Post by cjm on Feb 26, 2014 9:17:17 GMT
Lied van die Fascistiese bomwerpers
Aan Petronella
Ons gons uit die blou.
Ons dreun bo die aarde.
Luister! Luister!
Ons is die stem van die nuwe Spanje
en van die nuwe kruistog
in hierdie jaar '37 van ons Liewe Heer
is ons die wit vaandels,
die baniere, die pluime . . .
Ons waai op al die winde.
Ons stroom uit alle oorde.
Ons wapper in triomf
teen die blou balkonne van die lug,
bo die wit terrasse van die hemel;
en ons stem is één kreet
van vreugde en oorwinning:
Lewe Christus, die Koning! *
Ons is mooier as die albatrosse,
ons is witter as die seemeeue,
ons is vinniger as die mens se gedagte:
nog voor julle ons sien,
as julle ons nog skaars gehoor het,
val ons skaduwee op julle,
staan ons hoog bo jul kop,
skiet ons oor jul stad
en van 'n hoogte van twee myl
lê ons ons eiers
in die goue nes van Spanje.
Ons vlerke is dié van die engele,
hoor hoe ruis hulle, hoor hoe druis hulle!
Luister! o luister
hoe sing ons ons lied van liefde,
hoe prewel ons ons vrome gebede.
Want ons is die rosekrans
van die biskoppe en die hoëpriesters.
Ons glip deur hul gebenedyde vingers.
Geduldig ryg hulle ons uit,
tel hulle ons af
en langsaam
die een na die ander
deur die blou kalmte van die dag
val ons swart krale
af na die aarde
op die stede
en die dorpe
en die plase . . .
Want ons, ons is die redding,
ons is die skans, die setel,
die veilige heilige vesting
wit en hoog bo-op die berg se top.
Ons is die stem, die woord van God
wat bom en staal en lood en vlees en bloed geword het:
Lewe Christus, die Koning!
Hoor julle ons lied, hoor julle dit?
Ons vlerke druis dit,
ons motore ronk dit,
ons skroewe soem dit,
ons masjiengewere stotter dit
en ons bomme
bulder dit
soos donder wat dreun
wyd en syd
oor die aarde . . .
Dis 'n nuwe lied
en dis 'n ou-ou lied.
Dis die lied van die wêreld,
dis die lied van die mens.
Die Pous sing saam
en al die rykes van die aarde,
die uitskot van Europa
in ons Vreemdelinglegioen
en die More uit Marokko
waarheen ons hul verdryf het
na sewe eeue van verdrukking
in die naam van die Verlosser,
en wat ons nou weer terugbring
in die naam van die Verlosser.
Hoor julle dit? o hoor julle dit?
Hoe die lied klim en klim `
hoër, al hoe hoër
soos duisende leeurike
styg na die son;
hoe dit groei en swel,
groei en swel
soos 'n koor
van siters en skalmeie,
luider, al hoe luider
tot oplaas dit die ganse hemel vul,
'n golf, ”n stroom, 'n vloed van klank
wat soos 'n wolk van wierook rol
tot teen die wit troon aan
van God, die Allerhoogste,
'n jubellied, 'n lofsang
met ėėn aanhef slegs,
ėėn tema,
één refrein:
Lewe Christus, die Koning!
Want ons is die sprinkaanplaag van God,
die gésel vir die ongelowiges.
O kyk na ons, kyk na ons,
hoe ryk ons is en hoe geseën:
ons staan, verheerlik, teen Sý Hemel,
Hy bekroon ons met die stralekrans van Sý lig,
silwer op ons vlerke skitter die son!
Ons kom oor die oop see,
oor die goue vlaktes en die grys sierras.
Uit Palma de Majorca en Burgos,
uit Duitsland en Italië
swewe ons in swerms
en swart en skoon
skuif ons skaduwee
oor die grond.
O hef jul gesigte na bo
vanwaar jul hulp sal kom.
Kyk na ons! O kyk na ons
met jul wit verwonderde gesigte
waar jul sit gepak in jul trems,
waar jul loop deur die strate van jul stad,
waar jul drentel Sondagmôrens
oor die pleintjies van jul dorp in die son
of onder die koel platane
afstap langs die alamédas,
waar geskaar om die gloriėtas
julle stil en bedees
luister na die musiek
van die skoenmakersgilde.
Kyk na ons, kyk na ons!
Julle wat die rooi lemoene
pluk in die boorde.
Julle wat op bruin donkies
mark toe ry deur die wit stof
van die slingerpad oor die berge.
Julle wat buk-buk gaan
al tussen die goue koring
en dan as julle ons hoor,
jul sekels half laat hang
oor die knikkende are
terwyl julle die sout sweet vee
uit jul donker oë.
Kyk na ons, kyk na ons,
sodat julle ons sien
en ons julle sien,
opdat ons julle verdelg
soos onkruid van die aarde!
Want ons, ons is die grys sekels
wat suis en wat suiwer
en die koring skei van die kaf.
Ons is die belofte en die voorspelling
en ons is die vervulling.
Ons is die verskrikking en die straf.
Ons is die vergelding en die toorn van bo,
ons is die basuin van God wat skal
luid uit die goue sale van die son:
Lewe Christus, die Koning!
Ora pro nobis . . .
Bid vir ons! Bid vir ons:
dat ons afstort op die stede
soos arende op hul prooi,
dat ons moed ons nie begewe nie,
dat ons spoed ons nie faal nie,
dat ons motore nie stok nie,
dat die afweergeskut ons nie tref nie,
dat die fabrieksfluite en -sirene
die kinders nie waarsku nie,
dat ons die vrouens oorval
voor hul die kelders bereik,
en dat ons die oop see haal
- waar die visse ons nie kan torpedeer nie -
voor die vliegmasjiene van die vyand
mag opstyg uit die stede
soos brommers uit 'n lyk;
dat ons dan mag terugkyk
hoe die dag daar breek
bo die goue dorpies
en die wit stede
in vlamme feller, woester
as die van die rooidag.
Síc transit gloria mundi . . .
alle vlees is gras.
Te Deum laudamus . . .
Laat ons bly wees! Laat ons bly wees
dat Sy ryk nou kom,
dat ons ryk nou kom,
Sý Koninkryk in die hemele,
óns koninkryk op die aarde:
Lewe Christus, die Koning!
Stort in puin, o hospitale
en skole en klinieke.
Verteer in ons vlamme,
biblioteke en gestigte.
Ons wil julle gelyk maak met die grond
opdat 'n nuwe Spanje
opstyg uit sy as.
En julle wat arm is en nederig,
julle wat gras eet en smeek om brood,
julle wat nie kan lees of skrywe,
julle wat veg
in die sneeu en ys van Teruel,
teen die hange, kaal en koud, van die Somosierra,
in die modder van die loopgrawe voor Madrid,
op die dorre vlaktes van Extremadura,
langs die rooibruin oewers van die Guadalquivír,
in die skroeiende son bo Córdoba,
julle wat veg
vir leie en griffels,
penne en boeke,
sodat julle mag lees en skryf,
sterf, o sterwe
in jul nood en ellende
en seën ons
want jul erf:
die Koninkryk van die Hemele!
Sterf, arbeiders in jul krotte!
Sterf, gitaners in jul grotte!
Sterf, boere sonder grond,
want nou gee ons jul 'n stuk grond:
'n swart gat in die grond
ses voet by drie
as julle gelukkig is.
Sterf, demokrate, republikeine!
Sterf, anargiste, godloënaars!
Sterf, rooi gespuis!
Sterf, Katolieke
wat nie wil saamsing
in ons heilige koor nie!
Sterf, vrouens en kinders
in jul duisende en tienduisende!
Sterf, saad wat nog slaap in die baarmoeders!
Lewe Christus, die Koning!
(Daar hang “n jonkman aan die Kruis,
Hy dra 'n doringkroon.
Sy oë is droewig,
droewer as die reën,
en Sy wonde bloei aanhoudend.
Altyd sonder ophou
drup-drup Sy warm bloed
af op die wêreld.
Wend julle na Hom.
Hy sal verstaan.
Hy sal vergewe . . .)
Sterf, toekoms! Sterf, hoop!
Sterf, liefde en medelye!
Sterf, Spanje!
Lewe Christus, die Koning!
Uys Krige
* Een van die slagkrete deur die Spaanse Fasciste aangehef in hul hardnekkige poging om hul opstand teen die wettige gesag van die Republiek - wat deur die volk gekies is - as 'n "heilige oorlog" aan die wêreld voor te stel. Terselfdertyd het hul vliegtuie, bygestaan deur honderde Duitse en Italiaanse bomwerpers, díe weerlose burgerlike bevolking van Republikeinse Spanje genadeloos gebombardeer.
Bostaande gedig word as van Krige se bestes beskou maar hy word nie hoog aangeslaan as digter nie.
Kannemeyer (p451) se kort opsomming:
....
Die slotafdeling [van Gedigte (1927-1940)] bestaan uit verse wat in 1936-1940 in Suid-Afrika geskryf is. …
Die hoogtepunt van hierdie afdeling is die ‘Lied van die Fascistiese bomwerpers’, wat met sy spot en bitter sarkasme met Leipoldt se ‘Vrede-aand’ vergelyk kan word. Die gedig speel af teen die agtergrond van die Spaanse Burgeroorlog en verwys meer spesifiek na die Spaanse Fasciste, wat daarvan oortuig was dat hulle 'n ‘heilige oorlog’ teen die wettige gesag van die Republiek gevoer het en die weerlose burgerlike bevolking van die Republikeinse Spanje onophoudelik gebombardeer het. Deur middel van klank-, woord- en sintaktiese herhalings, enumerasies, opeenstapeling van verwante sienings en die oratoriese en emfatiese toon (waarby ook die versreël as dikwels afgeronde sin of sinsdeel aansluit) bou Krige hier 'n magtige wrang beeld op van hoe mense in die naam van Christus verdelg word. Die gedig toon 'n duidelike progressie deurdat die aksent aanvanklik op die ‘ons’ val en later toenemend verskuif na die ‘julle’ wat deur die aanvalle bedreig word. In sy beskouing oor die gedig wys J.P. Smuts daarop dat daar met die parentetiese slotgedeelte 'n struktuurbreuk kom deurdat die toon van die spreker verander en Christus regstreeks gebeeld word, terwyl Hy tot dusver ironies aangeroep is. Hierdie perspektiefwisseling bring mee dat dele van die parentese na moralisering klink en dat daar met die aanspreking (‘Wend julle na Hom,’) 'n probleem in verband met die identiteit van die spreker en hoorders ontstaan. Ten spyte van dié struktuurbreuk bly die ‘Lied van die Fascistiese bomwerpers’ een van die felste en wrangste gedigte in Afrikaans...
Krige was kort voor die oorlog self ook in Spanje.
Volgens Eulalia Krige [Krige se dogter]
...
In 1938 skryf Uys aan sy broer, Bokkie: “Ek het ’n gedig geskrywe – ek weet nie of ek dit ’n gedig kan noem nie – maar dis een van die weinig werklik goeie dinge wat ek nog geskryf het. Dis my eerste poging in twee jaar. Dis soos ’n kreet – hees en rou en ontsettend – soos iets wat uit my losgeskeur het . . .”
Die gedig is feitlik ’n beskrywing van Picasso se beroemde skildery oor die verwoesting van die Spaanse dorpie Guernica deur Fascistiese bomwerpers: die perd met wydoopgesperde oë, die skreeuende vrou . . .
Uys het in 1933 in Barcelona en later in Valencia gewoon, waar hy die aanloop tot die Spaanse Burgeroorlog beleef het. Hy het artikels vir Die Burger en Huisgenoot geskryf om aan die lewe te bly. Van hulle is later in sy boek Sol y Sombra gepubliseer.
In “Die skaduwee van die Burgeroorlog”, een van sy sketse, skryf hy:
“Oor alles ’n diep stilte . . . Net af en toe, die dowwe ontploffing van ’n bom in die verte of ’n sarsie skote
– soms net ’n enkele skoot – iewers in die donker stad afgevuur.
“Langsamerhand groei daar ’n treurigheid by jou aan, ’n treurigheid wat baie diep lê, agter jou gedagtes . . .
“Dan glip daar ’n paar sinsnedes wat jy die afgelope week van jou maats of kennisse aangehoor het, deur jou gedagtes soos: ‘Al drenk hulle ook Spanje in bloed . . .’ ‘Dit sal kom! Wie kan dit keer?’ ‘Hoor jy daardie geluid, hierdie stilte vol bedreiging?’ . . . En skielik kry jy ’n beklemmende voorgevoel van die onheil wat hier aan die uitbroei is, en sidder jy asof die trekkie lug nie langer soos ’n warm asem oor jou wange speel nie, maar met yskoue spelde in jou steek.” (3 Mei 1934)
Einde 1935 is Uys terug na Suid-Afrika. Sewe maande daarna het die Burgeroorlog uitgebreek. Ek kan my voorstel hoe hy angstig nuus hieroor verslind het en hoe ontsteld hy moes gewees het toe hy hoor wat in Spanje gebeur.
Die dramaturg en digter Frederico García Lorca het in die eerste maande van die oorlog in Granada by ’n vriend weggekruip en is op 19 Augustus 1936 op bevel van een van genl. Franco se generaals doodgeskiet. Hy was maar 38 jaar oud – ’n mens wonder hoeveel meer hy tot die Spaanse en wêreldletterkunde kon bygedra het as hy bly lewe het.
Uys het ’n menigte van Lorca se gedigte vertaal, onder meer die “Klaaglied vir Ignacio Sanchez Mejias”, sy huldeblyk vir sy stiervegter-vriend wat gesterf het ná ’n bulgeveg. Verskeie van sy toneelstukke is ook deur Uys vertaal, soos Yerma en Huis van Bernarda Alba.
…
Beeld By 2009 10 10
Krige as godsdiens-afvallige was waarskynlik baie sensitief vir die makabere rol gespeel deur godsdiens in die oorlog
Miskien was die betrokke gedig die oorsprong van die doen en late van die pampoen in Breyten se fascistiese pampoen (20/2/14). Die gedig leen homself tot ´n gelykenis van (en kritiek op) die wit regime in Suid-Afrika. Vergelyk die fanatiese godsdienstige ywer, die vele verwysings na 'wit' en die aanval op die burgerlike samelewing.
AF Vorster in ´n MA tesis toon aan hoe Krige se gedig verweef is met Breyten se eie gedig (Taalstryd). Dat Lied van die Facsistiese Bomwerpers dus ´n indruk op Breyten gemaak het, kan nie betwis word nie.
Omdat Breyten daarvan hou om baie van sy gedigte se titels in hakies plaas, die volgende (irrelevante – in huidige konteks) aanhaling uit Vorster se tesis:
1.3.1.
Hakies dui op supplementariteit, iets wat by die
"primêre" teks gevoeg word om dit nader/verder te
om-skryf, 'n "met ander woorde". Maar daarmee word
juis, soos Derrida aantoon, erken dat die teks
"self", die "gedig" wat onder (juis onder - amper
ondergeskik aan!) die titel staan, onvolmaak, on-
voltooi, onaf is. Supplementaríteit, différance,
intertekstualiteit is reeds werksaam tussen titel en
"gedig" :
We weten inmiddels uit ondervinding dat een
titel in Breytens werk de functie van een Derri-
deaans "supplement" vervult, een voor-lopig
samenvatten (gehaald uit na-beschouwing) van de
sporen van alles wat erop volgt en dat er weer
naar terug zal keren. (Brink 1985a: 85)