos is ’n vibrator
wat my orgasmies laat tril
soos ’n muis wat kieswaterend kaas ruik
Mzansi ek weet nie waar my mense vandaan kom nie
Ek spreek jou aan soos ’n issue of ’n sneesdoekie
Gaan jy toelaat dat jou gevoelslewe ingeprent word deur Huisgenoot?
Ek verlustig my in die anonieme varke
wat mekaar op LitNet beswadder
Ek kan my oë nie afhou van die slette
en die poeiersnuiwende gatjieponnerse poepholle
met die gaatjiesonderbroeke nie
Ek verslind die politieke gehoer op my televisieskerm
want dit leer my alles omtrent verantwoordelikheid
Besigheidsmense is eerbaar. Adverteerders is opreg
Almal van hulle het inbors behalwe ek
Dit val my nou binne dat ek eintlik Suid-Afrika is
Hier belieg ek myself al weer
Afrika staan teen my op
Ek het nie ’n albino se kans in Tanzanië nie
Ek beter my seëninge tel
My seëninge bestaan uit twee zolle
’n handvol saadknolle studente soos drolle
’n Chinese gebedeboek in my handsak
en ’n malhuis in elke dorp
Ek sê liewer niks van my tronke nie
nóg die horde rondflenteraars wat op drempels slaap
onder die vals lig van neonslagspreuke
Ek het die bordele van Bordeaux van bord tot onderdele verken,
Tangiers
is volgende op my lys
en dan Durbanville
Dis my ambisie om president te word
en alles wat voorkom te streep
al is ek ook ’n wit vrou
Mzansi wat gaan jy ooit verstaan van my klaagsang?
Ek sal aanhou filosofeer soos Jopie Malema
My strofes is so oorspronklik soos sy gedagtes
en meer nog want hulle is almal same size bonghol
Mzansi gee my jou miljoene en ek grou vir jou riole
Mzansi luister na my visioene gespeel op viole
Mzansi bevry Mandela
Mzansi seën vir Skellumbos
Mzansi salf Gorka se voete
en straf die predikante wat soos pikkewyne
hul pikke tugtig en hul pyne koester
Mzansi ek loop met die tjap van die Americans
Mzansi toe ek sewe was het my ma-goed my gevat
na die comrades se vergaderings
waar hulle ons soetkoek en rietkluitjies verkoop het
teen ’n rand ’n droom, maar die toesprake was verniet
Almal was engele almal het gesnik
oor die lot van die werkers jy het geen
idee hoe moreel die bevrydingsbeweging
in 1835 was nie Bram Fischer was ’n goeie
ou Boer ’n regte mensch Mamma Madikizela
Afrika het my laat huil en De Klerk se kruin
het geglim van onkreukbaarheid
ek het geweet ons is die uitverkore volk
elkeen was waarskynlik ’n spioen
Mzansi jy wil nie regtig oorlog maak nie
Mzansi dis daai vervloekte Nigeriërs
Daai Nigeriërs die Nigerians en die Chinamen
En die Nigeriërs
Die Nigeriërs wil ons heelhuids opvreet
en ons renosters se voorhuide verkwansel
as raat vir die slapsiekte. Die Nigeriërs
is soos die ANC se cadres oor mag
Hulle wil ons karre uit die garage kaap
Hulle wil vir Jozi oorvat. Hulle het nog nooit
van die Freedom Charter gehoor nie.
Hulle wil ons anties
in die voorstede se broekies en spaarboekies hê
Hulle wil die bruid by elke troue en die lyk
by elke begrafnis wees.
That no good
Ugh
Him make Indians learn read
Him need big black xxxxs
Hah
Her make us all pray sixteen hours a day
Help
Mzansi dis genuine ernstig
Mzansi dis wat ek sien
wanneer ek in die glasbal kyk
Mzansi kan dit waar wees?
Ek beter my moue oprol
Dis waar ek wil nie by die Army aansluit
of kondome opblaas in fabrieke nie
Ek is mos anyway bysiende en psigopaties bipolêr
Mzansi ek sit my slap en sensitiewe skouer aan die wiel
van oorsaak en gevolg
om die wa van die wal af in die sloot te help
Gorée, 17 Julie 2010
breyten breytenbach: katalekte
Ginsberg's America