|
Post by cjm on Mar 5, 2017 19:32:20 GMT
Aantekeninge oor die woord “moermikland”Die gedig, moermikland is hier.As ‘n mens “mik” uit die woord haal, dan het jy moerland – waar "moer" (moeder) gesien kan word as teenstelling met "vader" in vaderland. ‘n Meer simpatieke, koesterende tuisland ? – behalwe dat "moer" ook verbind kan word met droesem, afsaksel en die minder positiewe . ‘n Ongemaklike band en teenband van betekenis. Prinsloo meld dat moerland ook dood, verlore of stukkend beteken (“Iemand is moerland toe, iets is moerland toe”). Ek kry dit nie in HAT nie. As ‘n mens nou die “mik” invoeg, dan word die twee woorde “moer” en “land” as te ware in die mik van "mik" gehang. Dit kan ook wees dat daar na die moerland gemik word soos met teiken of aanval. Breyten gebruik die woord “moerland” ook in sy bundel die windvanger, reispapier, 3, as ‘n vaderland of oorsprong: “... mens vra jou af waar is die moerland van hierdie kolonie sterre? ...” Die woord “mik” kan in verband gebring word met Dali wat graag mikstokke/krukke in sy skilderye geskilder het. ‘n Verduideliking daarvan is soos volg (die betrokke skilderye word getoon net na die aanhaling): ... Despite the fact that Dali often claimed to be “to-tal-ly im-po-tent”, there can be no denying that, in some of his pictures at least, he seems to be in the best of form. Atmospheric Skull Sodomizing a Grand Piano (1934, p. 31) is one such case, and viewed from this angle takes on an interesting new light. It should be remembered that, for Dali, a grand piano is female, whereas “musicians are cretins and even super-gelatinous cretins”. A third picture completes the spec- trum of Dalinian sexual performance: The Invisible Harp, Fine and Medium(1932, p. 32), painted after a photograph taken by the painter at Port Lligat, in which Gala can be seen walking away with her buttocks still exposed, while the “erectile, budding head” of the figure in the foreground rests on a crutch as if after coitus. Simultaneously hard and soft, it represents the sexual instinct as in- tellectualized and sublimated by art. The crutch and the monstrous outgrowth of cerebralized sexuality and imaginative intelligence, swollen with vitality, are at the same time symbols of death and resurrection - like the love act itself, which rises again from its own ashes ad infinitum. In Meditation on the Harp (1932- 34, p. 33) the crutch is first and foremost a symbol of reality: an anchor in the ground of the real world which keeps the monstrous burgeoning of sexuality in balance. The crutch is also the symbol of tradition, which upholds essential human values against the earthquakes of individual reactions and collective re- volutions (Jean Bobon). ... Gilles Neret: Dali, p28
Atmospheric Skull Sodomizing a Grand Piano
The Invisible Harp, Fine and Medium Meditation on the Harp
Hierdie laaste een toon ek maar net vir die aantal krukke: Soft Self-Portrait with Fried Bacon
Elders ( die beginsel van stof, nomadismes) gebruik Breyten self die woord “mik” soos volg: (die vermeerdering)in Antwerpen staan die hoere straatlangs geglans in uitstalruimtes van glas soos varsgebakte brode elk met ’n vissie in die mikOp die voorblad van die bundel is ‘n nar met ‘n mikstok wat daarmee ‘n vis omhoog hou: ‘n Mens kan dus “mik” sien as bymekaarkomplek van bene en, in die geval van die vrou, waar lewe te voorskyn kom en plesier gevind word. ‘n Visuele barings-assosiasie, plesiertog en terselfdertyd die negatiewe van moer. Die mik anker dan die uitspattige, oordrewe verbeeldings-assosiasies en gevoelens in die werklikheid – soos met die Dali skilderye. Die vissie is miskien deels ‘n baie aardse verwysing na vroulike geslagsdele, maar die vis is natuurlik ook ‘n Christelike simbool – simbool van die verhewe, goddelike en begeerlike (geloofslewe). Die vis word meermale simbolies in Breyten se gedigte gebruik – miskien in laasgenoemde verband. Die aangehaalde gedig se titel ( vermeerdering), het waarskynlik ook te doen met die Bybelse vermeerdering van visse. So daar is die reeks beelde ineengeweef wat skuil in “moermikland” (die sinkende Suid-Afrikaanse skip) - wat wissellende, uitspattige, groteske, teenstrydige, intense gevoelens en visioene verteenwoordig; gestut, getemper, geteiken en uitgestal in die mik van tradisie en die werklikheid. Ek probeer dit saamvat: (a) Vaderland (b) Moederland (c) Moerland (d) Moermikland
|
|
|
Post by cjm on Mar 8, 2017 5:26:58 GMT
daardie rookpilare oordag en die vuurkolom in die nag van die woestyn dui die krematorium aan dis goed dat alles wat ooit lewe was nou die medegeleefdes se roet en as is in die woestyn om die soete weg te verlig mens wil immers nie afdwaal nie breyten: katalekte, kleinreis
|
|
|
Post by cjm on Mar 9, 2017 7:04:12 GMT
klein reis :27 Okt.- 1 Nov. 2010“ Memory, says Borges, is very much like forgetfulness. It comes into and fades from focus.” Ben Tery
... Die ou digter en die jong digter sit aan tafel, flets lig val oor die donker blad. Pura, die Meksikaanse vrou wat nou byna opgevreet is deur kanker, sy’s so petiet soos ’n verhongerde mossie, net haar oë gloei nog groot van tussen die versreëls kyk in die dood, haar laaste opdrag is om vir haar seun wat ’n baritonsanger is ’n reeks lieder te skryf, het vir die ou digter vertel hierdie jongeling se totale doofheid kom van pampoentjies wat hy op sewejarige ouderdom gehad het. Die ou digter sukkel om die jong digter se uitspraak uit te maak. Hulle speel ’n spel van name, van tye en getye en tradisies en klank gedra deur eeue se gedigte. Hóór die jong digter enigiets? Die name word geskommel en met skreefogies beloer, word triomfantlik soos wenkaarte op die bladspieël uitgepak. “Wie is jou geliefde skrywers?” “Vallejo. Lorca. Szymborska. Mandelshtam. Du Fu . . .” Elke naam bring ’n snoer van verdere name. “Ek gee vir jou twee Russe in ruil vir jou Chinees . . .” “Wie is die digters wat jou aan die skryf sit?” “Ha-ha-ha. Kavafi. Tsvetajewa. Celan . . .” “Vertaal jy self jou verse vanuit Russies na Engels?” vra die ou digter. “Emily Dickinson het deurmekaar geraak met die grammatika, sy kon nie alles in die reëls insper nie,” antwoord die jong digter. “Hou jy van Ritsos en Montale se werk?” vra die ou digter “Dis dalk waar,” antwoord die jong digter. “Maar Borges se verse werk goed in Russies, juis omdat dit so donker is.” “Ken jy die werk van Lucebert?” Sy donker oë is op die ou digter se lippe gevestig asof hy nog nooit ’n mond van naderby gesien het nie. “Ek kom van Odessa. Dis Babel se wêreld. Ek moet alles vóél.” Is daar enigiets wat die jong digter kan hoor behalwe gedigte? Toe die strate glimmend nat is buite in die donker nag lees Ilja Kaminski sy versreeks “Dowe Republiek” voor in die barok teater(t)jie La Bonbonniere waar blou en pienk verf afdop van die lyste se krulle. Eers het Elfi Sverdrup haar vreemde klankkonstruksies soos klonte voorgedra, die brullende opbreek van winde met asem soos ’n duiwel se vloeke uit haar derms en buik totdat dit vasslaan teen die verhemelte. Een so ’n knorknaag in die keelvel kom as dialoog van Inuït-vroue wat met diep asemontploffings wedywer teen mekaar en die een wat eerste lag verloor. Daarna resiteer Michael Krüger die brief wat God in die hemel vir Marx geskryf het om te vra hoe dit gaan en waarmee hy hom deesdae besig hou. Marx hou nie van Bach nie. En nou is dit die groot, lomp, dowe jong Ilja se beurt. Hy buig sy aansienlike bolyf in die losse trui oor die mikrofoon, haal sy bril af en bring die bladsye tot dig aan sy oë. En begin skandeer. “Hy praat nie soos ’n dowe nie,” sê Pura. “Hy verwóórd doofheid.” Aan die begin kan mens nie uitmaak of hy in Russies of Engels lees nie. Sy stem klim soos dié van ’n wenende wolf. En tjank. So het Brodski ook gelees. Dit moet ’n bepaalde Russiese ekstase wees. Vroeër die dag het hy gesê Brodski se raad was dat indien jy in die Empire lewe dit ver van die hoofstad moet wees, by die see. ... Breyten:katalekte, kleinreis
|
|
|
Post by cjm on Mar 11, 2017 10:16:08 GMT
Hierdie is deel van die voorafgaande gedig.
...
die digtersfees
kyk na die digters
hulle kom uit verskeurde lande
met kole in die oë
en neergestuifde skilfers op kraag
en mou, sommige het vlae
van betrokkenheid geviervou
tot die inperking en samevatting
van ’n teks in ’n skraal bundel
wat hulle onder kalklig vanaf ’n kateder sal mompel
vir ’n yl gehoor wat niks verstaan nie
kyk hoe hulle met lomp danspassies
al sirkelende mekaar probeer bekoor
hoe hulle in romantiese verblinding
soek na die verleiding van die ander se lyf
hoe morsig en kortstondig eensaam
is die liefde
luister hoe hulle luister na mekaar
se voorlesing uit verse
asof dit die belangrikste nagnuus is
wat môre vroeg fladderend
sal wegvlermuis tot niks
slaap piekanienie die vee’s in die kraal
kyk hoe vergas hulle mekaar
met gefatsoeneerde klankdrolle,
’n familietwis, ontroue bemindes,
vergete vaders, ’n grepie onderdrukking,
die versugting na stilte in die grond
kyk hoe drink die digters
die drank wat ander betaal
observeer die skeefgetrapte skoene
die liprooisel wat bysiende aangeverf is
hoe hulle op die toilet die blokkiesraaisel
probeer invul van die koerant
wat gratis voor die hotelkamerdeur gelos is
kyk hoe onthou die digters die name
van dese en gene wat laas jaar
nog hier was gekruk op ’n kierie
of laatnag besope en natgepis in ’n gang
kyk hoe belangrik is die digters
elk voor eie spieël
wanneer die gloeilampie swak is
kyk hoe dun is hulle beursies
kyk hoe vernaam neem hulle afskeid
om te verdwyn in ’n reële wêreld
onsigbaar soos bedelaars
met geheime opdragte
wie se stemme nie gehoor mag word nie
|
|
|
Post by cjm on Mar 12, 2017 17:29:22 GMT
Re: versoek om lêplek
Vir die vaders van die dorpie van so ’n dertigtal huise
omtrent twee uur met die sneltrein suid van Parys
in die sentrale hoogland waar die landbou nie ryk is nie -
klein kuddes wit beeste af en toe, skape in die kastanjebome
se skaduwees, miskien rape en kool en sonneblomme somers -
julle sal die plek herken.
Dis met die oog op die klein ommuurde begraafplaas
so ’n halfmyl buite die dorp dat ek vir julle skryf.
Sal julle omgee as ek daar begrawe word?
Ek weet julle ken my nie en my aksent is anders. Maar
ek sien daar is dalk nog plek tussen die vyftig of so grafte,
of miskien onder ’n familiesteen weggevrotte name
bo ’n lappie gat waar die geslagte lankal uitgesterf het?
Ek belowe ek sal my gedra, nie lelik sing Saterdagnagte nie,
my deel bydra vir die wurms en die miere ter wille
van gesoute burgerskap en gesonde vergaan.
Ek sal nie aanlê by julle vroumense nie en saam
met julle vroom wees al kan ek nou nie onthou
uit watter geloof ek stam nie.
Julle sal geen las hê van onwelkome besoek van mense
van kleur met gerwe sewejaartjies of gediggies
of dronk lywe nie.
Ek sal selfs my naam verander om in te pas,
iets met die klank van julle beboste heuwels en middagslapie
wolke, my baard afskeer, die hande laat vereelt,
’n hemp met 'n kraag aantrek en skoene
met stewiger sole dra.
Wil julle dan nie maar oë toemaak
en dit vir die vreemdeling gun
om te verdwyn in julle poort,
om opgeneem te word in julle vergeet nie?
breyten: katalekte, nuwe vluggedigte
Arme Breyten, hy wil nie eers in die dood by ons wees nie.
Dat SA darem nie plek het vir sy kinders nie. Veral in die lig van sy bydrae tot social justice, rasse-harmonie, godsdiensbespotting, Afrikanerbek*kking, en herverdeling. Hy het ons geleer dat losbandigheid 'n bate kan wees en die dooie taal se digterlike uitdrukvermoë skuil in kroeë, hoerhuise en ander paleise.
Kom terug Breyten, alles is vergewe en ons sal dit mis om jou daagliks te vergeet.
Ons sal êrens 'n morsige, vullisbesaaide, lappie grond hê, waar die die township-nagvuil by jou kan slaap en van agter jou gestroopte hopie, treurendes kan aanrand, beroof, verkrag en vermoor. Miskien steel hulle darem nie jou bene nie, maar jy moet maar vinnig opvrot voor die rondloperhonde jou beetkry.
|
|
|
Post by cjm on Mar 14, 2017 16:59:11 GMT
Ek vermoed dat die "oorgang" nie heeltemal was wat die kryger, kameraad en vlugtelinge beoog het nie.
'n Dubbele slag: die kameraad is oor die "blinde grens" en daar is "vodde in die kloof waar die nagtegaal nou treur".
Op 'n intellektuele vlak kan ek met die gedig meeleef, maar nie op 'n emosionele vlak nie.
Ek moet toegee dat daar 'n universaliteit uit straal: Die lewensreis, jeugdige entoesiasme, die slae van die lewe en die verganklikheid van alles, herlewing van ou emosies en gebeure, van vriende wat langs die pad bly lê...
Ek kan dit egter nie help nie: Woorde soos "grens", "oorlog", "trein", "oorgang", "kameraad", herroep die nagmerrie en die verraad.
op pad na die grens
vyftig jaar gelede
het ek ook hierlangs gereis
jonk soos ’n kryger
in dieselfde boemeltrein
na die sneeubevlekte bergkamme
van ’n grens in die nag
toe het dit ook donker geword
en begin reën
en toe reeds was die klere
van die vlugtelinge
wat twintig jaar vantevore
deur bloedmaan nagte beweeg het
op soek na ’n poort
met die oorlog agter hulle
’n brandende stad
vodde in die kloof
waar die nagtegaal nou treur
oor vyftig jaar
sou ek die vergesigte van hierdie oorgang
oor ’n bottel wyn voor herinnering se vuur
getong in die kaggel
met jou wou deel kameraad
maar jy kan nie wag nie
maar jy het die weg berg-op gevind
en nou jy sesduisend myl verder suid
op enkelreis gaan
na waar nag se blinde grens begin
skryf ek my afskeid
as partituur met druppels reën
vir die nagtegaal
4 Mei, Port Bou - Cerbére
Breyten: die beginsel van stof, uitvaart
|
|
|
Post by cjm on Mar 19, 2017 16:46:22 GMT
kroosmy pa slaan molle met sy kierie dood onder die grond die vreksels gun mens mos geen rus nie ons is in ons moer my ma kuier van rusplek tot laaste rusplek met baksels beskuit en vars gesels en sing van die see se redding en lag tot haar brilglasies grys word van wasem my oudste broer sit met sy veggeweer paraat in die hospitaal se sterfsaal hy sal wie ook al skoor wil soek met die olifante, leeus, buffels en tsetsevlieë persoonlik in hul kanondonder skiet ons is in ons moer my aanneembroer neem foto’s van steë en weduwees en drome en ligskaduwees wat nie meer daar is nie en begrawe visse en naelstringe in die ondertuin as wegsitsnoepgoed vir die molle ons treiter mekaar uit voorspookselvrees vir die nie-daar-wees van vergaan se swaksiekte en yling en mik-mik vir wegloop om in die onderdonkerte vry en diep asem te kan gaan haal die dood is immers ’n nimmereindigende reis en ons behoefte aan die troos van bestemming onversadigbaar ons is in ons moer my jongste boetie sit in sy rolstoel in ’n duiwehokkie en staar met oë vol lig na die gefladder van vlerke op die televisieskerm versmoor in ’n sneeustorm en staar die dood ongelowig in die gesig my sussie loop op en af in die straat met Mozart op haar skouer wat die Nagkoninginaria soos ’n operahoer met roekoerkoerborste fluit en sing sy sê: “ja jong, nou is ons almal daar . . .” en “ja jong . . .” aap die voël haar na: daardie papegaai oorleef kind en kraai lag-lag terwyl rookpluime die township op die bult se hemel swartsmeer ek is die digter ek skryf van gister na môredonker die woorde soos moldrome en die vis se solosang ek skryf die letters neer soos linies vleesverorberende miere ek stik die nate en verstik die gate ek ryg die derms uit in portrette van gelate dis my job ek skryf: ons is in ons moer Goeie Vrydag, 2010Breyten: die beginsel van stof, en verder terug in die voue van verheue
kroos is waarskynlik losweg gebaseer op gesinsvermaak deur Marlene van Niekerk. Breyten leen los en vas (in elke geval in van sy jongste bundels). Ek vermoed dat hy doelbewus die band tussen kultuurgoedere hiermee illustreer en dan is 'n mens weer terug ook by Derrida wat 'n soomlose bestaan sonder begin en einde postuleer.gesinsvermaakmy boeta sukkel domduim met ’n ompaar bout-en-moer gryp ’n hamer, slaat verwoed die blink lot kloutjie in die oor. my goeie mamie rasper wortels op die rasper sonder oor, sy troos haar nerfaf kneukels met ’n hallelujaliedjiekoor. my fynbesnaarde suster ruk die bloutes oop - kap beswerend (teen die Niet) akkoord op a-tonale-koord uit haar stokou steinway voort. my gryskopvader stoot grasmasjien teen skuinswal uit knipoog teen die blou-gas (’n oorgewig en bleskop sisyphus) en blaas met elke asemslag: ja, alle gras is gras. ek slaan my oë op en kyk: van héél die godsonmoontlike strawaas hoor die oubaas in die huis daarbo nét ’n saatragoggendse geraas, skud sy kop meewarig, sug sluit sy deure sag en trek sy hortjies dig. Marlene van Niekerk DJ Opperman: Groot Verseboek, Tafelberg, 1990
Daar is 'n skakel vir sisyphus ingevoeg, maar dit is ook die wetenskaplike naam vir 'n soort miskruier.
|
|
|
Post by cjm on Mar 20, 2017 5:31:08 GMT
Oor die voorafgaande gedigte, kroos en gesinsvermaak.
Marlene se gesinsvermaak, kortliks opgesom, beskou die onbenulligheid van ons daaglikse handel en wandel in die algehele opset van dinge - net 'n onbenullige geraas, hoe belangrik dit ook al vir ons self lyk.
Breyten, in kroos, borduur hierop verder en vertel dat ons wanhoop nie net onbenullig is of nie geregverdig is nie, maar ook dat ons wanhoop (en dit waaror ons wanhoop) deur ons self geskep word. Ek baseer die stellings op die afwesigheid van enige regverdiging vir die wanhoop ("ons is in ons moer") in die gedig self. Eerder is daar sprake van disfunksionele mense wat die wanhoop vir hulself skep.
kroos is in 2010 geskryf en 'n mens wonder of Breyten nog so seker is dat ons sterre net in ons self is.
|
|
|
Post by cjm on Mar 29, 2017 17:10:21 GMT
liefling, taal
liefling, ek skryf vir jou in hierdie taal want ek kan my nie daarvan loswoord nie. dis ’n grusame ervaring om in die grafte van voorouers te krap. ek skaam my
hierdie taal, liefling verdwyn in die mond as die laaste smaak van die klippie wat ons gesuig het teen die dors, verdwyn omdat dit in die mond van besoedelde witmense was al het dit ook iets van ’n heelal getong
met skamel woorde wil ek nog ’n laaste keer ons liefde besing van mond tot wond tot genadelose grond. ek skaam my dat ek my nou daarvoor moet skaam
die mond is te geheim om pyn nie te voel nie. ek sal die graf oopkrap en die klippie tussen jou dye begrawe en die laaste spoegie speeksel sluk.
die dood is om nooit weer dors te word nie, my liefling taal
Breyten: die beginsel van stof
'n Paar Opmerkings
"en die klippie tussen jou dye begrawe"
'n Baie intieme gebaar. Die taal word oopgegrawe net om weer begrawe te word. Die klippie is nie meer nodig nie, want die hunkering na die taal ("dors") het met die sterf van die taal tot 'n einde gekom. Soos by paring, word die drang besweer deur "uitstort" van die klippie. Die tydelike oopgrawe kan beskou word as die laaste werke wat nog in Afrikaans gelewer word.
"die dood is om nooit weer dors te word nie"
Breyten is bewus van die nadere einde van sy lewe. Sy uiteindelike dood impliseer noodgedwonge dat hy nooit weer sal hunker na Afrikaans nie.
Terselfdertyd beteken die dood van Afrikaans dat daar niks in steek om te hunker na Afrikaans nie.
|
|
|
Post by cjm on Mar 29, 2017 17:27:35 GMT
Mens huil altyd oor dit wat mens verloor (het), al is dit ook net die toekoms. — Bian Tong
"Aangehaal" deur Breyten in katalekte. Ek is nie belese genoeg om te oordeel of Bian Tong inderdaad bestaan nie, en indien wel, of die "aanhaling" uit sy werk is.
|
|
|
Post by cjm on Apr 2, 2017 16:50:14 GMT
“wie sal staan / die laaste in die baan?”
toe ek by die lesingsaal kom
sien ek hoe koppe in my rigting knik,
’n alleswetende smaal of twee,
hier en daar iemand wat agter ’n hand lag
asof hy weet wat om van die hond in die bos te verwag:
wie dink die mense is ek — dalk Breyten Breytenbach?
met die voorbereiding vir die voordrag om te begin,
terwyl tonge nog sag teen verhemeltes klik
op soek na die soet murg van skinder,
het ek met ’n ingehoue snik
besef dat ek hom jammer kry
maar toe hy op die verhoog begin pronk en praat,
met moeitevolle mompelstommeling ’n saak probeer maak
vir die dubbele ontkenning van betrokkenheid,
toe ek sien hoe hy hom verlaat
op die tweelediging van vergestalting
(en vergeet van die suiwer lig van sing),
hoe hy sukkel om gedagte aan beeld te lap,
het ek besluit dis beter om hom sy eie potjie te laat krap
en ruim genoeg te maak as graf
arme drol / so vol / hol-te uitinge:
laat hom kordaat sy uitleg begaan.
ek gaan nie
in sy plek
probeer staan
Breyten:katalekte
|
|
|
Post by cjm on Apr 5, 2017 21:37:29 GMT
Aantekeninge by “wie sal staan / die laaste in die baan?”Breyten kom 'n lang pad met gedigte waar hy met homself gek skeer of waar hy as toeskouer buite Breyten staan en kommentaar op Breyten lewer. "Bedreiging van die siekes " is bv reeds in 1964 gepubliseer. 'n Mens kan hierdie gedigte bloot as komedie of inkennigheid sien of as 'n vraag: Hoe op dees aarde kan die mens ernstig opgeneem word as hy so verganklik is? Die vraag kom na vore veral in die lig van sy meer onlanges gedigte wat konsentreer op die naderende einde en die dood. Ek dink dit geld vir van sy ander gedigte ook, maar 'n mens moet hom dikwels in konteks met sy ander werk lees: Een gedig in isolasie gee definitief nie altyd sy volle gedagtegang weer nie
|
|
|
Post by cjm on Apr 9, 2017 8:50:48 GMT
maatreëls jy kan nie ’n dronk man ’n pen vas laat hou hy sal aanhou probeer om teen geskiedenis te laveer jy kan nie ’n dronk man voordag die huis uit laat gaan wanneer straatligte nog groen is nie hy sal op die kaai teen die wind staan en bulk jy kan nie ’n dronk man vra om reguit te dink nie hy sal vir jou vertel van knaagdiere in Siberië jy kan nie ’n dronk man in die dorp laat loop waar vrouens lang oë soos slange het nie hy sal struikel oor sy voete en sy woorde en agter die lourierbos in die park met ’n rilling al langs sy rug af gaan pis jy kan mos nie ’n dronk man vra wat is ’n gedig nie hy sal by die venster gesigte trek vir verbygangers en vir jou sê hy soek ’n rymwoord vir knak jy kan nie ’n dronk man glo as hy sê hy het gevlieg nie al is hy vol knoppe en kneusplekke en al wapper daar ook ’n vuil onderbroek aan die vlagpaal bo die stadsaal jy kan nie vir ’n dronk man vra waar is God nie hy sal vir jou sê sy onderbroek is gesteel jy kan nie ’n dronk man op die dak laat werk nie hy sal vir jou sê hy weet alles van die katafoniek terwyl hy kaalgat die mees afgunstige geheime by die skoorsteen af luister en fluister jy kan hom nie uitvra oor die liefde nie want as dronk vryer sal hy steier en vir jou sy hart aanbied soos ’n kardoes vrot tamaties terwyl sy mond nog rooi is jy kan nie dat ’n dronk man jou vertel van sy dooie vriende nie hy het ’n langlem-mes in sy sak jy kan nie by ’n dronk man wil weet wat hy dink van die dood nie hy proes te veel wanneer hy die brood probeer eet jy kan nie vir ’n dronk man laat huil op papier dit word ’n vlieëstrontery tussen trane en snot en ou vlekke wyn hier Breyten: katalekteOnsamehangende gedagtes oor maatreëls
Breyten, of dan die digter, was miskien dronk by die skrywe hiervan.
Ek dink die gedig gaan egter verder as 'n blote gekskeerdery met die manewales van 'n dronk man (oppervlakkig, die doen en late van die digter(s)). Daar is die duidelike preek dat 'n dronk man nie vertrou kan word om sinvolle antwoorde te gee nie. Verder nog, kan hy nie vertrou word met die mees basiese take nie.
Hieruit vloei dat 'n mens jou adviseurs en rolmodelle met sorg moet kies. Implisiet is miskien ook 'n gedagte dat 'n mens van lotjie getik moet wees (dronk?) om 'n dronk man in 'n vertrouensposisie te stel. Wie dit doen is dalk dronker as die dronk man.
So, waarna verwys die gedig se titel, maatreëls? Maatreëls om dronk mense uit vertrouensposisies te hou? Maatreëls om te verhoed dat dronk mense dronk mense aanstel of raadpleeg? Maatreëls om te sorg dat dronk mense enigsins dronk gedagtes die wêreld instuur? Die dronk man begin lyk na die swaksinnige, die idioot wat deur ander idiote geraadpleeg of getaak word.
|
|
|
Post by cjm on Apr 11, 2017 16:33:50 GMT
die begrafnis
Dit is waar ek die kar probeer parkeer het en dat dit nie wettig was nie en wat die polisieman my op attent gemaak het. En dit is waar die polisieman my gevra het wat soek ek hier. En dat ek toe verduidelik het dis vir die begrafnis. Van wie? Van wié, vra jy? Van my swaer. Dit is waar die polisieman ongemaklik sy simpatie wou betuig maar ook gesê het hy het nie geweet van ’n sterfte in hierdie huis nie en hoe lank het my swaer daar gewoon? Dit is waar ek vir hom vertel my swaer is in die nag oorlede. Dit is waar die polisieman gevra het wat my swaer in lewe gedoen het en dat ek vir hom sê besigheid en dit is wanneer hy agterdogtig begin lyk. Watter begraafplaas? Wátter begraafplaas, vra jy? Wessex. Kan dit Wessex wees? Of Arkadi. Dit is waar die polisieman sy kop gekantel het. Dit was ’n geel dag, dit was mooiweer. En wind het in die boomtoppe gesuis. Dit was die regte plek om te wees. Hoe sou ek weet of dit die regte plek was om te wees? Dit is waar ek getoeter het en toe het ’n stoet mense uit die huis gekom en daar was ’n vrou met ’n sluier, sy was krom van verdriet, en twee kinders wat haar regop probeer hou het. En dit is waar die polisieman vir my gesê het ek mag nie daar parkeer nie, en waar is jou swaer? My swaer, sê jy? Ja, dit is waar die polisieman gevra het waar is die doodkis. Moet daar nie ’n lyk wees nie? Dit is waar ek nie kon verduidelik van die mak perd in die huis nie.
Breyten: katalekte
Die perd en die begrafnis
Nie een van die twee bestaan hier nie. Die uitgeslape polisieman het amper geswig onder die gewig van 'n begrafnis. 'n Begrafnis is belangrik genoeg (wel, in die oë van die betrokke polisieman) om wette te verontagsaam, maar daar moet darem 'n lyk wees - al is daar treurendes . Dit is nie iets wat jy sommer net kan reël deur te toet nie. 'n Begrafnis is nie perdekoop nie en jy kan nie perdedrolle vir vye verkoop aan die gereg nie.
|
|
|
Post by cjm on Apr 17, 2017 5:38:19 GMT
Klein reis as stippelkoei van ‘n jaar se weggaan- fragmente en hoe die pampoen vrot geword het
(‘n nostos)
“The poetic fact pre-exists” - Ezra Pound
....
hoe ek vorentoe leun in die kompartement met my hand op haar knieg so asof ek haar sou ken om my ganse lewensverhaal vir haar te vertel, dringend, wie ek is waar ek vandaan kom hoe ek tot hier gekom het ek weet nie, hoe die woorde uit my tuimel en stort terwyl die reis se onverbiddelike onsamehangendheid buite verby die donker nagtreinvenster swiep — gloeilampe soos smeertrane, bosse, klosse dorpies, ’n peillose nag, die stofmaan, duisternis vol lewe, alles wat wieg en skree soos ’n trein se fluit; hoe sy toe ek niks meer oor het om te sê nie en vorentoe leun in die kompartement met my hand op haar knieg so asof ek haar sou ken, nou leeg gebieg met ’n tong wat te veel geword het in die mond en reeds nie meer weet wat was lieg en wat verbeeldingsklanke met die verhemelte en wat die onsamehangende onverbiddelikheid van ’n nag wat verskiet in die niet nie, hoe sy wegdraai van haar afbeelding in die ruit die kombers opgetrek tot aan die skouers van haar knopperige lyf so asof sy bang is ek sal die vere sien, om haar oë so groot soos dié van ’n uil agter die blinde brillense na my te draai en te sê: I’m sorry. You’ll have to come again.
...
Breyten: katalekte
|
|