Sprokie van die spikkelkoei Uit holtes van ’n boom
het kuddes vee gekom,
toe kies my broer
die spikkelkoei vir hom.
Ek stoot hom oor ’n krans,
hy val in ’n mik,
toe het ’n kraai
op die spikkelkoei gaan sit.
Smeer vet aan ’n klip,
korrel fyn, moenie kwes,
toe sak ’n duisend vere
noord, suid, oos, wes —
sak ’n duisend kraaie
oor die bloed, oor die klip . . .
O waar sal ek skuil
teen die stippels wat pik?
DJ OppermanMy geleerde kommentaar!!Die ooglopende les van die sprokie is kortliks dat om iemand te vermoor vir sy eiendom, verkeerd is en jou duur te staan sal kom.
Ter ondersteuning hiervan in die westerse literatuur is daar Macbeth, waar sy afguns op Duncan se koningskap en die moord later op hom, nie net uiteindelik tot Macbeth se ondergang lei nie, maar ook felle gewentenswroeging by sy vrou (sy wat die aanhitswerk gedoen het) veroorsaak.
Die spikkelkoei verwys waarskynlik na die Nguni-beesras wat tans nogal gesog is vir sy bont vel. Die Nguni word beskou as 'n inheemse Afrika-ras waarmee die swart volke geboer het. Beeste in die swart kultuur is 'n statussimbool en aanduiding van rykdom. Die slag daarvan speel ook 'n groot rol by hul rituele en godsdiens.
Die swartes is in ons geskiedenis onderwerp deur die blankes en hul vermoë (so word dit verkondig) om op hul eie 'n lewensvatbare bestaan op tradisionele wyse, is ondergrawe.
'n Mens kan dus ook die gedig meer spesifiek lees as 'n aanklag teen die blankes wat hul swart broers se eiendom (grond, beeste, vryheid) begeer en afgevat het. Ook die swartes se kultuur is erg beskadig. In sommige gevalle is die swartes selfs doodgemaak en hul eiendom beslag op gelê.
Daar is dus 'n waarkuwing dat die blankes nooit rus of vrede hieroor sal hê nie. Waarskynlik kan die swart spikkels wat pik aanvalle deur die inheemse volke op die blankes voorstel. Dit kan selfs die blankes se gewete wees wat hul opkeil. Daar word nie 'n oplossing vir die probleem gebied nie. Al oplossing is dat dit nooit so moes gebeur het nie en gevolglik dat gedane sake geen keer het nie.
Vir diegene aan die linkerkant sal dit merkwaardig wees dat Opperman hierdie insig en waarskuwing reeds in die vroeë vyftigs in Afrikaans verwoord het met Afrika-simbole.
Dit word deur Kannemeyer aangedui dat die gedig geskoei is op 'n tipe Kain- en- Abelstorie wat in die swartkultuur gevind word (sien die aanhaling aan die einde van my uitgelese kommentaar).
Terwyl die gedig wemel van verwysings na die Bybel (soos ek later sal aantoon), is daar eintlik geen volkome ooreenstemming met die Bybel nie.
Ek sê so op grond van die volgende:
(a) Kain het wel sy broer, Abel, doodgemaak, maar dit het nie gegaan oor eiendom nie. Waaroor hy op Abel afgunstig was bly eintlik vir my 'n raaisel. Daar is nogal 'n aantal verduidelikings hieroor maar nie een doen vir my weg met God se eie agenda in die storie nie. Kain het ook nie met sy lewe geboet nie. Hy het selfs sy eie grond gekry. Gegewe dat dit die eerste moord was, kan 'n mens nogal bespiegel dat as algemene rigsnoer moord oënskynlik nie teregstelling regverdig nie - maar ek dwaal af.
(b) Die naaste wat 'n mens dalk kom by 'n Bybelverhaal wat die sprokie ondersteun, is die Jakobsage. Jakob besteel Eseau van sy eersgeboortereg, maar hy kom skotvry daarvan af want Eseau word gewaarsku om hom uit te los.
Later gaan werk Jakob by Laban (sy ma se broer). Hier kom 'n mens baie naby aan die sprokie. Laban verwys selfs na Jabob as broer - wat hy eintlik (tegnies) nie is nie. Jakob se vergoeding (ten opsigte waarvan hy, soos in die sprokie, 'n keuse uitoefen) is die swart en spikkel vee wat gebore word. Jakob manipuleer met houtlatte (op God se advies) die aanteel dat meer swart en spikkel vee gebore word as wit vee. Vergelyk met die aanhaling uit die gedig:
Uit holtes van ’n boom (lat?)
het kuddes vee gekom,
...Op 'n stadium wil Laban vir Jakob bykom oor sy suksesse, maar weer word Jakob beskerm.
Ons het dus ook weer 'n Bybel storie wat naby kom, maar nie identies is aan die swart verhaal nie.
Miskien is hier 'n sinspeling op die kloof tussen die wit en swart kulture oor wit teenwoordigheid in, en aanspraak op, SA en sy bates. Nie dat daar nie Bybelse norme bestaan teen moord en afguns op eiendom nie. Hier kan 'n mens verwys na die tien gebooie wat baie duidelik is. Terselfdertyd is Kanaän met God se toestemming en medewerking van die heidene afgevat - soos Jakob belowe is - dis weer 'n argument na die ander kant toe.
'n Lang storie om te sê dat uit 'n westerse perspektief, die sprokie nie so eenvoudig is nie en dat jy die moraliteit anders kan sien as bloot swartes wat uitgebuit word. Het Opperman dit so bedoel? Wie weet. Daar is egter na my mening moeilik sin te pers uit die Bybelverwysings as 'n mens nie die aandui van 'n morele moeras as 'n digterlike mikpunt beskou nie. Die ander uitleg sal net wees dat Opperman maar baie verward in sy beeldspraak was.
Wat verder volg, is kommentaar en opheldering (hopelik) oor sekere beelde in die gedig.
Die mik waarna verwys word,
Ek stoot hom oor ’n krans,
hy val in ’n mik,
...
is waarskynlik 'n mik van 'n skeur in die krans. Dalk is hier ook 'n sinspeling op boom (mik van 'n boom). Die broer sterf dus in 'n mik wat terugverwys na die boom waaruit hy sy beeste gekry het. Terwyl ek uiteindelik besluit het dat die 'hom' verwys na die broer kan dit ook gelees word as 'n verwysing na die spikkelkoei. Dit maak die misdaad nie moord nie, maar bloot eiendomsbeskadiging.
Die eerste vers,
Uit holtes van ’n boom
het kuddes vee gekom,
toe kies my broer
die spikkelkoei vir hom. het vir my 'n baie sterk Bybelse inslag. Die 'holtes' herinner my ook aan Simson se raaisel oor die heuning wat hy in die holte van 'n leeu se geraaamte gekry het. Die 'kuddes vee ', 'boom' (soos reeds gemeld) en natuurlik 'spikkelkoei', herinner weer sterk aan Jakob en Laban.
toe het ’n kraai
op die spikkelkoei gaan sit.Kannemeyer praat van die kraai as 'n ongeluksvoël - wat reg is - maar, die kraai is ook die aankondiger/verklapper van misdaad volgens Oudgermaanse volksgeloof - veral moord- aldus Prinsloo in
Spreekwoorde ('Al moet die kraaie dit uitbring').
Smeer vet aan ’n klip,
korrel fyn, moenie kwes,
...
Dit is interessant dat Jakob se offer aan God by Bet-el die uitgooi van olie op die klip (wat hy die nag as 'n kussing gebruik het (Gen 28)) behels. Die voorbereiding om die kraai vrek te maak behels dus moontlik 'n offer aan God. Daar is dalk ook aspekte van Dawid se slingervel oorwinning oor die Filistyn, Goliat, hier ingeweef. By Bet-el is Jakob, in die droom wat hy die nag gehad het, belowe dat die land aan hom gegee sou word en is hy ingelig oor hoe veelryk, geseënd en voorspoedig sy nageslag sou wees.
Die Voortrekkers het ook gedroom van 'n land wat aan hulle gegee sou word.
VerwysingJ.C. Kannemeyer, Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur 2. Academica, Pretoria / Kaapstad / Johannesburg 1983 p95
...... Hoe verankerd Opperman se
werk ook al in die persoonlike ervaring of die Suid-Afrikaanse werklikheid mag
wees, slaag hy telkens daarin om die besondere, die aktuele en die aardse te ontstyg
en die konkrete met 'n geestelike inhoud te vul. In sy werk word die persoonlike
belewenis volledig getransformeer en die besonderhede van die Afrikaanse veld
(biesie, klip, koppie, vingerpol, kiepersol) omgeskep tot simbole, terwyl die
Afrikaner of Suid-Afrikaner tot Westerling en uiteindelik mens in die lig van die
ewigheid uitgroei. Hoewel sy poësie volledig aards en konkreet is, word die stryd
tussen die hemelse en aardse, tussen die goeie en bose en tussen orde en chaos
gaandeweg die primêre gegewe, soos 'n mens kan aflei uit die bundeltitels
Heilige
beeste, Negester oor Nineve', Engel uit die klip en
Blom en baaierd wat telkens
hierdie twee begrippe polêr teenoor mekaar stel. Daarby word die geskiedkundige
agtergrond nie as blote situering of verfraaiing betrek nie, maar volledig ingespan
in groter motiewe, soos die kringloop van geboorte en dood, die kontinuïteit van
die geslagte, die ewige wisseling van “plek en spelers, en die deureenskuiwing van
verskillende vlakke. Op die wyse kon hy die Suid-Afrikaanse verlede en
problematiek, Middeleeuse bronne of 'n stuk Griekse geskiedenis op so 'n wyse
onthistoriseer en in die hede aktiveer dat dit 'n nuwe geldigheid kry en die
konkrete in 'n ruimer perspektief plaas. Ten nouste hiermee verbonde is die taak
van die kunstenaar. In teenstelling tot Van Wyk Louw se opvatting van die digter
wat as asketiese profeet en geroepene 'n boodskap aan die massa moet bring, sien
Opperman dit as sy taak om die ewige wisseling van vorme en gestaltes noukeurig
waar te neem, feitlik - met 'n opvatting wat aan Keats ontleen is - soos 'n
verkleurmannetj ie homself volkome te vereenselwig met dít waaroor hy wil skryf
en die ewige uit die verganklike, die engel uit die klip te verlos en in die woord vas
te vang. Alhoewel dit onmoontlik is om in die geval van 'n groot skrywer soos
Opperman die hele oeuvre tot 'n enkelvoudige tema te herlei, kan 'n mens tog sê
dat die motiewe van ondergang en verlossing in hul eindelose wisseling en gedaantes
sentraal in sy werk staan, deur die verskillende bundels heen 'n verwikkelde
gesprek met mekaar voer en telkens vanuit 'n ander perspektief belig en sinryk
gevarieer word.
...
p122
...
Alhoewel reeds vroeër as motief in sy poësie aanwesig, vind die besinning oor die kunstenaarstaak, wat ook uit Opperman se kritiese opstelle spreek en in sy beskouing oor ‘Kuns is boos!’ (Wiggelstok) voortreflik saamgevat word, sterker gestalte in
Engel uit die klip (1950), 'n titel waarmee hy andermaal die spanning tussen die goddelike en aardse aandui, nou egter met die aksent op die verlossingsmotief.
Die mededeling op die titelbladsy dat die verse in
Engel uit die klip tussen die jare 1947 en 1950 ontstaan het, is terselfdertyd 'n aanduiding van die minder hegte eenheid wat die bundel as geheel in vergelyking met
Negester oor Ninevé toon. Nie alle gedigte handel dan ook oor die kunstenaarstaak nie. In ‘Paardeneiland’ met sy alliteratiewe verbindings is daar sprake van lewensmiddele wat op 'n ashoop uitgekrap word, terwyl Opperman met ‘Sprokie van die spikkelkoei’ by die Zoeloemotiewe van
Heilige beeste aansluit. In hierdie vers, wat op 'n Zoeloeekwivalent van die Kain-Abel-geskiedenis berus (kyk vir enkele weergawes hiervan Elize Lindes,
Veelheid en binding, p. 106 en ‘Mashilwane en Mashila’ in Marié Opperman se
Die apraak van die vuur), word die verhaaltrant van die sprokie (vgl. die herhaalde ‘toe’ en die imperatiewe in strofe 3) gevolg. Teenoor die spikkelkoei, die begeerde objek wat afguns wek, is die kraai van strofe 2 'n onheilsvoël, terwyl die beplanning van die moord in strofe 3 met beswerende middele (‘Smeer vet aan 'n klip’) gepaard gaan. In plaas daarvan dat die ek die begeerde spikkelkoei en rus vir sy gemoed ontvang, groei die ‘duisend vere’ van die beseerde kraai in 'n verdere uitbou van die gegewe tot ‘'n duisend kraaie’ wat hom in sy wroeging en skuld en vanuit alle windstreke bedreig. Die beweging van die besondere na die algemene wat ons hier aantref, kom ook voor in ‘Klara Majola’, waarin die herhaling van die naam van die gestorwene feitlik 'n inkanterende effek kry wat met stygende meegevoel in die slotstrofe op 'n regstreekse aanspreking uitloop.
...