|
Post by cjm on Oct 30, 2013 4:44:10 GMT
NOTAS GEMAAK BY ’N GESLOTEBAANTELEVISIE - DEMONSTRASIE ‘... en hoewel ons nie die dekadente onderwysstelsel van Amerika nastreef nie, wil ons tog die korrels uit die kaf sif; nie die kind met die badwater weggooi nie ...’ hoor-hoor! Vrystaat! goedgesê! terwyl mobiele t.v.- skerms ingestoot word rewolusionêr en vernuwing bly voortbeier maar word getemper en ontangel deur die behoudende omhelsing van Christelik-Nasionale Onderwys Oom Loot pieker+ verdwaasd oor gesistematiseerde dit gestruktureerde dat differensiasie interkommunikasie dokumentasie, integrasie (hokaai !) aanvaar dan tog dié jargon as ‘in belang van Die Saak’ Ta’ Bellie in die hoek - ‘dertig jaar onafgebroke op dertien deser D.V.’ - beskou die hele affêre as ’n sameswering van die jeug kloek agterdogtig (soos ’n bantam) en kyk met onverbloemde haat na die triumviraat kollege-ou(d)meisies wat hul wysheid ’n geurtjie gee van déjà-vu die programmeerder - regulasie-elegant en kreukeltraag - vul die doek met haar rendement en boetseer die modelklas tot ’n rekwisiet sy jubel oor die spelwoorde heen asof elkeen ’n klein grappie is verkoop haar oudiovisuele produk soos die jongste seeppoeier ‘kyk hoe ons drilwerk kan elimineer deur bloot die past participle te projekteer’ en kruisdoof * met ’n sjabloon# I BRING YESTERDAY I BRANG I HAVE BRUNG Ons kinders dop nog steeds Engels: dit gaan goed met ons volk Stephan Bouwer.* kruisdoof - nie in HAT nie maar ek vermoed dit het ´n betekenis van maniese toegewydheid (of iets in dier voege). [Geredigeer: Lahna het die regte betekenis opgespoor.KRUISDOOF is wanneer die klank van twee bronne, omgewings of tonele, geleidelik met inmekaar vloei of saamsmelt. 'n Suksesvolle kruisdoof kan verkry word wanneer twee klanke min of meer dieselfde tekstuur het, maar tog duidelik verskil, vermeng word. 'n Kruisdoof tussen 'n orkes wat dramatiese musiek speel en 'n rustige waterstroompie kan eweneens suksesvol wees. Veral as die skrywer 'n skrille kontras wil skep. PDF: Op bladsy 9: www.sanlam.co.za/wps/wcm/connect/34b516004ca32e32b3e0bb09ce5fdfab/RSG2010%2BHANDLEIDING%2Bhersien2.pdf?MOD=AJPERES + pieker - kwel, tob, bekommer, met inspaning dink (HAT).#sjabloon - 1 Tekening wat in karton, metaal ens uitgesny is sodat dit nagetrek of nageverf kan word 2 (fig) Konvensionele model, geykte figuur... (HAT). Waarskynlik betekenis 2 hier.
|
|
|
Post by cjm on Oct 31, 2013 7:40:17 GMT
Die eisers
Portrette van die verlede:
ou briewe, kaarte,
Tafelberg oor die see;
hulle het alles gevat,
alles wat ek met die jare
bymekaargeskraap het;
selfs my enkelbed
blootgelê, my toevlug
teen my lot waar mens
met mens en God eindeloos
bly worstel het; my klerekas
sonder klere; hulle
het niks laat bly nie.
Behalwe vir my.
EWS Hammond
Die eisers sluit waarskynlik meer in as net die eisers van die handelsverkeer; moontlik die ongevoellige gemeenskap in sy geheel.
|
|
|
Post by cjm on Nov 2, 2013 5:01:58 GMT
Wederkoms
Opperman het opgegaan,
maar hy keer altyd weer
terug binne die vier
hoeke van ’n gedig.
EWS Hammond
Soos die vorige gedig kom hierdie een uit Doodsteek van ´n diabeet. Op hierdie stadium was Hammond in in ´n inrigting vir diabete en alhoewel dit gesê word dat hy nie sanik oor sy toestand nie, het baie van die gedigte ´n sterk persoonlike en outobiografiese inslag. Dit doen engsins afbreek aan universaliteit daarvan omdat die digter as persoon (soos met die geval van Totius) baie sterk teenwoordig bly.
Opperman het ´n groot rol in sy lewe gespeel (ook as leermeester) en hierdie is ´n treffende huldeblyk. ´n Mens moet dit ook sien as erkenning van die opinie dat Opperman se hand deurslaan in Hammond se gedigte (bo en behalwe dat Opperman voortleef in sy eie gedigte).
Goeie skakel:
www.litnet.co.za/Article/ews-hammond-1944-1999
...
Vyftien jaar na die publikasie van Hamburgers en hotdogs is Edward se tweede digbundel, Doodsteek van ’n diabeet, deur Tafelberg Uitgewers uitgegee. En anders as met sy eerste bundel was die kommentaar en kritiek op die tweede bundel hoofsaaklik gunstig en positief – in so ’n mate dat Edward die Eugène Marais-prys vir 1996 met AHM Scholtz gedeel het.
Riana Scheepers het die bundel as ’n uiters toeganklike en roerende bundel beskou wat handel oor die siektetoestand diabetes en die daaglikse bestaan in ’n verpleeginrigting. Dit was nie vir haar ’n droefgeestige klompie gedigte waarin gesanik word oor ’n siekte nie. Die ironiese titel sê alreeds dat hier uit ’n ongewone hoek gekyk word na persoonlike trauma – en dat dit verwerk word tot ’n kunswerk wat hierdie siekte sal oorleef.
...
|
|
|
Post by cjm on Nov 3, 2013 5:36:35 GMT
Die struggle
Ek is nie tevrede met
hierdie nuwe bedeling nie:
die onrus, die vrees; ek het gedag
alles gaan aanvaarbaar anders wees;
Propaganda van die insulien maak
my net tydelik immuun teen versakings
van die kliere, boikotte en stakings
van die pankreas, hart en niere.
Ek is so bang dat ná die slagspreuke
teen die pyn, die afbreek
en die onluste van die gees
niks ooit weer heel sal wees nie.
Ek het geen weerstand meer
teen dwanggedagtes nie; ek is
so weerloos teen die sinnelose
uitbarstings van die vrees.
Maar weet uiteindelik die stryd
om bevryding is nooit volskryf.
Jy bly ongeneeslik verbonde
aan die vakbond van die lyf.
EWS Hammond
´n Parallele tema dwarsdeur die gedig is politieke kommentaar oor die nuwe Suid-Afrika (´n diabeet!) met die finale gedagte wat beide kante toe werk:
Maar weet uiteindelik die stryd
om bevryding is nooit volskryf.
Jy bly ongeneeslik verbonde
aan die vakbond van die lyf.
|
|
|
Post by cjm on Nov 5, 2013 5:11:14 GMT
Reisjoernaal
Ek wou vir jou
’n blou vaas van
Venesië bring, iets
van mense wat rooi wyn
in die sonskyn drink,
van blonde mense
wat opkyk
na wonderwerke van
berge en sneeu,
iets van die melancholie
van rondvaarte, en meeue in
die mis en vreemde strande:
Net iets om die wyer wordende
afstand te oorbrug.
Maar ek kom net terug:
Gehawend en ontdaan
kom ek met leë hande
voor jou toe deur staan.
EWS Hammond
Magtelose, weerlose, miskende liefde. Die hande is miskien nie so leeg nie, maar vervaal in vergelyking met wat hy voel.
|
|
|
Post by cjm on Nov 6, 2013 5:13:52 GMT
Aanvaarding
My naam is nie
Job nie; al
sit ek hier
in sak en as
en kyk na
'n wêreld wat
eenmaal myne was.
My naam is ook
nie Samuel nie:
Wie roep so:
Eli, Eli, lemá sabagtani? *
EWS Hammond
* Matteus 26:46 46 Teen drie-uur het Jesus hard uitgeroep: “Eli, Eli, lemá sabagtani?” Dit is: My God, my God, waarom het U My verlaat?
Dis nie net Jesus aan die kruis wat so kan roep nie.
|
|
|
Post by cjm on Nov 9, 2013 5:06:19 GMT
Spel makaber
Die suikersiekte is ’n lekker siekte; ek vrot maar net elke dag 'n bietjie meer af:
Miskien sal ek more my voet moet gaan begrawe; hy het die spoor effens byster geraak.
Ons is nou ná al die baie paaie in ’n doodloopstraat. (Dood begin mos by die voete.)
En ek sal, met die een voet in die graf, plegtig verklaar (ek het mos nog ‘n mond):
Jy was ook ’n voorloper net soos Johannes die Doper * (hy het gelukkig kop verloor).
Dan sal ek maar groet: Rus sag, liewe dapper ou stapper, in die donker mond van die grond.
Ek speel maar net: dié afskeid lê voorlopig nog voor; ek het 'n hele lyf oor om so stuk-stuk te verloor.
EWS Hammond
* Johannes die Doper se kop is afgekap.
Hammond is 1999 aan keelkanker oorlede. So onvoorspelbaar is die weë. ´n Mens kan seker baie sê oor hoe die luimige toon die effek van die tragiese verhoog - die glimlag met die stille traan.
|
|
|
Post by cjm on Nov 10, 2013 15:23:31 GMT
Warmbad, Namibië
my prilste herinnering: ’n glansende maan
wat stil uitstyg bo die rand van ons agterplaas
in sy lig sien ek hoedat my dun skadu val
eindeloos deur ’n rotsagtige kil heelal-
daar waar ek staan in ’n landskap van ysterklip
het bedags ’n Namakwa-vrou my opgepas
haar geklik het tóé weerklink in my Afrikaans:
die magneet wat my hier moet vashou ondermaans
die taal wat my laat klou aan die gebarste lip
van Afrika, waaroor hortend ’n koorsasem blaas
Daniel Hugo
Eintlik pateties hoe ons soek na iets om ons bestaan in Afrika te regverdig. Suidwes-Afrika het intussen ook polities korrek Namibië geword want ek twyfel of hy in Namibië gebore is.
|
|
|
Post by cjm on Nov 13, 2013 4:52:31 GMT
Danseur ignoble
Hy tors sy ballerina
met swier en goeie wil -
net jammer dat haar wegdra
sy boude so laat dril.
Hennie Aucamp
|
|
|
Post by cjm on Nov 15, 2013 7:10:51 GMT
Opskrif vir gaste in ’n klooster
Wees in jou eensaam oomblik nog
van hierdie gasvry wens bewus:
vir elke kramp - sy leniging;
vir alle bose winde - rus;
vir die wat traag en langsaam is:
die snelheid van die storm;
en vir die gans-oorhaastiges:
meer vastigheid en vorm.
N. P. van Wyk Louw
|
|
|
Post by cjm on Nov 20, 2013 7:24:02 GMT
Uit: Hoe hulle Afrikaans sou geskryf het
I
Guido Gezelle, Leipoldt, en 'n paar ander: Bommelby, bommelby met jou wit bandelier, Met jou vlerke wat blits in die sonlig en gons, En jou swartpak verguld met blomme se dons, Wat beteken jou singe en wat maak jy hier?
(Resep: Kies een of ander redelose dier uit en vra ham 'n strikvraag wat jy self nie kan beantwoord nie.)
II Die Denkende Stommes: My siel is so groot soos die oseaan, Die grootste gedagtes die spook daarin om, Te groot vir woorde, my muse is stom, Want waar haal ’n taal sulke woorde vandaan?
(Resep: Maak soos die kinders wat pla: "Ag, ek weet, maar ek sal nie sê nie!")
Toon van den Heever
|
|
|
Post by cjm on Nov 23, 2013 5:17:39 GMT
Ritrympie
Die koeëls die blits dat die klippe so brand - Hoera vir die reuk van 'n roer!- Maar die tien en Jan Pieterse hou daardie nek, Help bewaar ou Transvaal vir die Boer!
" 'n Uur nog, net ene" - 'n uur van die hel!- "As ons maar die nek kan hou, Dan is ons kommando die drif veilig deur!" En hy bid sonder handevou!
Wild en wyd, wild en wyd, Gee die perde maar net teuel en spoor; Jy hoor net daaronder die hoewegedonder, En hierbo fluit die koeëls langs jou oor.
Daar runnik 'n liddiet, ryperd van die Dood, Blits hemel en aarde deureen; Die stof wyk - die mense's die drif veilig deur- By Jan Pieterse leef nog net een.
"Ons trap!" kommandeer hy. Wild en wyd Gee hul perde maar teuel en spoor; Hy hoor net daaronder die hoewegedonder En 'n skreeu - hy's allenig nou oor.
T'rug nou, t'rug deur die vlaag van lood, Sy maat kan hy daar nie laat bly! Al om hom daar gons die lied van die dood, Waar sy sikkel al snerpend sny.
Die gewonde man dwarsoor sy saalboom gelê, Gaan hy stadig en stappend heen, Geen teken van haas, ry as peinsende voort Op 'n stap deur die koeël-gereën.
"Laat staan, hy's 'n held - 'Three cheers' vir die Boer!" Sê die Engelsman, hees in die keel, Die bulte weerklink met vier harde hoera's En die lug word met helmette geel!
Jan Pieterse draai hom sy vyande toe En wuif hulle dank met sy hoed; Al stappend verdwyn hy op die horison daar In 'n raam van die westergloed.
So hoera, vir die klank van stiebeuel en spoor En hoera, vir die reuk van 'n roer! God behoede ons veld van die vreemde geweld En bewaar ons ou land vir die Boer.
Toon van den Heever
|
|
|
Post by cjm on Nov 24, 2013 5:23:59 GMT
7 September 1966
Meneer Boet Botha, die laerskoolprinsipaal,
spreek ons dié oggend toe in die Boet Botha Saal:
“Kinders, ons geliefde Eerste Minister, dr. Verwoerd,
is gistermiddag wreed in die Parlement vermoor.”
Die snik in sy stem laat selfs die sub A’tjies skrik.
“Ter ere van ’n groot staatsman kan julle huis toe gaan.”
Daar styg ’n gejuig op uit 800 kele en ons skoert
onregeerbaar uit die skoolgrond. Die hele dag dwaal
ek deur die windverwaaide strate Van Windhoek:
tot die dood toe verveeld, ter ere van Verwoerd.
Daniel Hugo
|
|
|
Post by cjm on Nov 27, 2013 5:12:59 GMT
Skottelgoedwas
die antie sing bas
kyk hoe hop haar stêrre
so mooi in pas
RK Belcher
|
|
|
Post by cjm on Nov 28, 2013 4:41:31 GMT
Witroes in die blaar dis fienies en dis klaar miskien kom daar ´n moerse oes die een of ander jaar
RK Belcher
|
|